Estimated reading time: 3 minutes
OVK se tweede skaapboerderydag vir vroue, het in Oktober by Pepper Tree in Bloemfontein plaasgevind. Die hoofborg was Engen. Hierdie dag was gemik op vrouens wat meer wou leer oor skaapboerdery en hoe om sekere kwessies in die boerdery te hanteer. Sprekers het op verskillende temas oor skaapboerdery, versekering en boedels gefokus.
Emil Pretorius van Santam Landbou het gesels oor die belangrikheid van volhoubare versekering en het die noodsaaklikheid van brandversekering beklemtoon. FNB se Annemarie Viljoen het gefokus op boedels en hoe om dit reg op te stel.
Lees meer oor die onlangse SAMIC Nasionale Slaglamkompetisie hier.
Oorsake van dierevrektes
Dr Hanré Ferreira van Virbac het die kwessie van haarwurm, holistiese wurmbestuur, en die belangrikheid van immuniteit en dermgesondheid beklemtoon. Volgens haar is haarwurm en bloednier die grootste oorsake van vrektes onder skape. Op goeie weiding kan ’n haarwurm tot twee maande in ’n skaap leef. Daarom is dit belangrik om kampe tussen weidings te laat rus. Dr Ferreira se gereedskapkas teen haarwurm sluit in goeie genetiese seleksie, goeie weiding en goeie spoorminerale.
Ashley Grimsell, tegniese bestuurder en voedingkundige by Voermol, het inligting oor afronding by skape en prolapse by ooie verskaf. Sy het oor die verskillende tipes prolapse en die oorsake daarvan uitgebrei, en klem gelê op voeding. Melkkoors, het sy gesê, is ’n katalisator vir alle ander metaboliese siektes. Die dietary cation-anion difference (DCAD) – die som wat kalium, natrium, swael en chloor in ag neem – by ooie moet óf laag óf negatief voor lamtyd wees om melkkoors te voorkom.
Lees meer oor die onlangse ORV-boeredag hier.
Save the Sheep
Jo-Anne Bester, OVK Vesel se streekbestuurder by Hanover, het oor vesel en die volhoubaarheid daarvan gepraat. Sybil Visagie het op haar beurt gesels oor die organisasie, Save the Sheep, wat in 2017 in Sutherland gestig is. Aangesien voernood egter oor die hele Karoo strek, het die organisasie uitgebrei en intussen al duisende vragte voer afgelaai. Hulle het ook met bemagtigingsprojekte begin, waar boervroue in staat gestel is om ’n inkomste te genereer. – Elené Wessels, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting oor hierdie en komende vroue-skaapboerdae, kontak Christel Basson by christelb@ovk.co.za of 082 775 9207.