Om die 2017 Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, in samewerking met Veeplaas en Stockfarm, bekend te stel, word ’n reeks promosieveilings landwyd gehou. Daar was dus groot opgewondenheid tydens die onlangse nasionale Angora-skou in Willowmore, toe aspirant-afslaers en jong afslaers hul staal op die rostrum kon wys.

Die kammaveiling het op die laaste dag van die skou plaasgevind. Dit wou voorkom asof die Oos-Kaap se jonger garde, insluitende Grootfontein Landboukollege se studente, ietwat aan die skugter kant was om deel te neem. Gelukkig het ’n paar dapper manne besluit om te wys presies waar Dawid die wortels begrawe het, en het hulle die saak met benydenswaardige boere-finesse uitgespook.

Die kompetisie was straf onder die deelnemers, wat deur ’n groot skare belangstellendes aangepor is. Die wenner, Anton Terblanche van Joubertina, het met ’n Toyota-geborgde Dakar-baadjie weggestap.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie was een van die hoogtepunte by vanjaar se nasionale Angora-skou. Op die foto is Marese Bezuidenhout, wat in die onkonvensionele kammaveiling opgeveil is, saam met die wenner, Anton Terblanche.
Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie was een van die hoogtepunte by vanjaar se nasionale Angora-skou. Op die foto is Marese Bezuidenhout, wat in die onkonvensionele kammaveiling opgeveil is, saam met die wenner, Anton Terblanche.

Johan Neethling van Toyota in Oudtshoorn en Carin Venter van Veeplaas het gedurende middagete ondersoek ingestel om onderskeidelik die oudste Toyota-bakkie en die Toyota-bakkie met die meeste houding op die skougronde op te spoor. Die wenners was die Coenrad-familietrust van Aberdeen en Mannetjie Luther van Willowmore. – Carin Venter, Veeplaas

dakar-2 dakar-3

 

 

 

 

 

 

Die Toyota-bakkie met die meeste houding en die oudste een op die skougronde.

Kyk uit vir die Veeplaas– en Toyota-span in jou streek. Kliek hier vir meer inligting oor die kompetisie.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY