Tuesday, March 28, 2023

Nuwe Nampo Alfa skiet uit die blokke

Estimated reading time: 3 minutes

Groot optimisme heers oor ’n belowende toekoms wat vir die Nampo Alfa Vee-, Jag- en Buitelug-ekspo wink. So sê Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, nadat dié ekspo vanjaar ’n nuwe formaat aangeneem het. Die voormalige Alfa Vee-ekspo is op Nampopark met ’n jag- en buitelugafdeling gekombineer. Wessels sê daar was 180 uitstallers en hoewel daar weens die bek-en-klouseersituasie minder diere was, het die buitelug- en jagprogramme daarvoor opgemaak.

Lees meer oor jagkwotas hier.

Gesogte Boerboele

Chereen Boshoff, eienaar van Bostu Boerboele in Pretoria, se stoethonde het veral groot aftrek geniet. Chereen het die stoetery agt jaar gelede gevestig en het vandag meer as 100 honde wat sy vir die plaaslike en internasionale markte teel.

Sy is trots daarop dat ’n kwart van die stoetregister – ’n Elite groep van honde wat op SA Stamboek se Logix-stelsel geregistreer is – uit Bostu-geteelde Boerboele bestaan. Chereen is ook as SA Stamboek se Elite Honde-stoetteler van die Jaar vir 2022 aangewys, en spog met die hoogs gekeurde Boerboel in Suid-Afrika, Bostu Daddy Cool.

Luister saam na Bostu Boerboele se onderhoud op RSG Landbou hier.

In die kol

Die Hinterland-demonstrasieskietbaan het groot belangstelling gelok. Volgens Jaco Kruger, bestuurder van wapens en ammunisie by Hinterland, was Hinterland-wapens onder die uitstallers wat verskeie pistole, handwapens en jaggewere by dié geakkrediteerde baan gedemonstreer het.

Belangstellendes kon op ’n afstand van 35m met van die wapens skiet. Die Bothaville-tak van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging was die baanoffisiere en veiligheid is deurlopend gemonitor.

Vleisbeeskampioene

Die Limousin-bul, Xourel Italia 16 38, van Daphne Nkosi en Dennis Magagane van La Reina Limousins in Edenville, is as die Hollard Nasionale Vleisbees-interraskampioenskap se kampioenbul aangewys. Hy is ook vanjaar tydens die Limousin-beestelersgenootskap se nasionale kampioenskap as senior- en grootkampioen, en by die Royal-skou as opperste en grootkampioen bul asook gouebeker-wenner aangewys.

Peter en Lucille Abrahamse van die Rivervalley-stoetery by Heidelberg in Gauteng, se Simmentalerkoei, Rivervalley Jasmin AB 1976, is as die Hollard Nasionale Vleisbeesinterras kampioenkoei aangewys. Sy was ook vroeër vanjaar tydens die Royal-skou as die Simmentaler-grootkampioenkoei gekroon.

Vir meer inligting, besoek www.nampoalfa.co.za.

The Land Bank: Challenges and prospects

Estimated reading time: 7 minutes The Land Bank has been struggling to fulfil its...

Grondeise: Die pligte van kopers en verkopers van plase

Estimated reading time: 5 minutes Onafgehandelde grondeise begin toenemend 'n faktor raak by die...

Die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf

Estimated reading time: 7 minutes Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van...

Slaggate vir doeltreffende werking van onkruiddoders

Estimated reading time: 6 minutes Onkruiddoders behoort nie die enigste of laaste uitweg vir...