Saturday, September 14, 2024

Noordwes-brande: ’n Rampverklaring is nóú nodig

Estimated reading time: 4 minutes

Die Noordwes-provinsie gaan vanjaar gebuk onder erge wegholveldbrande en daar word nou by die regering gepleit om die provinsie tot ’n rampgebied te verklaar. Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes- sambreelbrandbeskermingsvereniging (NWUFPA), sê indien die regering ag slaan op sy versoek, sal die provinsie in ’n meer gunstige posisie geplaas word om verdere veldbrande te verhoed en bestaande brande onder beheer te bring.       

Lees meer oor veldbrande hier.

’n Negatiewe prentjie

Stoch sê Noordwes ervaar ’n uiters uitdagende brandseisoen met lewens- en veeverliese, reuse infrastruktuurskade en honderde duisende hektare se oppervlakte wat weens veldbrande in die slag gebly het. Die brandskade se beraamde koste tot die provinsie se ekonomie, beloop tot dusver R6,6 miljard.

Daarmee saam toon die jongste data dat meer as 847 000ha oppervlakte reeds verwoes is, met bykans 12 000 brande wat in die vier distriksmunisipaliteite voorgekom het. Die meeste brande het in die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit (met sy setel in Rustenburg), gevolg deur die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit (setel in Mahikeng), voorgekom. Die grootste gedeelte van die oppervlakte wat afgebrand het, is natuurlike grasveld en natuurlike beboste gebiede.

Stoch meen die einde is nog nie in sig nie en die provinsie is, teen die huidige tempo waarteen veldbrande woed, sterk op pad na ’n oppervlakteverlies van ’n miljoen hektaar. Met die brandlading wat steeds hoog is en gepaardgaande droë toestande en sterk winde, is toestande steeds gunstig vir wegholbrande. 

Duisende hektare natuurlike veld is in die Matlosana-gebied deur brande verwoes. FOTO Frikkie Martin
Duisende hektare natuurlike veld is in die Matlosana-gebied deur brande verwoes. (Foto: Frikkie Martin)

Verwoesting gesaai

Die NWUFPA het intussen ’n voorlopige verslag rakende vanjaar se brandseisoen aan die waarnemende premier, Nono Maloyi, verskaf. Hierdie verslag toon dat vier mense in die tydperk vanaf 1 Januarie tot 14 September 2023 in verskeie wegholbrande dood en 32 beseer is. Talle vee, wild, plaas- en werkershuise, asook voerskure, is verwoes. Verliese van onder meer waterpype, heinings (elektriese en wildheinings), Eskom-pale, -lyne en -kabels, stropers, trekkers, asook motors en brandbestrydingstoerusing (bakkie-eenhede) is gely.  

Matlosana-brande ruk boere

Frikkie Martin, voorsitter van die Matlosana-brandbeskermingsvereniging, sê verskeie veldbrande het bykans elke naweek in Augustus tot en met die tweede naweek in September op plase in die Klerksdorp- en Hartbeesfontein- gebiede verwoesting gesaai. Hy meen dit is die ergste brande wat in 20 jaar in hierdie gebied voorgekom het.

Sowat 45 000ha is sover verwoes en sowat 60 grondeienaars is geraak. Martin sê benewens weidingsverliese, was daar boere wat ook vee- en strukturele verliese gelei het. Sy buurman het 15 bulle, etlike skape, asook ’n skuur met meer as 600 voerbale verloor, terwyl twee Simbra-koeie en sowat 79 stuks wild van ’n ander boer in die gebied in die slag gebly het. Hy die oorsaak van hierdie spesifieke brand is na bewering weens kerse wat tydens ’n begrafnis volgens tradisie moes uitbrand.

Hoewel Martin nie veeverliese of strukturele skade gely het in ’n brand op sy plaas sowat 10km vanaf Hartbeesfontein op die Ottosdalpad nie, het die meeste van sy natuurlike weiding (750ha) afgebrand. Soos talle ander boere is kos vir sy diere nou ’n reuse-probleem. Die oorsaak van hierdie brand is vermoedelik brandstigting.  

Oorsake van brande

Stoch sê die oorsake van wegholbrande in die provinsie sluit onder meer in brandstigting, nalatigheid, weerlig, en Eskom-lyne in. Oop vure wat onbewaak deur taxi-pendelaars gelaat word, stropers wat veld aan die brand steek, politieke onrus, die gebruik van kraggereedskap, onwettige blokbrande, asook die brand van asgate en vullishope is ook oorsake.

Hy sê brandstigting langs paaie naby staatsgrond is in hierdie stadium egter ’n groot probleem. Die situasie word boonop vererger omdat geen voorbrande op baie van die staatsgrond gemaak is nie, terwyl sommige staatsdepartemente en munisipaliteite nie hul wetlike verpligtinge nakom deur hul statutêre ledegeld aan die vereniging te betaal nie.

Koch sê alle boere word deur die vernietigende effek van wegholveldbrande geraak en dit is nou, meer as ooit tevore, noodsaaklik dat die regering sy kant bring.  

Vir meer inligting kontak Eric Stoch by 071 0776 653 of nwufpa@gmail.com. Vir voerskenkings in die Matlosana-distrik, kontak Frikkie Martin by 081 369 7341 of 062 717 7958 of frikkiemartin@gmail.com. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

Melkvervangers vir varkies groei in gewildheid

Estimated reading time: 4 minutes Vervangers vir sogmelk is nog nie so gewild in Suid-Afrika soos in Nederland of Denemarke nie. Dit neem wel stadig maar seker in gewildheid toe, waarskynlik weens die groter werpsels...
Wikus tussen sy Dohne-Merino’s. (Foto: Stefan Strydom)

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg in die Vrystaat, se passie vir teling, en sy toewyding en meelewing in sy boerdery is die hoeksteen van sy...

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde van gepasteuriseerde melk. In moreoggend se RSG Landbou beantwoord Maretha...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence

Estimated reading time: 4 minutes Anina Hunter of Epol Feeds was re-elected as chairperson of the Animal Feed Manufacturers Association (AFMA), while Michael Schmitz from Meadow Feeds was re-elected as vice-chairperson at the 77th AFMA...

RSG Landbou: 11 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Tyd raak min om in te skryf vir die 2024 LRF Veeskool wat vanaf 9 tot 11 Oktober by Aldam aangebied word. Die program is gefinaliseer en in vandag se...