Estimated reading time: 3 minutes
Die gesondheid en prestasie van oorgangskoeie was die fokus van ’n insiggewende suiweldag wat op 1 Augustus deur Kemin aangebied is.
Die hoogtepunt op die program was prof Lance Baumgard van die Departement Suiwelvoeding by die Iowa-staatsuniversiteit se Departement Dierewetenskappe. Hy besit BSc- en MSc-grade in Veekunde van die Universiteit van Minnesota asook ’n PhD-graad in Veekunde van Cornell-universiteit. Dr Baumgard se navorsing fokus op melkbeeste se voeding en metabolisme, met die klem op voeding- en omgewingsfisiologie.
Lees meer oor Kemin se onlangse voerkraaldag hier.
Die beste aanwysers
Gedurende die suiweldag het hy gefokus op die herevaluering van oorgangskoeibeginsels, en die oorsake en gevolge van dermontsteking. Volgens hom kry voedingkundiges dikwels verkeerdelik die skuld vir hiperketonemie en subkliniese hipokalsemie. Dit is waarskynlik eerder ’n bestuurskwessie en inflammasie/ontsteking, en nie ’n voedingkundige kwessie nie. Daar bestaan ’n tendens om dieregesondheid te ingewikkeld te maak, terwyl voerinname en melkopbrengs die beste en maklikste aanwysers van gesondheid is.
Die tradisionele oortuiging is dat verhoogde nie-veresterde vetsure (NEFA), hiperketonemie en hipokalsemie, produksie- en gesondheidsprobleme veroorsaak. Die infusie van ketone of NEFA veroorsaak egter nie negatiewe uitkomste nie. In die natuur wissel ketose in diere voortdurend. Ketone verminder ook nie voerinname nie, anders sou ’n honger dier nie ’n eetlus gehad het nie, meen Baumgard.
Produsente moet slegs hoë ketone behandel as die koei nie in melk kom nie, nie genoeg vreet nie, lusteloos en melancholies lyk, en ’n ligte koors het. Sy raad aan boere is om nie hoë ketone te behandel wanneer die koei goed vreet, ’n hoë melkopbrengs het en geen koors het nie.
Lees meer oor die onlangse Marlow Alumni-boeredag hier.
Toepassing van droëkoeivoeding
Prof Lourens Erasmus het die praktiese toepassing van droëkoeivoeding bespreek. Prof Erasmus het in 2002 as medeprofessor by die Departement Veekunde aan die Universiteit van Pretoria aangesluit, totdat hy in 2022 afgetree het. Sy navorsing is in 68 wetenskaplike joernale gepubliseer.
Hy sê die meeste gekontroleerde navorsing oor oorgangskoeivoeding het die afgelope 25 jaar op die droë koei gefokus. Die meeste studies oor lakterende koeie se voeding begin eers drie tot vier weke ná kalwing. Verskeie studies wat die afgelope tien jaar gepubliseer is, het spesifiek op die voeding van die vars koei gefokus.
Baie van die voedingsaanbevelings vir vars koeie is op ervaring in die veld en beperkte navorsing gebaseer, met ’n paar algemene ‘aanpassings’, insluitend laer stysel, hoër vesel, minder as 0,5kg/dag opgesnyde strooi/hooi, bykomende vet en die strategiese byvoeging van ander voedingstowwe of voerbymiddels soos rumen-beskermde kolien en monensien.
Wat styselvlakke betref, het verskillende studies verskillende resultate opgelewer. Terwyl sommige studies gevind het dat voeding met ’n hoë-stysel dieet in die varsperiode negatief is, toon ander studies dat dit geen verskil maak nie. Die gevolgtrekking is dat studies wat gunstige reaksies op hoër styselvlakke of hoër styselfermenteerbaarheid getoon het, oor die algemeen hoër voer- of neutraalbestande vesel (NBV)-vlakke gehad het.
Hoeveelheid proteïen
Hy sê produsente voer dikwels te veel proteïen in die droëtydperk en te min in die eerste twee tot drie weke van laktasie. ’n Hoër metaboliseerbare proteïenaanbod in die varskoeiperiode het melkproduksie ná die aanvullingsfase in sommige studies verhoog.
Nog ’n bevinding deur prof Erasmus is dat die byvoeging van suiker by suiweldiëte nie die negatiewe uitwerking op rumen-pH het wat ’n mens sou verwag nie. Resultate dui inteendeel op ’n positiewe uitwerking op melkopbrengs. Volgens studies oor die uitwerking van hittestres op die produktiwiteit van melkbeeste, veral in die dragtige tydperk, kan hittestres in hierdie tyd selfs ’n daling in kalwers se geboortegewig tot gevolg hê. – Elmarie Smit, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Daniël van der Merwe, tegniese bestuurder by Kemin, by daniel.vandermerwe@kemin.com.