Saturday, September 28, 2024

NWK maak paaie gelyk in Noordwes

Estimated reading time: 2 minutes

Die NWK se jaarlikse padskraapprojek het op 22 April vanjaar aanvang geneem in Noordwes. Hierdie projek behels die skraap van 2 000 km se grondpaaie met ses stootskrapers en die koste beloop ongeveer R2 miljoen. Die projek is tans in sy derde jaar nadat NWK in 2021 ’n memorandum van verstandhouding met Noordwes se Department van Openbare Werke, Paaie en Vervoer onderteken het. Paaie in die omgewing van Coligny, Gerdau, Bodenstein, Boschpoort, Ottosdaal, Sannieshof en Barberspan word geskraap.

“Hoewel NWK graag hande vat met die regering om kwessies aan te spreek ten einde dienslewering te verbeter, is dit tog jammer dat die maatskappy geld moet spandeer aan ’n funksie waarvoor belastingbetalers in elk geval opdok. Ons kan egter nie niks doen en sien hoe ons klante daaronder ly nie,” verduidelik Theo Rabe, uitvoerende hoof van NWK. Rabe meen dat enige skade aan produsente se toerusting as gevolg van die grondpaaie bydra tot die stygende prys van voedsel.

Lees meer oor NWK se hernubare kragplanne hier.

“Grondpaaie en selfs teerpaaie in Noordwes se toestand wissel van swak tot uiters swak en die provinsiale en nasionale regering gee regtig nie aandag aan die nodige onderhoud van paaie nie,” sê Rabe. Volgens Naude Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri NW, word sommige produsente selfs deur die staat vervolg omdat hulle sonder toestemming die grondpaaie skraap. Diegene wat wel toestemming het, kan aangekla word van beskadiging van staatseiendom. Om hierdie rede het NWK in 2021 die besluit geneem om ’n ooreenkoms met die regering te sluit, sodat hulle die grondpaaie kan skraap. Hierdie inisiatief is dus nie net ’n oplossing vir swak grondpaaie nie, maar ook ’n poging om produsente in die omgewing te beskerm.

Die herstelproses is nie net voordelig vir produsente nie, maar ook vir gesondheidsklinieke, ambulanse, polisie en skoolbusse wat voorheen nie die paaie kon gebruik nie. Pienaar noem ook dat sommige besighede nie nodige voorraad kon kry nie, aangesien koeriers nie kans gesien het om die paaie te ry nie.

Produsente sit ook handjie by. Produsente vergemaklik die proses deur die skouers van die paaie skoon te sny en die grond los te maak ’n week of twee voor die skrapers opdaag. Lemmer Vermooten, direkteur van NWK, en Vickus Dryer, albei produsente in die omgewing, is dankbaar vir hierdie inisiatief. Hulle voel veiliger en is meer gerus omdat toerusting en bande bespaar word deur die herstelde paaie. – Louise Lemmer, Plaas Media