Thursday, September 12, 2024
HomeAdvertorialsDoeltreffende oplossings vir suurpens by beeste en skape

Doeltreffende oplossings vir suurpens by beeste en skape

-

Estimated reading time: 5 minutes

Suurpens by beeste en skape of asidose is ’n probleem wat dikwels voorkom wanneer diere oor ’n kort tydperk groot hoeveelhede kragvoer inkry, terwyl hulle in die veld wei of ruvoer soos hooi gegee word.

Dit is tipies die geval by voerkrale asook by skape wat mieliereste op afgestroopte lande vreet.

Die grootpens (rumen) van beeste en skape is ’n komplekse stelsel waarin verskillende mikroörganismes soos bakterieë, protosoa, fungi en selfs virusse voorkom. Hierdie rumenmikrobes maak die vertering van voer of weiding in die rumen moontlik, deurdat ’n samestelling van spesies, geskik vir daardie tipe voer, dit laat fermenteer (verteer).

Diere wat in die veld wei se rumenmikrobes bestaan meestal uit selluloseverterende mikroörganismes. Wanneer hulle ’n ander tipe voer soos mielies gevoer word, moet daardie samestelling van spesies dus verander om die nuwe voer suksesvol te fermenteer.

Suurgraad in die rumen

Suurproduserende bakterieë wat stysel verteer, soos Streptococcus bovis en Lactobacillus sp., kom in klein hoeveelhede op natuurlike weidings voor. Studies toon dat suurproduserende bakterieë so min as 0,01% van die bakteriese populasie uitmaak wanneer diere slegs op natuurlike veld wei. Die rumensuurgehalte is dan baie stabiel, met ’n pH-vlak van tussen 6,5 en 6,8.

Die aanpassing vanaf natuurlike weidings na kragvoer is drasties en neem tyd. Indien ’n voer hoog in stysel is, sal die suurproduserende bakterieë baie vinnig vermeerder en groot hoeveelhede melksuur produseer, wat die pH van die rumen na vlakke van 5 of laer sal laat daal. Dit kan tot ’n toestand bekend as suurpens of asidose lei. Skape en beeste moet dus oor tyd aangepas word tot hierdie nuwe voer.

Aanpassing in die voerkraal

In voerkrale word die aanpassing geleidelik gedoen deur die kragvoer aanvanklik in klein hoeveelhede by die ruvoer te voeg en dan stelselmatig te vermeerder oor tien tot 20 dae, waarna die diere vol kragvoer ontvang. Indien dit nie gedoen word nie, kan verteringsteurnisse of asidose ontstaan.

Voerkraaldiere wat asidose ontwikkel, hou gewoonlik op met vreet, groei nie en blaas op, en in erge gevalle kan hulle skielik vrek. Normaalweg is die aanpassingsproses in voerkrale redelik suksesvol, veral as buffers wat die rumen-pH stabiliseer saam met die kragvoerrantsoen gevoer word.

Daar is egter dikwels enkele diere met vreetpatrone wat van die res verskil, en dié diere pas gewoonlik nie goed aan nie. Dus bly die bestuur van asidose in voerkrale ’n daaglikse kopseer en soek navorsers wêreldwyd voortdurend na meer doeltreffende oplossings.

Aanpassing op mieliereste

Op afgeoeste mielielande bly baie mieliepitte agter wanneer daar gestroop word. Skape wat hierdie reste bewei, vreet tipies die pitte eerste en hul dieet bestaan dus vir die eerste twee weke bykans 90% net uit mielies. Omdat die skape van die veld af kom of ’n ander ruvoer gevoer is, is die rumenmikrobes glad nie by die mielies (wat ’n kragvoer is) aangepas nie.

Die gevolg is ernstige asidose met vrektes wat tot 5% kan beloop. By beeste is die probleem kleiner, omdat beeste die mieliepitte nie so doeltreffend van die grond af optel soos skape nie. Beeste pas dus meer geleidelik aan.

Skaapprodusente bestuur die probleem deur eers ’n ruvoer te gee voordat hulle die skape op die mieliereste jaag. Sodoende is die skape nie uitgehonger nie en vreet hulle minder mieliepitte.

Om klein hoeveelhede graan voor die tyd te voer is ook nuttig om die skape te leer om mielies te vreet.

Produkte vir aanpassing

Verskeie aanvullings wat buffers bevat is oor die jare ontwikkel om aanpassing te bevorder. Die gebruik van nuwe tegnologie wat op wetenskaplike beginsels en proefresultate gebaseer is, raak al hoe belangriker vir die suksesvolle aanpassing van herkouerdiere vanaf ’n hoë ruvoer- na ’n hoë konsentraat-/styseldieet.

Megasphaera elsdenii, ook genoem Mega E, is die belangrikste melksuurbenuttende mikroörganisme in die rumens van herkouerdiere. Wanneer herkouers graandiëte gevoer word, vermeerder die Mega E-populasie vinnig tot vlakke wat melksuur dadelik na vlugtige vetsure omskakel en suurpens by beeste en skape tot ’n groot mate verhoed.

Mega E is vandag as ’n doseerbare produk beskikbaar en bevat ’n hoë konsentrasie van lewendige Megasphaera elsdenii. Dosering van diere met Mega E voordat hulle op hoë konsentraat-/styseldiëte geplaas word, help dus om die ontwikkeling van suurpens by beeste en skape te voorkom en aanpassing te vergemaklik.

Let op dat gebruik van Mega E geensins lekke op mieliereste of weimielies vervang nie. Die aanbeveling is steeds om lekke aan skape te voorsien om voedingstekorte te beperk. Mega E vervang ook geen van die nodige inentings wat skape moet ontvang nie. Alhoewel dit die risiko van suurpens dramaties verlaag, is daar geen waarborg dat enkele gevalle van suurpens en gevolglike vrektes nié sal voorkom nie. – Deur dr Johan van Rensburg (BVSc MRCVS), besturende direkteur, ABE Biotech

Lees ander artikels in hierdie reeks:

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rensburg by 082 336 5498 of johan@abebiotech.co.za.

Must Read

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence