Die vyfde rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, wat die eerste keer in 2013 in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied is, vind vanjaar plaas. Vir vanjaar se kompetisie word tien streeksrondtes gehou waartydens deelnemers kan kwalifiseer vir die nasionale rondte, wat in September vanjaar tydens ALFA 2017 in Parys gehou word.

Die sentrale streeksrondte is oudergewoonte tydens die jaarlikse Bloemskou gehou. In die kategorie vir jong afslaers het ses deelnemers om die eerste plek meegeding. Volgens die beoordelaars, Mario Kruger van CMW, Deon Klopper van GWK en Ian Grobbelaar van Vleissentraal, is ’n baie hoë standaard op die rostrum gehandhaaf.

Thabu Kriek, Danie Strauss, Pedri Janse van Rensburg, Jurie Burger, Mechiel Groenewald en Wilkie Knouwds het sake uitgespook. Danie, Jurie en Mechiel is as die top drie geïdentifiseer en moes ’n tweede rondte op die rostrum aandurf. Volgens die beoordelaars was Jurie Burger die beste deelnemer van die dag. Hy dring deur na die nasionale rondte en sluit by Arnold Durr aan, wat tydens die Ermelo-skou se streeksrondte gekwalifiseer het.


Nog streeksbyeenkomste

27 Mei: Royal-skou.

27 Mei: Upington-skou.

Mei: Boland Landbouskool-geleentheid.

Junie: Marlow Landbouskool-boeredag.

5 Julie: Val-boeredag.

Hoe werk dit?

Soos genoem, sal die nasionale rondte in September tydens die 2017 ALFA-ekspo gehou word. ’n Nasionale kompetisie gaan ook vanjaar tydens die Nampo-Oesdag aangebied word. Spanne van Amerika, Argentinië, Namibië en Suid-Afrika is reeds vir deelname bevestig. Opleidingsgeleenthede om deelname aan die kompetisie en die beroep verder te bevorder, word ook tydens verskeie landbougeleenthede beplan.

Deelnemers word in twee kategorieë beoordeel. Die kategorie vir junior afslaers is gemik op deelnemers tussen 13 en 18 jaar. Die doel van dié kategorie is om potensiële afslaers reeds op ’n jong ouderdom aan die beroep bloot te stel. Die tweede kategorie, vir jong afslaers, fokus op deelnemers van 19 tot 30 jaar. Hierdie kategorie is vir enigiemand, hetsy die persoon reeds opleiding in die beroep gehad het of nie, wat die kompetisie as platform wil gebruik om die beroep te betree. – Marike Brits, Veeplaas

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY