Estimated reading time: 2 minutes
Baie Suid-Afrikaners het die behoefte om deel te word van die landboubedryf. Kapitaal en grond om op groot skaal te boer is egter nie maklik verkrybaar nie. Derhalwe leef talle hulle landboudrome uit deur op klein skaal in hulle agterplase ’n groentetuin te kweek of hoenders aan te hou. Die verkoop van die produkte kan egter ook ’n uitdaging bied.
Die Department van Landbou, Omgewingsake, Plattelandse Ontwikkeling en Grondhervorming in die Noord-Kaap het hierdie behoefte onder die ‘agterplaasprodusente’ raakgesien en besluit om ’n mark te skep waar hierdie produsente op klein skaal hul produkte van die hand kan sit en sodoende ’n inkomste genereer.
Lees meer oor hoekom produsente nie in ‘n vakuum is nie.
“Die doel van ‘n mark vir ‘agterplaasprodusente’, is om ’n platform te skep waar hulle landbouprodukte kan bemark en verkoop. Sodoende kan hulle inkomste genereer ten einde voedselsekerheid en ’n volhoubare lewensbestaan te vestig.
’n Besigheidsgeleentheid word geskep
Die projek laat produsente besef dat boerdery ’n besigheid is en sodanig bedryf moet word. Die platform bied ook aan hulle die geleentheid vir interaksie om hulle uitdagings en ervaring as kleinskaal gewas- en hoenderprodusente te deel,” verduidelik Phemelo Manankong, senior kommunikasiebeampte van die department.
Die eerste mark is op 9 Februarie in Kimberley aangebied en verskeie ‘agterplaasprodusente’ het hulle produkte gebring om te verkoop. Die produkte het gewissel van klein pakkies groente tot eiers, hoenders en vele meer. Sommige produsente het selfs hulle produkte verwerk en verkoop.
Die mark was ’n onomwonde sukses en beslis ’n goeie inisiatief vanaf die departement. Manankong sê die departement beplan om langtermyn meer agterplaasprodusente aan te moedig om die stukkie grond tot hulle beskikking in te span om landbouprodukte te produseer. So kan hulle vir hulleself ’n inkomste genereer en betrokke raak in landbou al is dit op ’n kleiner skaal.
Diegene wat produkte na die mark gebring het, was positief oor hierdie projek en het die hoop uitgespreek dat markte meer gereeld aangebied word. – Koos du Pisanie, Plaas Media