Monday, December 8, 2025

Om die BEK-rubicon te kruis of nie

Estimated reading time: 10 minutes

Die Suid-Afrikaanse veebedryf staan voor ’n waterskeiding wat die landskap fundamenteel kan verander indien die regte besluite nie dringend geneem word nie.

Die opsporing van bek-en-klouseer (BEK)-gevalle in die land se grootste voerkraal, Karan Beef, het tot ’n groot mate die gewiggie van die drukkoker se tuit gelig om die kritieke situasie wat die bedryf in die gesig staar, deeglik onder die aandag te bring.

Indien BEK nie doeltreffend onder beheer gebring word nie, kan meer as een van die land se groot voerkraal-ondernemings moontlik hul hekke sluit en op invoere begin fokus om die land van rooivleis te voorsien. Dít sal katastrofiese gevolge vir die rooivleisbedryf hê, aldus Dewald Olivier, uitvoerende hoof van Rooivleisbedryfdienste (RMIS).

“Besluite wat op 21 en 22 Julie tydens ’n BEK-indaba geneem gaan word, sal bepalend wees vir hoe die bedryf oor ’n jaar daarna gaan uitsien. RMIS gaan tydens hierdie vergadering ’n BEK-bestuursplan ter tafel lê,” sê Olivier.

Hoe het ons hier beland?

Die SAT1-, SAT2- en SAT3-stamme van BEK, verduidelik Olivier ter agtergrond, is endemies aan Suid-Afrika. Buffels is bekende draers van nie net BEK nie, maar ook tuberkulose, Ooskuskoors of korridorsiekte, en brusellose.

Open and closed FMD outbreaks since 2021. (Source: Department of Agriculture)

Om BEK te beperk tot die areas waar buffels vryelik voorkom, veral in die Nasionale Krugerwildtuin, is ’n sogenaamde ‘rooigebied’ verklaar. Daar is uiters streng maatreëls in plek gestel om kontak tussen buffels en vee te verhoed. Geen vee mag sonder spesiale permitte uit hierdie gebied verskuif word nie en veeartsenykundige beheer en toesig is baie streng. Wydverspreide inenting teen BEK is in hierdie gebied gedoen.

Buiteom hierdie rooigebied is ’n buffergebied wat as oorgangsone tussen die rooigebied en die res van die land dien. Dit is ‘n beskermingsone om te verhoed dat BEK vanuit die rooigebied na die BEK-vrye gebiede versprei. Diere in hierdie gebied word ook aktief gemonitor en kan slegs met permitte verskuif word.

Buiteom die buffersone is ’n inspeksiesone wat heelwat wyer as die buffersone strek. Die sone begin suid van Eswatini en sluit die grens met Zimbabwe en Botswana in. Roetine-inspeksies is veronderstel om in hierdie gebied uitgevoer te word en as vroeë waarskuwingstelsel te dien.

Teen hierdie agtergrond, beklemtoon Olivier, het die land vir baie lank nie nuwe uitbrekings van BEK ervaar nie. Die huidige krisis moet gesien word as ’n verskuiwing van die siekte weens die rondskuif van beeste wat die siekte onder lede het. Die rede waarom die siekte nou in vier provinsies aktief is, is die geleidelike verslapping en later totale ignorering van die maatreëls wat rondom die rooigebied in plek gestel is.    

Rooi vlae in die rooigebied

“Die heining wat die rooigebied begrens het, was oor die jare nie sonder probleme nie. Die heining het byvoorbeeld van die klein nedersettings daar in twee gedeel. Uit die aard van die saak het dit tot groot probleme gelei. Verder is dit ’n doodgewone feit dat ’n draadheining nie in Afrika hou nie.

“Mettertyd, soos wat kapasiteit en kundigheid in die veeartsenykundige staatsinstellings geërodeer het, en die BEK-entstof nie meer plaaslik vervaardig is nie, het ’n totale verslapping in die toepassing van beheermaatreëls plaasgevind. Hoewel entstof deurlopend uit Botswana aangekoop is en inentings plaasgevind het, het die verspreiding van die siekte in 2019 veroorsaak dat inentings in die rooigebied al hoe minder geword het, sodat die siekte in die suide onder beheer gebring kon word.”

’n Belangrike faktor wat ook in gedagte gehou moet word, sê Olivier, is dat van die beeste in die rooigebied wat die F-brandmerk gedra het – wat hulle kry as hulle teen BEK ingeënt word – teen laer pryse aangekoop en in voerkrale opgeneem is, vanwaar hulle dan teen normale pryse verkoop is. Mettertyd het die eienaars besef dat hulle ingedoen word, en het hul beeste elders teen heersende pryse begin verkoop. Dit het verder tot die onwettige beweging van diere uit die rooigebied gelei.    

Opheffing van DMA’s

Die goeie nuus, sê Olivier, is dat die siektebeheergebiede (DMA’s) in beide die Oos-Kaap en Limpopo in die Staatskoerant van 3 Julie opgehef is. Dít, glo hy, is die gevolg van uitstekende samewerking tussen die staat en bedryfsrolspelers asook beheermaatreëls wat streng toegepas is. 

