Merinoboere
Wenners hand oog klassering, Van links is SP van der Walt, Dykie de Villiers, Frikkie Visser, Jim de Villiers, Michael Hayward

Noupoort se Jongooi-Merinoklub is in 2010 deur elf Merinoboere van Noupoort gestig. Altesaam 13 Merinoboere het aan vanjaar se vergelyking deelgeneem. Vanjaar is ’n ooitjie van Dykie de Villiers van Phoenix Merino as die mees ekonomiese ooitjie en wenner vir 2016 aangewys.

Die doel van die klub is om so akkuraat as moontlik die mees ekonomiese ooitjie en groep ooitjies te identifiseer op grond van wolgroei en gewigstoename. Om dié doel te bereik, skryf die Merinoboere jaarliks ’n groep van ses speenooitjies in (sowat ses maande oud met inname) in. Die groot voordeel van die projek is dat gesien word watter tipe ooie die meer ekonomiese ooie is en dat die boere sosiaal verkeer en ook so by mekaar leer.

Die ooitjies word vir sowat agt maande by een van die lede geëvalueer. Die gasheer vir 2016 was Jim de Villiers van die plaas Toitdale, Noupoort. Elke jaar word ’n gas genooi om ook ses ooitjies in te skryf. Vanjaar was PD Jacobs en sy skoonseun, Willem Grobbelaar, van P’Drino Merino’s van Trompsburg in die Vrystaat die gas.

Die ooitjies word, vir die tydperk wat hulle by die gasheer is, sover moontlik net soos die gasheerboer se eie ooitjies bestuur. Dit sluit die gasheerboer se inenting- en doseringsprogramme in en die ooitjies kan ook ’n lek ontvang om hul vermoë om die veld beter te benut, te stimuleer. Daar word wel daarteen gewaak om die ooitjies te voer.

Gedurende die inname en op die opedag gedurende die toetsperiode, het PD en Willem die ooitjies volgens die hand-en-oog-metode beoordeel en die vyf bestes uitgehaal. Hierdie evaluasie tel egter geen punte nie. Op die opedag word ’n wolmonster van elk van die ooitjies geneem. Hierdie wolmonsters word ontleed en daarvolgens ontvang elke ooitjie ’n wolwaarde wat aan die pryse van die laaste drie wolveilings voor die finale dag gekoppel is.

Op die finale dag word die kompetisie in twee verdeel. Eerstens kies een of twee onafhanklike beoordelaars, vanjaar was dit dr Nolte Troskie, die vyf beste individuele ooitjies volgens die hand-en-oog metode. Tweedens word die ooitjies geskeer en elke ooitjie ontvang ’n wol- en vleiswaarde, waar faktore soos gewigstoename en eindgewig die belangrikste faktore is.

Hierdie waardes word alles in ’n rekenaarprogram ingevoer en die mees ekonomiese groep ooitjies gekies. Kategorieë waarin deelgeneem word, is (per groep ooitjies en individuele ooitjie): beste totale waarde (vleis en wol), hoogste vleiswaarde, hoogste wolwaarde en hand-en-oog-klassering. – Juan Venter, NWKV-produksie-adviseur, Middelburg.

Die 2016-uitslae:

 Mees ekonomiese groep van 5 ooitjies

  1. Dykie de Villiers
  2. Jimpie de Villiers

Hand-en-oog-klassering

  1. SP van der Walt
  2. Dykie de Villers

 Groep van vyf ooitjies met hoogste wolwaarde

  1. Dykie de Villiers
  2. Jimpie de Villers

Enkelooitjie met hoogste wolwaarde

  1. Dykie de Villers
  2. Arina de Villiers

 Groep van vyf ooitjies met hoogste vleiswaarde

  1. Dykie de Villiers
  2. Jimpie de Villiers

Enkelooitjie met hoogste vleiswaarde

  1. Jimpie de Villiers
  2. Piet Davel

Enkelooitjie: Mees ekonomiese ooitjie en wenner vir 2016Dykie de Villers

Klik hier vir nog landbounuus.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY