Estimated reading time: 6 minutes
Die grootste beperkende faktor ten opsigte van produksiedoeltreffendheid in skaapboerdery, is mortaliteit onder pasgebore lammers. Veral onder ekstensiewe toestande is 15 tot 20% neonatale mortaliteit nie ongewoon nie en kan selfs hoër in die geval van meerlinggeboortes wees. Een van die grootste oorsake is onvoldoende kolostrum- en melkproduksie van ooie, en lammers wat te klein is met geboorte.
‘n Komplekse onderwerp
Ooimelkproduksie en die fisiologie wat daarmee verband hou, is ’n komplekse onderwerp met vele fasette. Daar is etlike faktore wat melkproduksie en -gehalte beïnvloed waaronder voedingstatus, liggaamskondisie, gesondheid, geboortestatus, omgewingstoestande, watergehalte, genetika en epigenetika, mikotoksiene en parasietlading. Dit lei daartoe dat die identifisering van redes vir swak ooimelkproduksie nie altyd ’n eenvoudige taak is nie.
Daar is egter ’n paar basiese beginsels wat gevolg moet word om te verseker dat ooie hul melkproduksiepotensiaal realiseer en hoë lamoorlewing behaal word. Korrekte voedingspraktyke vorm die grootste deel hiervan.
Uierontwikkeling en kolostrum
Dit is welbekend dat melkproduksie-inisiasie en uierontwikkeling reeds vanaf agt weke voor lam begin. Die laaste vier weke van dragtigheid is veral belangrik in terme van uierontwikkeling; dit is baie uitdagend vir die ooi, aangesien dit terselfdertyd as die vinnige ontwikkeling van die fetus(se) voor geboorte plaasvind. Boonop vind geweldige kolostrumproduksie tydens die laaste week voor lam plaas. Voeding is dus van uiterste belang tydens hierdie laat fase en het ’n groot invloed op melkklierseldifferensiasie en uierontwikkeling. Gevolglik lei korrekte aanvullende voeding tydens laatdragtigheid tot swaarder lammers by geboorte en hoër melkproduksiepeile.
Navorsing het bewys dat onvoldoende voeding tydens laatdragtigheid, kolostrumproduksie met tot 70% kan strem, daaropvolgende ooimelkproduksie benadeel, laktogenese vertraag en die taaiheid van kolostrum verhoog. Veral onvoldoende energie en ‘n tekort aan gehalte deurvloeiproteïen is hoofoorsake van swak kolostrumproduksie en sogenaamde ‘dik biesmelk’. Die gevolg hiervan is dat lammers, wat meestal weens hierdie wanvoeding tydens laatdragtigheid ook ondergewig gebore word, langer neem om te begin drink na geboorte en vir korter tydperke aaneen drink.
Kolostrum en lamoorlewing
Lammers benodig ongeveer 200ml kolostrum per kilogram geboortegewig gedurende die eerste 18 ure na geboorte in matige weersomstandighede. Hiervan moet 25% onmiddellik na geboorte beskikbaar wees. Sou ongure weerstoestande egter heers, verhoog hierdie behoefte met ongeveer 50%.
Afgesien van die belangrikheid van teenliggaampies vir passiewe immuniteit in kolostrum, verhoog die teenwoordigheid van kolostrum in die pens ook die lam se vermoë om sy moeder te herken en versterk dit die bindingsproses. Verdere navorsing koppel ook die druk van die volume kolostrum in die ontwikkelde uier aan beter moedersinstink by ooie.
Dit verduidelik deels die swakker lamoorlewing in die geval van jong ooie wat vir die eerste keer lam, waar swakker uierontwikkeling en laer kolostrumproduksie dikwels die geval is. Hoër kolostruminname is dus sterk gekorreleer met lamoorlewing en -lewenskragtigheid.
Manipulering deur voeding
Weens die snelle groei van fetus(se) tydens die laaste vier weke voor lam en die gevolglike beperking van rumenspasie, is ooie in weidingsgebaseerde stelsels, spesifiek meerlingooie, onder geweldige druk om voldoende voedingstowwe in te neem om aan hul hoë voedingsbehoeftes te voldoen.
Ooie se behoefte aan energie tydens laatdragtigheid styg byvoorbeeld met tot 155 en 220% en die behoefte aan proteïen met 175 en 220%, teenoor die behoefte tydens onderhoud by onderskeidelik enkeling- en meerlingooie (NRC, 2001). Dit noodsaak die aanvulling van gekonsentreerde energie en hoë-gehalte proteïen ten einde optimale fetusontwikkeling en ooimelkproduksie te bewerkstellig. Navorsing het getoon dat die opbou van liggaamsreserwes tydens laatdragtigheid krities is, want tot ’n derde van die ooi se melkproduksie is afkomstig vanaf gemobiliseerde vet- en proteïenreserwes.