“Die realiteit is egter dat hierdie siekte ’n voortdurende bedreiging inhou en dat ons nie op ons louere durf rus nie. Dit vereis volgehoue aaneenlopende paraatheid om te sorg dat die beweging van diere ordelik en volgens wet geskied.”

As ’n laaste opmerking rondom die vraag oor hoe ons hier gekom het, sê Olivier die situasie sou vandag waarskynlik heel anders gelyk het indien die staat sy vermoë om genoeg entstowwe beskikbaar te stel om doeltreffend binne die rooigebied in te ent, behou het.

“Daar is tans sprake dat entstofvervaardiging teen vroeg volgende jaar kan hervat, maar dit is te betwyfel of die kapasiteit voldoende sal wees om in die behoefte te voorsien.”

Die plan

Die voorstel wat ter tafel gelê gaan word, het as basis dat in kompartemente ingeënt sal word, maar daarvoor is genoeg dosisse entstof nodig.

“Net om die omvang van die hoeveelheid dosisse te illustreer: As ons in kompartemente inent, sal Karan Beef alleen 50 000 dosisse per maand neem. Die totale vraag kan maklik ’n miljoen dosisse per maand wees. Daar is geen manier dat ons dit in Suid-Afrika sal kan vervaardig nie.”

Een van die opsies wat deeglik deurdink is, is om eenvoudig die hele land se beeste in te ent en die virus sodoende dood te wurg. Hierdie benadering hou egter verskeie ernstige dilemmas in. Wat gebeur byvoorbeeld met stoetdiere? Wat van ons uitvoermarkte? En hoe gaan monitering geskied? Om aan die vereistes van die WOAH (Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid) te voldoen, sal deurlopende monitering moet plaasvind om te bewys dat nuwe gevalle nie iewers opgeduik het nie. Dit sal baie moeilik wees om nuwe gevalle op te tel as daar nasionaal ingeënt is.

Wat is ‘n kompartement?

’n Kompartement kan enige eenheid wees, soos voerkrale (maar nie slegs voerkrale nie), wat ’n geslote kudde of eenheid behels, waar nuwe diere vir ten minste 28 dae in kwarantyn gestaan het, en waar die heinings van so ’n aard is dat direkte kontak tussen diere binne die kompartement en dié daarbuite, voorkom word. So ’n kompartement moet verder duidelik identifiseerbaar wees met ’n GLN (global location number) en bewys moet gelewer kan word dat die praktyke in hierdie eenheid van so ’n aard is, dat die kanse op besmetting weglaatbaar klein is.

“As jy dan so ’n kompartement het en jy kan inent, beteken dit nie dat daar nie meer ’n risiko is nie. Jy moet steeds deeglik monitor deur gereeld bloed te trek en te ontleed, om sodoende jou status te behou. Sou Karan Beef dan, as ‘n voorbeeld, verklaar dat hulle wil inent met die doel om te slag, sal hulle steeds maandeliks en ooreenkomstig die hoeveelheid diere wat per maand geslag word, ’n sekere aantal diere se bloed moet trek en ontleed om te bewys dat daar nie ’n aktiewe virus in die voerkraal sirkuleer nie.

“Op dieselfde basis is die voorstel dat ’n kompartement die keuse het om juis nié in te ent nie, om sy BEK-status sonder inenting te behou. So sal ’n stoetteler dan byvoorbeeld sy BEK-vrye status kan behou, en kan voortgaan om handel te dryf en sy mark te behou. Sy kompartement sal aan spesifieke vereistes moet voldoen en hy sal gereeld geoudit word, maar ten minste sal dit vir hom moontlik wees om sy mark te behou.”

Invloed op die uitvoermark

Hierdie kompartementele benadering, beklemtoon Olivier, het twee voorvereistes. Die eerste is dat genoeg entstof beskikbaar moet wees, en die tweede is dat die bedryf nie sy uitvoermarkte mag verloor nie. 

“Wat laasgenoemde betref, is dit ’n kwessie van op die vliegtuig klim en met ons handelsvennote gaan praat. Daar is heelwat van hulle wat nie ’n probleem het met die status van ‘BEK-vry met inenting’ nie. Ons moet egter ’n goed-uitgewerkte plan kan voorlê wat ons vennote sal gerusstel dat BEK in Suid-Afrika doeltreffend bestuur word. Dis hierdie plan wat by die indaba op die tafel geplaas gaan word. Met die skryf van hierdie plan het ons by lande gaan aanklop wat reeds hierdie pad suksesvol geloop het, soos Brasilië, Argentinië en Uruguay, om uit te vind wat die protokol is wat gerusstelling aan ons handelsvennote sal gee.”

’n Belangrike verdere vereiste, voeg hy by, is dat daar van ’n sogenaamde DIVA-entstof gebruik gemaak moet word. DIVA staan vir ‘differentiation between infected and vaccinated animals’. Bloedtoetsontledings kan dan onmiddellik optel of die dier klinies siek is en of die teenliggaampies in sy bloed van die entstof afkomstig is. As die dier al drie stamme van die virus – SAT1, SAT2 en SAT3 – in sy bloed het, beteken dit dat hy ingeënt is, terwyl net een stam sal beteken dat hy ’n aktiewe virus dra.

