Wednesday, December 17, 2025

Oos-Vrystaat Brangusklub – nuus en vooruitsigte vir 2025

Estimated reading time: 3 minutes

Die Oos-Vrystaat Brangusklub het sy Algemene Jaarvergadering (AJV) op 18 Januarie 2025 gehou. Die vergadering, wat by Francolin Creek tussen Heilbron en Frankfort in die Oos-Vrystaat plaasgevind het, het nie net die hoogtepunte van die afgelope jaar in oënskou geneem nie, maar ook ’n blik op die opwindende toekoms gegee wat vir die Brangus-beesbedryf in die streek voorlê.

Nuwe lede en jaarlikse veiling

Volgens Francois Scholtz, voorsitter van Oos-Vrystaat Brangus, was een van die belangrikste agendapunte die verwelkoming en byvoeging van tien nuwe kuddes tot die klub. Die nuwe telers bring nie net vars idees en energie na die klub nie, maar bevorder ook die groei van die Brangus in die streek. Die afgelope jaar het Oos-Vrystaat ’n beduidende toename in die Brangusbedryf ervaar, en die nuwe lede se toetredes is ’n bewys van die toenemende belangstelling in die ras.

Die jaarlikse Oos-Vrystaat Brangusveiling is een van die hoogtepunte van die jaar en vind op 10 Junie 2025 plaas. Dit is die ideale geleentheid vir telers om hulle beste diere aan te bied en dit beloof om ’n suksesvolle gebeurtenis te wees met toenemende belangstelling van kopers en deelnemers. Die veiling bied nie net ’n platform om vee te verkoop nie, maar ook om kennis uit te ruil en waardevolle vennootskappe tussen telers te bou.

Inligtingsdag en beginnerskursus in ’n nuwe formaat

Nog ’n belangrike punt wat tydens die vergadering ter sprake gekom het, was die besluit om die inligtingsdag en beginnerskursus gesamentlik in ’n nuwe formaat aan te bied, wat oor twee dae sal plaasvind, naamlik van 3 tot 4 April 2025 by Mount Olive Genetics te Swinburne. Die klub is daartoe verbind om nie net ervare telers te ondersteun nie, maar ook beginners te help om hul kennis oor die Brangusras te verbeter. Die nuwe formaat sal op meer praktiese en ‘hands-on’-opleiding en raad fokus, sodat beginners betroubare en volhoubare telerspraktyke kan toepas. Die klub is opgewonde oor die potensiaal van die nuwe benadering en hoop om ’n breër gehoor van toekomstige Brangustelers te bereik én te betrek. Meer inligting is later beskikbaar.

Verdere inligting oor die inligtingsdag en beginnerskursus wat die plekaanwysing, lokaal, program, inskrywings, kostes en kursusinhoud betref, sal binnekort beskikbaar wees op die Oos-Vrystaat Brangus se Facebook-blad by https://www.facebook.com/oosvrystaatbrangus/

Toekomstige ontwikkelingplanne

Francois sê die Oos-Vrystaat Brangusklub is besig om ’n positiewe momentum te bou, nie net deur die nuwe lede nie, maar ook deur die klem wat geplaas word op volhoubare boerdery en die bevordering van die Brangusras in die streek. Die klub het verskeie nuwe inisiatiewe en projekte in gedagte wat die toekoms van die Brangusbedryf in die Oos-Vrystaat verder sal versterk.

Met die jaarlikse veiling, formele en informele opleidingsgeleenthede, en ‘n aktief groeiende ledetal, blyk Oos-Vrystaat Brangus besig te wees om ’n leidende rol in die Brangusbedryf te speel. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting oor Oos-Vrystaat Brangus se jaarprogram, belangrike datums, nuusberigte, kursusse, veilings en foto’s van geleenthede, kan alle belangstellendes van die volgende kontakbesonderhede gebruik maak:

Oos-Vrystaat Brangus Facebookblad: https://www.facebook.com/oosvrystaatbrangus/

Inligtingsdag en beginnerskursus: Christopher Sparks 083 701 0029

Oos-Vrystaat Brangusveiling: Andre van der Merwe 082 427 1488

Algemene navrae: Francois Scholtz 082 497 8676

Besoek gerus ook BrangusSA se webblad by https://brangus.org.za/ en FB-blad by https://www.facebook.com/brangussouthafrica

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...