Die OVK-groep is in verskeie landbougebiede in Suid-Afrika betrokke, en lewer ’n groot reeks produkte en dienste aan sy kliënte. Die groep se veselafdeling is ook die grootste hanteerder van sybokhaar in die wêreld en die tweede grootste wolmakelaar in Suid-Afrika.

Kort voor die einde van ’n uitdagende jaar vir baie Suid-Afrikaners het die tyd aangebreek om OVK se uitblinkers vir 2017 te vereer.

’n Formele toekenningsgeleentheid is op Vrydagaand, 3 November, by die trou- en konferensieperseel Lake de la Vie, op die pragtige Royalstone-landgoed gehou. Dit is ’n 1 000ha wildreservaat in Colleen Glen aan die buitewyke van Port Elizabeth.

Terugblik na ’n bedrywige jaar

Lops Steyn, streekbestuurder vir lewendehawe by CMW/OVK in die Oos-Kaap, was die seremoniemeester wat verseker het dat die program seepglad verloop.

Die mikrofoon het gedurende ’n driegang-maaltyd tussen verskeie OVK-bestuurslede gewissel om terugvoer oor die jaar se insette, suksesvolle projekte, uitdagings soos ’n landwye droogte,  finansiële sake en nuwe aanstellings te gee.

Wallie Weeks het vroeër vanjaar die pos as hoofbestuurder van vesel en lewendehawe aanvaar en met sy gesin na die Oos-Kaap verhuis. Hy het tydens sy spreekbeurt daarop gewys dat daar in die komende jaar baie uitdagings gaan wees, en dat hy daarna uitsien om ’n positiewe bydrae te maak.

In die lig van ’n onstabiele tydperk in die land, met uitgerekte droogtes, het besigheid by OVK steeds ’n opwaartse groeikurwe getoon. ’n Kort oorsig van die finansiële jaarstate het die produsente en aandeelhouers verseker dat OVK ’n bydraer tot die ekonomie en groeipotensiaal van Suid-Afrika is.

OVK se unieke lojaliteitskema, wat verskeie voordele aan produsente bied deur korting op hul maandelikse aankope, was ook ter sprake. Die skema het in 2012 in werking getree en word na ’n aandeelhouerslening-rekening gekrediteer, wat maandeliks gebruik word om aandele in OVK Beherend, of alternatiewelik OVK Bedryf, vir produsente te koop.

Gesogte toekennings

Die oorhandiging van toekennings aan vesel- en lewendehawe-kliënte was die aand se hoogtepunt, en het groot verrassings opgelewer. – Carin Venter, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY