Netafim is vanjaar reeds ‘n kwarteeu lank aktief in die Suid-Afrikaanse landbou en spog met ‘n ryk geskiedenis wat die maatskappy anker om ‘n uitstekende diens aan produsente te lewer.

Die internasionale Netafim verhaal begin reeds in 1965, toe Simcha Blass, ‘n Israeliese ingenieur, per abuis die wonder van drupbesproeiing ontdek het. Netafim is later daardie jaar gestig in ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Simcha Blass en Kibbutz Hatzerim.

Netafim is reeds sedert 1992 aktief in Suid-Afrika en het die leier in drupbesproeiingstegnologie in Suidelike Afrika geword. “Die maatskappy het oor hierdie 25 jaar in Suid-Afrika baie gegroei en speel ‘n al hoe groter rol in besproeiing in Suid-Afrikaanse landbou. Netafim SA het met net drie werknemers begin en is vandag byna 100-man sterk,” sê Willem Botha, bemarkingsbestuurder van Netafim Suid-Afrika.

Topgehalte vervaardiging

Netafim SA se hoeksteen is sy vervaardigingsaanleg in Kaapstad. Dié fasiliteit is ISO 9001:2008 gesertifiseer en voldoen aan die strengste gehalte-standaarde. “Dit het ons toegelaat om ‘n reputasie van lewering van uitstaande gehalte op te bou, beide wat betref die gehalte van ons produkte en ons dienslewering.”

“Deur produkte te bied wat gevorderde tegnologie omarm, kan ons ons klante help om hulle doelwitte te bereik en ook die uitdagings van besproeiing en waterskaarste die hoof te bied. In die beginjare het ons al ons produkte ingevoer en was ons keuses en dit wat ons aan klante kon bied, baie meer beperk. Die vervaardigingsaanleg se deure is in 1999 geopen en sedertdien word alle druplyne en ‘n groot persentasie ander materiale plaaslik vervaardig.

‘n Wyer fokus

Netafim het aanvanklik hoofsaaklik op die wyn- en die suikerrietbedrywe gefokus, maar het ook in dié verband baie uitgebrei. “Vandag lewer ons produkte aan boerderye regoor Suid-Afrika en word ons produkte op die meeste gewasse wat in Suid-Afrika verbou word, gebruik. Dit sluit in sitrus, lusern, neute, avokado’s en ‘n lang lys ander gewasse.”

Netafim SA se kern besigheidsfilosofie fokus op gehalte en tegnologie. “Ons glo in ons produkte en die gehalte daarvan. Ons plaas ook baie fokus op die volhoubaarheid van die produsent en om werkbare oplossings vir die produsent se uitdagings te bied. Dit is juis waarom die grootskaalse aanvaarding van praktyke wat slim besproeiingstegnologie benut, ons grootste dryf is.”

Die optimale benutting van ons kosbaarste hulpbron, water, is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van landbou en juis daarom fokus ons op slim besproeiing. “Dit bring ons terug na ons leuse wat gemik is op hoër produksie met minder hulpbronne: Growing more with less.”

‘n Drieledige fondasie

Volgens Botha staan Netafim se sukses op drie pilare. “Die eerste pilaar is mense. Ons mense is vir ons baie belangrik en ons het ‘n baie sterk leierskorps met geweldig baie ondervinding. Baie van die mense in ons span is langer as 20 jaar al deel van die Netafim SA-span.”

Die tweede pilaar, sê Willem, is gehalte. “Vir ons is uitstekende gehalte nie opsioneel nie, maar noodsaaklik.”

Die derde pilaar gaan oor tegnologie en die oordrag van kennis, iets wat absoluut noodsaaklik vir volhoubaarheid is. “Ons glo daaraan om dit wat ons weet, met ons eindverbruikers te deel. Ons lei graag mense op en leer hulle hoe om ons produkte in te span vir optimale watergebruik. Voor- en naverkopediens is natuurlik ook ‘n baie belangrike fokuspunt vir ons.”

Voortdurende navorsing

Willem bevestig dat navorsing en ontwikkeling deurlopend gedoen word om nuwe produkte as werkbare oplossings vir die produsent beskikbaar te stel. “Daar is verskeie nuwe produkte waarna produsente kan uitsien, veral in, maar nie beperk tot, die veld van drupbesproeiing.

“Die fokus is ook daarop om die mandjie wat ons aanbied, al hoe groter te maak. Daar kan uitgesien word na plastiese krane, impakspuite, mikrospuite asook rekenaars en beheertoerusting.”

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY