Monday, March 20, 2023

Nuut-gestruktureerde Agri-Expo gaan op sleutelprojekte fokus

Estimated reading time: 3 minutes

Na grootskaalse herstrukturering, is Suid-Afrika se oudste landbou-organisasie, Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, gereed om sy kragte op vier strategiese sleutelprojekte te fokus. Dié organisasie, wat in 1831 gestig is, dryf handel onder die reeds-bekende naam, Agri-Expo.

“Die afgelope dekade het dit duidelik geword dat die organisasie besig was om sy beleggings uit te put as gevolg van die beduidende verliese wat onwinsgewende projekte gely het. Die verliese het in 2021 en 2022 net al hoe groter geword,” sê Breyton Milford, Agri-Expo se nuwe hoofbestuurder.

Die afgelope twee finansiële jare het die swak ekonomiese klimaat en die impak van Covid-19 die situasie op die spits gedryf en teen die einde 2022 is Agri-Expo gedwing om sy personeelkorps te verminder.

“Selfs al is diegene wat afgelê is baie goeie pakkette aangebied, bly dit ’n gewigtige saak,” sê Milford en voeg by dat dit vir hom moeilik was om afskeid te neem van talle geliefde kollegas. “Agri-Expo sou egter nie meer vir nog ‘n dekade oorleef het as ons nie hierdie ongelooflike moeilike besluite geneem het nie.”

Lees meer oor die 2023 Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar-finaliste hier.

Strategiese fokus-areas

Milford is egter seker dat die organisasie nou slaggereed is om die volgende twee eeue aan te durf. “Dis baie belangrik dat ons nou ‘n back-to-basics-benadering volg en al ons aandag toespits op kernsake.”

In die lig hiervan, moes sekere van die huidige projekte ook gestaak word. Die Raad het egter die volgende projekte geprioritiseer: Die SA Suiwelkampioenskappe, die SA Jongwynskou, ondersteuning aan landbouskole (landbou-jeugontwikkeling) en die ledeskoue (landbouskoue) van Agri-Expo.

“Die Jongwynskou is die vader van alle wynskoue in die land en daarom moet ons nie hierdie sentimentele tradisie laat gaan nie,” sê Milford. “Verder is dit ook belangrik om op jeugontwikkeling te fokus, want hoewel ons tradisies wil behou, het ons ook ‘n blink toekoms nodig.”

Ledeskoue sal ook ’n prioriteit wees. “Landbouskoue op die platteland het baie gekwyn en dis ’n belangrike kwessie vir die landbou. Daarom moet ons poog om hierdie skoue soveel ondersteuning as moontlik te gee,” sê Milford en voeg by dat Agri-Expo se ledeskoue oor die afgelope jare van 30 tot 17 skoue gekrimp het.   

Verder bly die SA Suiwelkampioenskap ’n baie belangrike funksie vir die organisasie en daarom sal dit steeds voortgaan. “Dit is die voorste suiwelkampioenskap op die Afrika-kontinent en word jaarliks baie goed deur die bedryf ondersteun. Daarom wil ons voortbou op die goeie werk van die verlede.

Pieter van Wyk, president van Agri-Expo, sê: “Die genootskap se raad sal graag die breë landbousektor, lede en vennote wil verseker dat ons sal voortgaan om die organisasie se visie volhoubaar na te streef deur te fokus op uitstallings en ander openbare verhoudingsinisiatiewe in belang van sy lede, landbou, die regering en die publiek.”

Nut van landbouskoue

Niël Joubert, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer, sê landbouskoue, soos dié wat Agri-Expo organiseer, het steeds geweldige waarde vir Suid-Afrikaanse produsente en boerderye van alle groottes.

“Die netwerkwaarde van hierdie skoue kan nie onderskat word nie – selfs nie dié van die kleinste landbouskou nie. Dis ‘n fantastiese plek om verhoudings te bou en waar mense kan glimlag – veral as dinge moeilik gaan aan die ander kant van jou plaashek.” Landbouskoue en -uitstallings is dikwels ook die eerste plek waar produsente aan nuwe tegnologie blootgestel word en daarom moet die sektor dit deurgaans ondersteun, sê Joubert. “Dit wys jou ook wat jou medeboere doen en is ‘n fantastiese geleentheid om by ander te leer. Landbou is immers die één sektor waar ‘n mens altyd kan leer. As jy dink jy kan nie leer nie, dan wys dit juis hoe min jy weet.” – Susan Marais, AgriOrbit

Must read

RSG Landbou, Plaas TV, wortelontwikkeling

RSG Landbou: 20 Maart 2023 – geborg deur Plaas Media

Herlewingslandbou word voorgehou as die praktyk om boerdery volhoubaar te maak, maar wat gebeur na die oorgang na herlewingslandbou? Is die boerdery onmiddellik meer volhoubaar en winsgewend? Nic van Schalkwyk van Restore Africa Funds...

Hou jou windpomp aan die draai

Estimated reading time: 3 minutes Daar is baie maniere om water uit die grond te kry, maar die tradisionele windpomp bly die maklikste en goedkoopste metode. 'n Windpomp moet ten minste twee keer per...

RPO Noord-Kaap bied suksesvolle roetevergaderings aan

Estimated reading time: 5 minutes Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap het ‘n paar jaar gelede begin om jaarliks ‘n roetevergadering aan te bied en verskeie gebiede in die provinsie te besoek. Die dag...

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 0 minutes Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

Biosekuriteit op die plaas (Deel 5): Die verkopersverklaring: Die beste instrument vir veeprodusente

Estimated reading time: 6 minutes Ons kan ’n groot verskil maak aan die verspreiding van siektes deur die gebruik van ’n verkopersverklaring aan te moedig. Dit is nou maar wors dat daar ’n hele aantal...