Toyota SA national young auctioneer competition
Die eienaar van die oudste Toyotabakkie by Winterton was Fatnuts Ngobese. Hier staan hy saam met, van links: Edu Rohrs en Cecil Fourie van Mortimer Toyota, Estcourt en Tiaan Herbst van Plaas Publishing.

Boere in KwaZulu-Natal is onlangs herinner aan die Toyota SA Nasionale jong afslaerskompetisie wat jaarliks in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied word. Izak Hofmeyr en Tiaan Herbst van Plaas Publishing, die uitgewer van Veeplaas en Stockfarm, en Cecil Fourie en Edu Rohrs van Mortimer Toyota Estcourt het die boodskap by die veilingkrale van Winterton gaan uitdra tydens die veiling wat Vleissentraal elke laaste Dinsdag van die maand daar aanbied. Dit is deel van ’n reeks promosieveilings wat landwyd gehou word om die kompetisie bekend te stel.

’n Paar pryse is by die veiling uitgedeel. Fatnuts Ngobese van Kwela by Emmaus naby Bergville het ’n prys gekry vir die oudste Toyotabakkie in die parkeerterrein. Sy 1989 model 2,2 liter langbak is reeds 27 jaar oud en het al meer as 500 000 kilometer afgelê. Fatnuts sê hy het die voertuig agt jaar gelede vir R38 000 in Johannesburg gekoop. Nuut het die 2,2 liter destyds minder as R30 000 gekos.

In ’n gelukstrekking van ingevulde promosievorms het die vee-aankoper Buzzy Vermaak ’n prys ontvang wat deur Mortimer Estcourt verskaf is.

Die KZN streekrondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie sal in Mei 2017 op die Royal Agricultural Show in Pietermaritzbug plaasvind, waarna die wenners na die nasionale rondte later die jaar sal deurdring. – Izak Hofmeyr, Veeplaas.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY