In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in die komende week. Die volgende artikel is in die Februarie 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer.

“Die Grondeisehof het op 5 November 2015 ’n belangrike uitspraak gelewer oor die kwessie van die aanhou van beeste deur plaasbewoners.

In die saak van Normandien Farms (Edms.) Beperk teen MNJ Mathimbane en andere, moes die waarnemende regter-president van die Grondeisehof beslis oor ’n ingewikkelde hofaansoek van ’n grondeienaar in die Newcastle-omgewing. Die Grondeisehof is versoek om te gelas dat die plaasbewoners, woonagtig op die grondeienaar se plaas, hul lewende hawe wat hulle op die plaas aangehou het moes verwyder, by gebreke waarvan die beeste kragtens die hofbevel deur die balju verwyder sou word.

Die plaasbewoners het in reaksie op die eienaar se aansoek ’n teenaansoek in dieselfde hof geloods om as huurarbeiders verklaar te word in terme van die Wet op Grondhervorming, 1996 (Wet 3 van 1996). Daarmee saam is die hof gevra dat die gedeelte van die plaas waar die plaasbewoners woonagtig is en deur hulle gebruik is as weiding vir hulle lewende hawe, as ’n grondeis onderverdeel word van die res van die plaas en teen regverdige en billike vergoeding aan die eienaar aan hulle in titel toegeken word. Die teenaansoek was daarop gerig om bogenoemde bevel vry te spring.

Deskundige verslae

Die eienaar se aansoek vir die verwydering van die lewende hawe was gegrond op deskundige verslae wat deur weidings- en omgewingsdeskundiges gelewer is. Die verslae het getoon dat die veld waarop die plaasbewoners se beeste loop in ’n baie ernstige graad ernstig oorbewei en beskadig is. In ’n verslag van KwaZulu-Natal se Provinsiale Departement van Landbou en Omgewingsake word verder aangevoer dat die tersaaklike veld tot soveel as 73% bo die bestaande drakapasiteit bewei was.

In wese het beide partye se deskundiges op die ou end ooreengekom dat oorbeweiding die skade aan die weiding veroorsaak het en dat die veld by wyse van ’n rehabilitasieproses van vyf jaar gerehabiliteer moet word. Dit het die drastiese implikasie ingehou dat alle lewende hawe van die plaas en die oorbeweide gedeeltes verwyder sou moes word vir die rehabilitasie-tydperk.

Bykomend tot die aanbevelings van deskundiges oor die probleem van oorbeweiding, het die Grondeisehof die oorbeweiding van die veld oorweeg aan die hand van die bepalings van die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983), ook bekend as die Cara-wet.

Rehabilitasie van veld

Die hof het spesifiek verwys na die oogmerke van die Cara-wet en Regulasie 9 wat ingevolge hierdie wet uitgevaardig is, wat baie uitdruklike bepalings vervat wat verpligtinge op grondgebruikers plaas om weiding te bestuur, weidingsgrond te bewaar en waar beskadiging plaasvind, die veld te rehabiliteer. Die hof het ook verwys ook na Artikel 6(5) van die Cara-wet, waarvolgens dit ’n misdryf is vir grondgebruikers om te versuim om bogemelde verpligtinge na te kom.

Die hof het ook op ’n insiggewende wyse die kwessie van oorbeweiding binne die raamwerk van Artikel 6(3)(b) van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997), oftewel die Esta-wet, gebring. Die bepaling in die Esta-wet wat verblyf op plase reguleer, stel dit duidelik dat ’n plaasbewoner of okkupeerder nie opsetlik en onwettig wesenlike skade aan die eiendom van die eienaar of persoon in beheer van die grond mag aanrig nie.

Belangrike bevindings

Ná oorweging van die toepaslike wetsbepalings het die Grondeisehof die volgende belangrike bevindings gemaak:

  • Dat die grondeienaar, ten spyte van die feit dat die Cara-wet deur die Provinsiale Departement van Landbou afgedwing moet word, ook die reg het om ingevolge die Cara-wet regshulp te vra.
  • Dat die Cara-wet deel is van die wetgewing wat gevolg gee aan die reg op ’n gesonde omgewing in Artikel 24 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996). Die gevolg hiervan is dat die Cara-wet inderdaad ’n spesiale status het, omdat dit landbouhulpbronne beskerm.
  • Dat die plaasbewoners ook ’n plig het om die Cara-wet na te kom indien hulle beeste op plase aanhou en dat weidingsbestuur nie alleen op die skouers van die eienaar geplaas kan word nie

Die hof het in die finale bevel die applikant/grondeienaar gelyk gegee en die bevel vir die verwydering van die beeste verleen.- HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf, Veeplaas Februarie 2016″

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Lees die vorige artikel in die reeks hier.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY