Estimated reading time: 3 minutes
Niel Wilke van die plaas Glentana in Cookhouse in die Oos-Kaap is tydens ’n seremonie wat onlangs by Nampo Kaap gehou is as die wenner van die Melkprodusente-organisasie (MPO) en Nedbank se Rentmeesterskaptoekenning 2023 aangewys.
Díé gesogte toekenning gee erkenning aan melkprodusente wat uitstekende rentmeesters van hul agri-besighede is. Rentmeesterskap spreek volhoubaarheid in ’n wyer konteks aan en sluit aspekte soos die beskerming van ons natuurlike hulpbronne, die regverdige en etiese behandeling van mense en diere, die produksie van ’n veilige en voedsame produk en ’n winsgewende boerdery in.
Die ander finaliste was Dian Landman van die Oos-Kaap, Coenraad Basson van die Wes-Kaap, en Shaun van Huyssteen van KwaZulu-Natal.
MPO se uitvoerende hoof, Fanie Ferreira, het gesê uit die nege nominasies wat ontvang is, was die finaliste uitsonderlik. “Dit was uiters moeilik om ’n wenner uit die vier te kies. Hulle is almal passievol oor wat hulle doen, hulle is toegewyd en die benadering tot hulle personeel is niks minder as inspirerend nie. Op die ou end was dit Wilke se benadering tot personeelontwikkeling wat die toekenning vir hom verseker het.”
Lees meer oor SA Stamboek se onlangse suiweltoekennings.
Eienaarskap vir jouself en jou nageslag
Dit is duidelik dat Wilke passievol is oor die belangrikheid daarvan om ’n omgewing te skep waar elke spanlid ware eienaarskap kan neem van dit wat aan hulle toevertrou is.
Hy glo dat die plaas net soveel aan elke werknemer behoort as aan hom en dat almal saamwerk aan die gedeelde doelwit van besigheidsgroei. “Werknemerontwikkeling is ’n deurslaggewende deel van volhoubare boerdery en dit is duidelik dat Wilke dit suksesvol bestuur,” sê Ferreira.
Kyk hier na ‘n onderhoud met Niel Wilke:
Vir Wilke gaan volhoubaarheid daaroor om ’n rentmeester vir toekomstige geslagte te wees. “Ons rentmeesterskapsreis het begin deur te fokus op grondgesondheid. Optimalisering van ons grondgesondheid het gelei tot beter voer, wat gesonder en gelukkiger koeie tot gevolg gehad het. Dit lei weer tot verminderde koste in terme van insette en vervoer.
“Die finansiële lewensvatbaarheid om volhoubaar te kan boer is dus die grootste, mees onmiddellike voordeel, maar dit gaan oor volhoubaarheid en veerkragtigheid in al sy vorme en die bemagtiging van personeel om werklik vennote in jou besigheid te wees, is deel daarvan.”
Daneel Rossouw is die hoof van verkope vir landbou by Nedbank Kommersiële Banksake. Hy sê dit is die vyfde jaar dat Nedbank hierdie belangrike toekenning borg. Dit strook met die bank se verbintenis tot die versagting van klimaatsverandering.
“Klimaatsverandering is een van die bepalende sistemiese kwessies van die 21ste eeu. Sonder dringende, ongekende optrede en die samewerking van alle belanghebbendes, sal vooruitsigte vir ekonomiese ontwikkeling, voedselsekerheid en maatskaplike welstand na verwagting versleg.
“As ons versuim om klimaatsverandering aan te spreek sal die Afrika-kontinent ’n baie uitdagende en minder voorspoedige toekoms in die gesig staar, aangesien Afrika hoogs blootgestel is aan fisiese impakte en dikwels nie oor die vermoë beskik om daarop te reageer nie.” – Persverklaring, Nedbank