Nuwe poging om poeierkwaslelie van uitsterwing te red

0
266

’n Reuse-poging word tans aangewend om die laaste 60 oorblywende individuele poeierkwaslelies (Haemanthus pumilio) in die Duthie-natuurreservaat in Stellenbosch te bewaar, sowel as om die bevolking se getalle uit te brei deur middel van mikrokweking.

Volgens Martin Smit, kurator van die Universiteit Stellenbosch (US) se botaniese tuin, het meer as ’n duisend van hierdie lelies vroeër in die Duthie-natuurreservaat voorgekom. Die reservaat beslaan egter tans minder as ’n derde van sy oorspronklike grootte en die meeste van hierdie lelies het ook al uitgesterf in die plekke waar hulle voorheen voorgekom het, insluitend Wellington en Klapmuts.

“Die vernietiging van die oorspronklike habitat (renosterveld) en indringers soos die Port Jackson (Acacia saligna) is van die hoofoorsake vir hierdie afname. Hierdie spesie is egter ook afhanklik van brande om blomvorming aan te help en die saailinge vereis baie spesifieke toestande om te oorleef. Die Duthie-natuurreservaat is egter in 2004 laas gebrand. Vir hierdie tipe plantegroei moes ’n daaropvolgende beheerde brand reeds lankal plaasgevind het,” sê hy.

Read it in English

“Behalwe dat Haemanthus pumilio brand-afhanklik is, verkies dit ook grond wat in die somermaande droog is, maar in die winter met water deurdrenk en moerasagtig is. Dit is waarom die Duthie-reservaat tans steeds die mees geskikte habitat is om die oorlewing van hierdie seldsame en uiters bedreigde plant te verseker.”

Bewaring-stratagie

Terwyl Smit ’n bestuursplan vir die Duthie-reservaat ontwikkel het, het twee bioloë van die US finansiering bekom om deur middel van weefselkweking die bevolkingsgrootte eksponensieel te laat toeneem.

’n Plantbiotegnoloog, dr Paul Hills, en ’n plantkundige, dr Gary Stafford, het reeds blaarmonsters en saad van die bestaande poeierkwasleliebevolking in die Duthie-reservaat bymekaar gemaak, sowel as van sewe individuele plante van ’n uitgestorwe bevolking oorspronklik afkomstig van Newton Commanage, Wellington, wat tans in die sorg van die botaniese tuin is.

“Eerstens volg ons ’n nie-destruktiewe strategie in die grootskaalse kweking van individue van ’n verskeidenheid genotipes met die oog op die potensiële herbevolking van kwynende bevolkings in die Duthie-reservaat, sowel as elders,” verduidelik dr Hills.

Terselfdertyd gebruik Dominique West vir haar studies vir ’n BSc-honneursgraad, fillogenetiese analise om die genetiese diversiteit binne en tussen bevolkings vas te stel. Dit sal meebring dat ingeligte besluite oor die gebruik van genetiese lyne afkomstig van mikrokweking vir die herbevolking en bewaring van die plante geneem kan word.

Hoewel die weefselmonsters en verskeie sade reeds in die weefselkwekingslaboratorium begin groei het, sal die eerste saailinge eers teen die einde van 2018 lewensvatbaar wees.

“Aangesien Haemanthus pumileo so skaars is, is hierdie plante baie gesog onder plaaslike en internasionale plantversamelaars. As ons ’n lewensvatbare bevolking aan die gang kan kry, sal dit na ander botaniese tuine versprei word en dan sal sommige van die plante ook verkoop kan word,” voeg Smit by. – Stellenbosch University

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY