Pieter Möller skryf hoe belangrik dit is om nie hoop te verloor nie, veral in die landboubedryf. Hy bewonder ook landbouers se vermoë om positief te bly:

Suid-Afrikaanse landbou het vanjaar swaar onder die droogte gebuk gegaan. Ek wonder of die meeste dorps- en stadsmense altyd begrip het vir landbouers wat aangewese is op die natuur vir die grootste deel van hul voortbestaan.

Dis mos maklik om net by die handelaar in te stap en die nodige brood, groente en vrugte en ander benodigdhede te koop, en nie verder te dink aan wat dit alles geverg het om daardie artikels op die winkelrakke te kry nie. Dit is so belangrik dat ons in hierdie tye, nou meer as ooit, ons landbouers in gebede moet opdra vir uitkoms met mildelike reën.

Ondersteun ons landbouers

Landbouers het regtig ons almal se ondersteuning nodig, nie net in swaar en moeilike tye nie, maar deurentyd. Ek het onlangs in Jeffreysbaai en omgewing gesprekke gevoer met ’n klompie jong boere van die distrik. En hoe opvallend was hul passie en liefde vir die grond, hul diere en sommer al die plaasbewoners en hul families nie.

Terwyl hulle opkyk en afhanklik is van ons ondersteuning, is daar sogenaamde politieke filosowe wat dit hul werk maak om boere negatief te beïnvloed met uitsprake soos dat hulle moet afsien van die tradisionele familieboerderye en hulle klaar moet maak vir ’n grootskaalse verandering in die sektor. Die einste filosowe wil hulself op die media-, politieke en landbouforums as die volgende Siener van Rensburgs voorhou en maar te gou hul geldjies opeis vir hierdie praatjies.

Dink positief

As jong boere hul familieboerderye wil voortsit, uitbrei en diversifiseer, moet ons hulle juis aanmoedig om dit te doen. Ons het nie hierdie ander negatiewe denkers in die sektor nodig nie. Ons moet landbouers hoop gee en saam laat vasklou aan geloof in dit wat hulle die beste doen, naamlik om voedsel te produseer.

Verlede jaar was seker uit ’n politieke oogpunt nie die beste jaar vir ons bevolking aan die suidpunt van Afrika nie. Die gebrek aan leierskap en korrupsie en misdaad wat hoogty vier, het nogal ’n somber prentjie van ons land geskets. Onse Prez se uitsprake, of eerder gebrek aan die regte uitsprake, het baie van die land se inwoners mismoedig gestem. En die verleentheid as oom Jakes die groot getalle se syfers so uitspreek dat net hyself dit kan verstaan of nie verstaan nie, is eintlik hartseer.

Hou aan met hoop

Van misdaad gepraat, ek kom nou die dag af op ’n ongeluk in die Noord-Vrystaat waar ’n groot trok in die veld omgeslaan het en al sy voorraad sap en koeldranke verloor het. Terwyl die noodpersoneel hard werk om die drywer en passasier te help, word die betrokke boer se drade platgetrap en stop daar binne minute meer as 20 voertuie met mense wat hardloop om soveel as moontlik van die voorraad te buit. En die arme paar geregsdienaars wat wel opgedaag het, kon geen vinger verroer om die klein oproer te probeer verhoed nie.

Ek bly steeds ’n opportunis. Ek glo dit sal weer beter gaan. Ek vertrou dat die mielies weer hoog gaan staan en dat die vee en wild weer spekvet tussen die groen gras gaan wei. En ek glo dat ons weer ware, slim en intelligente leiers gaan kry wat voor vat. Ons móét bly hoop

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY