Estimated reading time: 3 minutes
Saaiboere in sommige dele van Noordwes is bly oor die goeie reën wat hierdie seisoen geval het, maar hulle het nog opvolgreën nodig om goeie oeste te verseker. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê opvolgreën is veral krities vir gesaaides wat laat aangeplant is. Hy sê in hierdie stadium van die seisoen neem reënval ietwat af in die oostelike na die westelike gedeeltes van die provinsie, maar produsente bly hoopvol en vertrou dat die tradisionele mid-somerreënpatrone nie drasties sal verminder nie. Weiveld het ook tot dusver goed op neerslae gereageer, maar die droër westelike gebiede kan baat vind by opvolgreën.
Mielie-aanplantings
Du Toit sê aan die begin van die reënseisoen het enkele goeie reënbuie in die oostelike (Rustenburg in die rigting van Potchefstroom) en die sentrale gebied (Lichtenburg, Mahikeng, Ottosdal) voorgekom. In die westelike gebied (Delareyville in die rigting van Vryburg) was dit egter nie die geval nie.
Mielies is in hierdie gebiede aangeplant ten spyte daarvan die reënseisoen laat was. Aanplantings is daarna deur hittegolftoestande, wat vir ’n bepaalde tydperk voorgekom het, vertraag. Diegene wat vroeg aangeplant het in die sentrale en westelike gebiede is weens die droogte- en hittetoestande genoop om hul landerye oor te plant en sonneblom is aangeplant. Opvolgreën teen die einde van 2023 het in sekere gebiede diegene wat hul aanplantings voltooi het hoopvol gelaat, maar nie alles in die westelike gebiede is aangeplant nie omdat dit te droog was. Deurlopende stormagtige toestande en haelskade het die situasie verder vererger.
Lees meer oor mielie-aanplanting vir die veeplaas.
Verwagte aanplantings
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se Voorneme-om-te-plant-verslag, wat in Oktober 2023 bekend gemaak is, word die verwagte mielie-aanplantings in Noordwes vir 2024 op 540 000ha mielies beraam. Dít is 16 000ha minder as die vorige seisoen. Nasionale mielie-aanplantings word op 2,637 miljoen hektaar geraam, wat 2% of 50 650ha meer is as die 2,586 miljoen hektaar wat verlede seisoen aangeplant is.
Die skatting vir verwagte sonneblom-aanplantings in Noordwes is 185 000ha en vir sojaboon-aanplantings is dit 140 000ha. Die nasionale sonneblom-oppervlakte word op 729 119ha en die sojaboonoppervlakte op 1,068 miljoen hektaar geraam. Die NOK se finale produksieskatting van mielies vir 2023 word op 16,395 miljoen ton geraam, en Noordwes se verwagte mielie-oes op 2,778 miljoen ton. Dit is die derde meeste mielies gelewer, naas die Vrystaat (7,132 miljoen ton) en Mpumalanga (3,620 miljoen ton).
Die NOK se volgende voorlopige oppervlakteskatting vir somergewasse vir 2024 word vandag vrygestel. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Boeta du Toit by dutoitboeta@mweb.co.za of 018 632 3612.