Hiermee saam moet optimale kalsium-, fosfor- en spoormineraalvlakke gehandhaaf word om metaboliese steurnisse soos melkkoors te beperk, fetusgroei en ooimelkproduksie te ondersteun, en die gesondheid van die ooi en lam(mers) te verseker.
Verskeie navorsers het bewys dat kolostrumproduksie onder weidingstoestande met 90 tot 185% met graanaanvulling verhoog kan word in vergelyking met ooie wat geen aanvulling ontvang het nie. ’n Oormaat proteïen, spesifiek in die vorm van rumendegradeerbare proteïen, het ’n debatteerbare positiewe effek op kolostrumproduksie. Daar is egter ’n oormaat bewyse dat goeie gehalte deurvloeiproteïen baie positief is vir kolostrumproduksie en vloeibaarheid, indien rumenmikrobe-proteïenproduksie reeds optimaal is.
Navorsing het verder ook bewys dat die teenwoordigheid van voldoende vlakke van essensiële aminosure noodsaaklik is vir verhoogde afskeiding van amilase ensieme deur die pankreas, om sodoende beskikbare stysel optimaal in die dunderm te verteer.
Navorsing en praktyk het oor jare bewys dat kolostrumproduksie en -gehalte met die korrekte aanvulling van gekonsentreerde energie en gehalte proteïen bevorder word.
Die voeding van die ooi tydens die laaste agt weke voor lam, spesifiek die laaste vier weke, is dus uiters belangrik vir voldoende kolostrumproduksie, -gehalte en -vloeibaarheid, asook fetusontwikkeling. Dit alles bied die lam(mers) die beste kans op oorlewing.
Voeding tydens middragtigheid
Die fokus kan egter nie net op laatdragtigheid val nie. Korrekte liggaamskondisie tydens die voorafgaande middragtigheidstydperk is net so belangrik en ooie moet in optimale kondisie gehou word.
Te vet ooie se voerinname daal drasties tydens laatdragtigheid en gee aanleiding tot vele probleme waaronder ketose (domsiekte), asook distokie (vassit van lammers) weens vetaanpakking in die geboortekanaal. Te maer ooie, daarenteen, kom moeilik voor die lamseisoen in optimale kondisie met gevolglike swak melkproduksie en lammers.
Balans is dus die wagwoord en ooie se kondisie moet deurgaans gemonitor word.
Hormone en ooimelkproduksie
Die hormoon, progesteroon, word gedurende die tweede helfte van dragtigheid hoofsaaklik deur die plasenta geproduseer en is verantwoordelik vir die onderhoud van dragtigheid. Om dragtigheid te onderhou, moet progesteroon dus melkproduksie en die gewone hittesiklusse onderdruk. Sodra die ooi geboorte skenk en die plasenta uitskei, daal die produksie van progesteroon.

Die tempo waarteen die hormoonvlakke daal en uit die liggaam verwyder word, is bepalend ten opsigte van melkproduksie. In die geval van oorvet ooie is die daling stadiger weens gestoorde progesteroon in vetweefsel. Ondervoeding, daarenteen, strem die metaboliese verwydering daarvan en dus melkproduksie-inisiasie.
Progesteroon word deur twee meganismes uit die liggaam verwyder, naamlik afbreek en verhoogde bloedvloei deur die lewer. Ongeveer 96% van die progesteroon wat die lewer bereik word afgebreek en deur die mis uitgeskei. Verskeie studies het aangetoon dat graanaanvulling tydens laatdragtigheid en vroeë laktasie, bloedvloei deur die lewer verhoog, progesteroon vinniger verwyder en melkproduksie bevorder. Daarmee saam verskaf graan, veral mielies, wat nie volledig in die rumen gefermenteer word nie, stysel en uiteindelik glukose direk aan die ooi wat dan vir melkproduksie aangewend word.
Voeding vir winsgewendheid
Daar is oorweldigende bewyse dat korrek gebalanseerde aanvulling van graan, rumendegradeerbare proteïen vir mikrobewerking, gehalte deurvloeiproteïen, minerale, spoorminerale en vitamiene tydens laatdragtigheid en vroeë laktasie onontbeerlik vir maksimale lamoorlewing is.
Lees meer wenke vir die voorbereiding van ooie vir paartyd en die lamseisoen.
Daar is verder genoeg bevestiging uit navorsing dat die voeding en bestuur van die ooi tydens dragtigheid en laktasie ook die vrugbaarheid, speengewigte en wolproduksie van haar nageslag beïnvloed. – Alheit du Toit (Pr.Sci.Nat), Feedtek
Vir meer inligting, kontak die outeur by alheit@feedtek.co.za.