Die groter probleem-prentjie

Suid-Afrika het egter ’n groter probleem as bloot BEK, beklemtoon Olivier. Brusellose is ’n ernstige erosiesiekte wat eintlik groter skade in kuddes as BEK veroorsaak.

“Die plan is dus om ’n saamgestelde entstof te vervaardig wat drie siektes dek, naamlik BEK, brusellose en knopvelsiekte, en wat vir minstens 12 maande doeltreffend is. Hierdie entstof is hoofsaaklik gemik op produsente wat hul diere vir ’n lang tydperk behou. Daarmee saam wil ons dan ’n ander, goedkoper entstof ook vervaardig wat gemik is op kompartemente soos voerkrale, wat nie hul diere vir langer as ses maande hou nie.”

Daar is lande soos Brasilië, sê hy, wat uitstekende kapasiteit het om entstowwe te vervaardig, juis omdat hulle die BEK-pad al vir ’n paar dekades stap en pas as BEK-vry sonder inenting verklaar is. Hierdie vervaardigingskapasiteit is nou onderbenut en daar is ’n uitstekende moontlikheid dat die Suid-Afrikaanse regering ’n ooreenkoms met Brasilië kan aangaan om hierdie entstowwe onder lisensie vir Suid-Afrika te vervaardig.

Die rol van naspeurbaarheid

Naspeurbaarheid bly natuurlik sentraal tot hierdie konsep en is ononderhandelbaar. Die beginsel is eenvoudig, sê Olivier: “As die land die rooivleisbedryf wil laat groei sonder om oorskotte te veroorsaak, moet die uitvoermark ontwikkel word tot meer as die ongeveer 4% wat tans uitgevoer word. En om uit te voer, is daar spesifieke reëls wat gevolg moet word. Naspeurbaarheid lê aan die kern van daardie reëls.

“Ons moet dus verby die punt beweeg waar ons nog vra en wonder of ons naspeurbaarheid wil hê. Ons is nou op die punt waar ons bloot ’n onderskeid moet tref tussen diegene wat die reëls wil volg en die wat nie belangstel nie. ’n Premie moet betaalbaar wees aan daardie produsente wat aktief saamwerk om aan die bedryfstandaard te voldoen.”

Die bedryf het by ’n waterskeidingsoomblik gekom, beklemtoon hy. “Karan Beef se raad het onlangs besluit hulle gaan ophou voer indien ons nie die beleid om in te ent om te slag, implementeer nie. ’n Ander voerkraal met ’n kapasiteit van 50 000 beeste het ook reeds dieselfde besluit geneem. Hulle is nie meer bereid om hulself aan die risiko bloot te stel nie. Sedert Karan BEK in sy voerkrale opgespoor het, ly hulle verliese van R15 miljoen per dag. Dit is duidelik nie volhoubaar nie. En selfs as nét Karan Beef hulle deure toemaak, is die uitwerking op die bedryf katastrofies.”

Nie net sal daar skielik ’n reusetekort van minstens 50 000 beeste per maand in die mark ontstaan nie, maar die speenkalfprys sal moontlik ineenstort. “Hierdie voerkrale sal nie noodwendig uit die bedryf tree nie, maar eerder vleis begin invoer. Die effek daarvan sal eenvoudig vernietigend wees.”    

Lig in die tonnel

’n Voorstel is dat die kommersiële rolspelers in kompartemente self vir die entstof betaal, maar nie teen die huidige opgeblaasde prys wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) gehef word nie. Die huidige ooreenkoms is dat die staat die invoere op aanvraag sal behartig, die produsent die invoerprys betaal, en die staat die winsmarge aan OBP sal betaal.

Verskillende stamme van BEK kom wêreldwyd voor en van hierdie stamme maak diere dood. Die SAT1, -2 en -3 wat in Afrika voorkom is egter nie lewensgevaarlik nie. Om die waarheid te sê, hou simptome selde vir langer as vyf dae aan. Daarom het RMIS ’n internasionale openbare betrekkinge-maatskappy aangestel om wêreldwyd begrip vir hierdie feit te beklemtoon.

“Streng gesproke behoort SAT1, -2 en -3 nie as BEK geklassifiseer te word nie. Dis eintlik ’n buffelsiekte wat na beeste versprei het. Hierdie feit moet aggressief aan die res van die wêreld bekendgemaak word. Daar moet ’n ander stel reëls vir die SAT-stamme as vir die ander stamme in die wêreld geld. En as ons ’n werkbare plan implementeer, kan ons deur bilaterale ooreenkomste baie ver kom om ons uitvoermarkte nie net gerus te stel nie, maar uit te brei.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable...

Stockfarm December hits the shelves

The December 2025 edition of Stockfarm shines the spotlight on the resilience and adaptability...

Trust and muffins lead the way

Estimated reading time: 4 minutes In any business, communicating in silos is the main cause...