Meatmaster
Hierdie swart Meatmaster-ooi van John Human van Upington het die nuwe jaar afgeskop met ’n rekord. Die lam by haar, wat op 7 Januarie vanjaar gebore is, het die skaal op 6,3 kg getrek. Sover dit bekend is, is dit ’n rekord gewig vir ’n Meatmaster-lam.

John Human, ’n kommersiële boer in die Kalahari, noord van Upington, het onlangs met Meatmasters begin boer. Hy sê sy eerste suiwer Meatmaster-ooie het hom glad nie teleurgestel nie. Een van dié ooie het vir hom ’n rekord-ramlam in die lewe gebring.

John vertel dat hy in Oktober 2019 vir die eerste keer suiwer Meatmaster-ooie ingekoop het. Op 7 Januarie vanjaar was een van hulle die trotse moeder van ’n ramlam wat die skaal op nie minder nie as 6,3kg getrek het.

Omdat dit John se eerste suiwer Meatmaster was, was hy nie seker of dit wel so ’n uitstaande gewig was nie, en het hy eers ’n bietjie navorsing gaan doen om uit te vind wat Meatmasters se gemiddelde geboortegewig is.

: Op die foto is die drie-dae-oue rekordhouer-ramlam. Saam op die foto is ooie en ’n drie-week oue lam. Die twee vergelyk baie goed. Op vyf dae het dié Meatmaster-lam reeds die skaal oor 8kg getrek.

Op die Meatmaster Facebook-groep het hy navraag gedoen en volgens hierdie telers is die gemiddelde gewig gewoonlik 3,35kg met geboorte. Die maksimumgewig is gewoonlik 4,4kg en die minimum is ongeveer 2,28kg.

Knewel weeg byna 10kg op dag vyf

John sê hierdie ramlam is beslis ’n uitsondering op die reël en volgens ander telers is daar heelwat faktore wat ’n rol by geboortegewig kan speel. “Dit kan geneties wees, maar die ooi se ouderdom kan ’n rol speel asook haar voeding tydens dragtigheid, veral die laaste 100 dae,” verduidelik hy.

Hy het egter bygevoeg dat daar nie baie genade in die Kalahari is nie. “Hierdie spesifieke ooi het op die veld geloop tot twee weke voor geboorte, waarna ek haar huis toe gebring het en sy tot en met die geboorte net lusernkorrels gekry het,” sê hy verder. Hy sê ook die ooi het geen probleme ervaar om dié knewel in die wêreld te bring nie.

Op drie dae het die lam al vergelyk met ander lammers op drie maande, en op vyf dae was die outjie reeds ’n stewige 8kg.

John is baie geïnteresseerd in die lam en sê hy sal hom vir seker dophou om te sien hoe hy gaan presteer en ontwikkel teenoor die ander lammers van sy ouderdom. Dié geboortegewig is reeds ’n rekord. Wie weet? Dalk het die rammetjie nog ’n paar in sy mou! – Koos du Pisanie, AgriOrbit