Pieter Möller skryf die volgende in ‘n onlangse uitgawe van Veeplaas:

Ek was die afgelope winter- en jagseisoen geseënd om weer tyd in die veld te kon deurbring en die vars plaaslug in te asem. Net om weer in die ooptes te kan stap en Sy skepping te kan waardeer, is ver beter as om by ’n stadion te wees waar die Proteas, Bafana Bafana of die Bokke klippe kou teen minder belangrike spanne soos Bangladesh, Mali of Noord-Ierland.

Dis eintlik ’n gevoel of gewaarwording wat moeilik is om te beskryf aan iemand wat nog nie self daar was nie. Elke oop stuk veld, bos of ruigtes het sy eie bekoring. Of dit nou in die Karoo, Bosveld, Kalahari of Namibië se duine is, dis hemels. Ek dink sulke tye maak dat ons vasbyt en nie wegvlug van die gruwelike Guptas en hul Suid-Afrikaanse vennote nie.

Tydlose helde

Tydens my kuier in die Kalahari en Bosveld het ek saam met ’n jarelange skool- en studentevriend, Gerhard Spangenberg, gekuier toe ons oor ouderdom begin gesels het. Hy kan tereg as die moderne weergawe van John Lennon beskou word. Gee hom ’n kitaar of tromstel, en hy sal jou besig hou met enige musiek van die Beatles tot Van Halen, Cat Stevens en Deep Purple. Hy en sy gesin kan nog so lekker musiek maak om die kampvuur, dat ’n mens sal glo hulle is almal nog in hul middel-twintigs.

’n Rukkie daarna bevind ek my in die Bosveld saam met die wildboer Johan Botha en die legendariese Frik du Preez. Wanneer ’n mens vir Frik sien gholf speel en jag, sal jy nooit sê hy het al 81 somers agter die blad nie. Vlymskerp, met ’n sin vir humor, fikse lyf en ’n talent vir kitaar speel en sing! En iemand wat steeds beter rugby sal kan opdis as ’n paar van die karakters wat deesdae die ovaalbal op die televisie rondgooi of mis vang.

Nog lopende advertensies oor hoe ’n mens jou ouderdom kan geniet, is manne van 60-plus soos Bruce Fordyce en Louis Massyn, wat tussen hulle 75 Comrades-wedlope voltooi het en ’n voorbeeld is vir baie van ons. Hulle bly fiks en gesond, en pak die lewe aan met passie en energie.

Waar is die dae …

Ek dink onwillekeurig aan sommige van deesdae se persone in uniform, seker meestal kantoorgebonde, wat verseker nie meer as tien meter agter boewe sal kan hardloop nie. Waar is die dae toe die gekombineerde span van die SA Magte die byna onoorwinlike All Blacks in ’n rugbywedstryd kon afstof? Die enigste sportsoorte waarin hulle dit seker deesdae sal regkry, is skaak en rolbal.

Ek vermoed ouderdom is in die kop. Ons moet onsself jonk dink. En as ons gesondheid dit toelaat, moet ons dit met gereelde oefening doen. Dis altyd vir my so mooi om ’n bejaarde paartjie te sien stap wat hande vashou en die lewe geniet.

Leer by mekaar

Ons moet ons dalk minder steur aan al die nonsens waarmee ons land deesdae gekonfronteer word. Ons kan eerder meer by mekaar leer deur die lewe te geniet en saam te lag. Die saam huil is seker ook nodig, want dan betoon ons meelewing met ander wat minder voorregte het.

Ek is bereid om hierdie maand daarmee te begin. Ek beplan om van môre af werk toe te stap, eerder as om te ry. En as ek ’n uitstappie na my gunsteling kitskosrestaurant aanpak, gaan ek dit drawwende doen. Ek sal egter ’n taxi bestel vir die terugrit …

En van môre af gaan ek nie meer padwoede toon teenoor bestuurders wat stoptekens as ornamente beskou of rooi verkeersligte as tekens om te jaag nie. En my gunsteling koffieplekkie gaan plek maak vir ’n biertuin, want ek het uitgevind koffie is baie sleg vir ’n mens se gestel. Ek is volstoom op pad na die mooiste, mooiste maand!

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY