Nuwe Vrystaatse jongboer van die jaar wil ’n verskil maak

0
834

Net om ’n finalis in Vrystaat Landbou (VL) se jongboer van die jaar-kompetisie vir 2018 te wees, wys reeds jy maak ’n verskil in landbou en dít is vir hom lekker. Só het Nelius Ferreira gesê nadat hy op 12 April 2018 by ’n glansgeleentheid in Bloemfontein as die 22ste wenner van die kompetisie, wat in samewerking met Standard Bank aangebied is, aangewys is.

Volgens Ferreira (37), van die plaas Grootdraai naby Harrismith, was dit ’n voorreg om saam met knap jong landbouers soos die ander finaliste, Hendrik Theron, Reece Dedwith en Wessel Hattingh, die verhoog te deel.

“Ek is werklik oorweldig. Ek is so besig in ons eie boerdery, maar dan kom iets soos die kompetisie oor jou pad en sien jy wat ander ouens doen. Dan dink jy: Jislaaik, hier is goeie kandidate. En ek is seker daar is nog baie daar buite.”

’n Waardige wenner

Ferreira stap onder meer weg met ’n oorsese reis danksy Case IH/Northmec en sal ook outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale jongboer van die jaar-kompetisie deelneem.

Volgens prof Pieter Fourie, hoof van die Departement van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en sameroeper van die beoordelaarspaneel, het Ferreira uitgeblink in al die afdelings wat beoordeel is.

“Nelius was eenvoudig baie sterk, veral wat die produksie-afdeling betref,” het hy gesê. “Die absolute presisie waarmee hy sy boerdery bestuur, was is vir ons ongelooflik. Hy is ’n waardige wenner.”

Boet Wilken, voorsitter van VL se jongboer-komitee en ’n beoordelaar, meen die beoordelaars kon nie vir Ferreira enige raad gee nie. “Alles wat Nelius doen, doen hy die beste,” het hy gesê.

Positief oor landbou

Ferreira, wat al op die Eeram-boerevereniging se bestuur gedien het en voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in die Vrystaat is, is ondanks al die landbou-uitdagings positief en trots om ’n jong landbouer in die Vrystaat te wees.

Dié Bonsmara-boer, wat onder meer verantwoordelik is vir stoet- en kommersiële Bonsmara-kuddes, appels en ’n voerkraal, boer alreeds vir 15 jaar as deel van ’n familiebesigheid.

“Toe ek tydens die VL Jongboer-konferensie (wat ook op 12 April plaasgevind het) met ander jongboere gepraat het, het ek nie met een ou gepraat wat nie ’n plan gehad het nie,” het hy gesê. “Hulle het planne en is positief. Hier is ’n klomp uitstaande jong ouens in die Vrystaat en ek reken ook in Suid-Afrika.” -Persverklaring

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY