Tuesday, March 28, 2023

Onwettige sandmyne: Ramaphosa gevra om in te gryp

Estimated reading time: 3 minutes

Agri SA is bekommerd oor die vinnige uitbreiding van onwettige en ongereguleerde sandmynbedrywighede in die omgewing van die onlangs geproklameerde Musina-Makhado Spesiale Ekonomiese Gebied (SEZ) in Limpopo.

Hierdie aktiwiteite het ernstige gevolge vir die omgewing, voedselproduksie en die behoorlike bestuur van waterhulpbronne in die omgewing. Daarom doen Agri SA ʼn beroep op president Ramaphosa om ’n inter-ministeriële paneel byeen te roep om dringende ingrypings in die aangeleentheid te koördineer en sodoende grootskaalse vernietiging van die omgewing te voorkom.

Die impak van mynbou op landbougrond

Beweerde onwettige mynboubedrywighede deur ongereguleerde artisanale en kleinskaalse myners (ASM) in die opvanggebied van die Sandrivier, ’n sytak van die Limpoporivier (een van Suidelike-Afrika se hoof waterlope) het krisisvlakke vir die landbousektor in daardie provinsie bereik.

Dit blyk dat die betrokke mynmaatskappye en die omgewing-assesseringspraktisyns (EAP’s) wat namens hulle optree, probeer om die magtigingsvereistes vir omgewing- en watergebruikslisensies te ontduik, deur aansoek te doen vir veelvoudige mynpermitte in aangrensende gebiede van minder as 5ha elk, maar wat gesamentlik ’n uitgestrekte area van ongeveer 70ha beslaan. In baie gevalle is daar geen sprake van openbare konsultasie nie.

Dringende ingryping is nodig

Kumulatief gesproke, hou die impak van hoofsaaklik ongereguleerde sandmyne in die Sandrivier vernietigende gevolge vir boerdery in die gebied, asook die gemeenskappe wat hierdie plase ondersteun, weens die skadelike uitwerking van sulke aktiwiteite op die rivier-omgewing en die kompetisie vir water. ’n Beduidende aantal boere word reeds deur hierdie groeiende verskynsel geraak.

Gevolglik is vele werksgeleenthede en broodnodige inkomste in gedrang, tensy die regering vinnig optree om hierdie onwettige aktiwiteit te beperk. Dit is duidelik dat die omvang van hierdie probleem verder as Limpopo strek. Soortgelyke aktiwiteite word regoor Suid-Afrika gerapporteer. Tans reguleer Suid-Afrikaanse wetgewing nie ASM as ’n aparte vorm van mynbou nie. Hoewel ’n mynpermit heelwat makliker is om te bekom as ’n mynreg, sukkel ASM-myners steeds om aan die vereistes te voldoen.

Die minister van minerale hulpbronne en energiesake het op 30 Maart 2022 ’n ASM-beleid gepubliseer wat ten doel het om ’n formele ASM-bedryf te skep, wat op ’n volhoubare wyse bedryf kan word en sodoende bydra tot die ekonomie, en wat ook onwettige mynbedrywighede sal ontmoedig. Hierdie taak kan nie alleen oorgelaat word aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energiesake nie, gegewe die verreikende gevolge van hierdie onwettige aktiwiteit vir die omgewing, die landbousektor en die land se reeds skaars waterbronne.

Agri SA sal ’n skrywe aan president Ramaphosa rig om te versoek dat alle aansoeke vir mynpermitte en huidige mynaktiwiteite gestop word, en dat die president ’n inter-ministeriële paneel, wat insluit die ministeries van minerale en energiesake, water en sanitasie, bosbou, vissery en omgewingsake asook landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, byeenroep om te verseker dat die ASM-beleid nie misbruik word tot nadeel van die land se natuurlike hulpbronne nie.

Huidige misbruik moet vinnig bekamp word om die toekomstige sukses en volhoubaarheid van beide die landbou- en mynbousektore te verseker, en om in die omgewing en waterbronne van die geaffekteerde gebiede te beskerm. – Persverklaring, Agri SA

Popular stories