Tuesday, December 16, 2025

Nello Dohne Merino: Genetiese prestasie is ‘n volgehoue proses

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Louis Nel se sukses lê in doelgerigte seleksie vir ’n gebalanseerde kombinasie van groei, bouvorm en wolgehalte. Die Nello Dohne Merino-stoet in die Brandfort-distrik is die praktiese versinnebeelding van teeldoeltreffendheid en genetiese vooruitgang, en nie net ’n ideaal nie.

In hierdie stoet is ramme met uitstekende bouvorm en wolgehalte die norm. Stoetramme wat tydens sy jaarlikse produksieveiling aangebied word, is streng gekeur, getoets en volledig teelwaardig. Elke ram word vier tot vyf keer gekeur om te verseker dat net die beste genetika die mark bereik. Doelgerigte seleksie en data-insameling verseker dat topproduserende ooie geïdentifiseer en in die teelprogram benut word. Kommersiële produsente kan dus met selfvertroue genetiese waarde aankoop en hul kuddeprestasie volhoubaar verbeter.

Ramme word in kampe afgerond vir die Nello-stoet se jaarlikse produksieveiling.

Lees meer oor die 2026 Dohne Merino World Congress.

Die opbou van ’n kudde

Louis het vroeg in die tagtigs sy weermagopleiding voltooi en tot 1986 vir sy pa gewerk. In 1989 het hy sy BAgric-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. As student het hy al ’n skaapkudde deeltyds bestuur, waarna hy in 1990 voltyds op Patrysfontein begin boer het. Hy het onder meer ‘n bees- en saaivertaking gehad, maar ook besluit om ’n Dohne Merino-stoet van nuuts af op te bou.

Hy het sy eerste ooie destyds in Hobhouse aangekoop. Genetiese gehalte was uit die staanspoor sy kernfokus. Louis het laparoskopiese inseminasie gebruik en uitsluitlik topgehalte ramme gebruik. Sy passie vir die stoetbedryf was, en is steeds, om skape met uitstekende bouvorm, wol en groeivermoë te teel, want dit is eienskappe wat kommersieel gesog is.

Louis se seun, Luan, het twee jaar gelede voltyds by sy pa aangesluit en deel in sy pa se entoesiasme en passie vir skaapteling. Louis se oom, Carel Nel van die buurplaas Helderfontein, is sedert 2001 ook by die Nello-stoetery betrokke nadat die sukses van die Dohne Merino’s in die Brandfort-gebied hom beïndruk het.

’n Wenresep

Die Dohne Merino se goeie aanpasbaarheid beïndruk Louis. Dit is ’n veelsydige ras wat goed in verskillende produksiestelsels presteer, mits hul voeding doelgerig bestuur word. Hoë produksie is nie moontlik sonder behoorlike voedingsbestuur nie, sê hy. Hy beskou ook ‘n balans tussen groei, struktuur en wolgehalte as belangrik. Rassuiwerheid is vir hom belangrik, aangesien kruisteling wolgehalte nadelig kan beïnvloed. Sy teeldoelwit is duidelik: om ’n sterk, gebalanseerde dier te teel en hierdie eienskappe voortdurend en volhoubaar te verbeter.

Laparoskopiese inseminasie met slegs die beste gehalte semen word gedoen om die genetiese potensiaal van hul topramme ten volle te benut. Ooie wat nie na inseminasie dragtig raak nie, word daarna deur die stoet se eie ramme gedek. Vir natuurlike paring word sowat 30 ooie per ram gebruik – so word genetiese gehalte gemaksimeer en word natuurlike paring steeds as deel van die produksiesiklus benut.

Hulle bestuur twee lamtydperke per jaar in die stoet – Maart en September – maar die ooie lam as een groep. Meerlingooie word geskandeer om twee- en drielinge te identifiseer en hierdie ooie lam dan in hokkies, waar hulle vyf dae of langer (vir drielinge) versorg word.

Drie weke voor lamtyd ontvang die ooie ’n spesiale aanvulling van opstoomkorrels om melkproduksie te ondersteun en prestasie te verbeter. Ná lamtyd word die ooie en lammers na groter kampe verskuif, en uiteindelik na weidings met mieliereste, groenvoer of radyse. Lammers word op 100 dae gespeen en geweeg. Die gemiddelde speengewig is 35 tot 36kg, met ‘n paar uitskieters wat bo 40kg weeg.

Louis sê Dohne Merino-lammers is gesog in voerkrale weens hul vinnige groei en goeie voeromsetvermoë.

n Ooi met haar vierling. (Foto: Carel Nel)

Pasmaakvoeding vir prestasie

Die kudde ontvang fasegepaste lekaanvulling op grond van produksiebehoefte en word nie deurlopend op natuurlike veld gevoer nie. Op strategiese tye – soos voor ’n veiling – word hulle van die veld af ingebring en gekondisioneer.

Die ooie met Maart-lammers word ná die lamhokke na aangeplante weidings geskuif, en dan mieliereste tot en met speen. Indien geen reste beskikbaar is nie, kry hulle tot speen veldweiding en ’n hoëgehalte produksielek. Na speen wei hierdie ooie weer op mieliereste, terwyl lammers met ’n pilaanvulling begin. Die ooie met September-lammers beweeg ná lamtyd vanaf die hokkies na kleiner kampe met aangeplante groenvoerweiding, en later na natuurlike somerweiding.

Speenlammers, verduidelik hy, ontvang altyd die beste beskikbare voeding. Indien natuurlike weiding beperk is, kry hulle choc grain of sjokolademielies. Dit is ’n hoë-energie konsentraat wat goeie groei ondersteun.

Prestasiemeting en seleksie

Louis se lammers word op ouderdom ses maande vir die eerste keer geskeer. Op 12 maande volg ’n tweede skeerbeurt, waarna hulle op grond van groei, liggaamslengte en wolkenmerke soos veseldikte geëvalueer word. Hierdie data gaan na die Woltoetsburo, wat ’n verslag terugstuur om ingeligte seleksie- en teelbesluite te ondersteun, soortgelyk aan BLUP-syfers. Op 12 maande word wolgewig, hoeveelheid en veselgehalte gemeet. Hierdie eienskappe, tesame met liggaamsgewig en bouvorm, bepaal die dier se seleksiewaarde.

’n Seleksie-indeks word soos volg toegeken:

  • Bo 100: AA-ram (topklas).
  • Tussen 90 en 100: A-ram.
  • Onder 90: Uitskot (bemark vir slagting).

Die Dohne Merino-ras het ’n prestasiegedrewe, deursigtige seleksiestelsel. Henton Minnaar van BKB is Louis se stoetadviseur en speel ’n sleutelrol in hul besluitneming. Slegs ’n klein persentasie van sy stoetlammers word aan voerkrale gelewer. Ramlammers ondergaan hul eerste keuring en word op ses maande en weer op 12 maande geklas. In elke fase is daar uitskotramme totdat slegs die top 70 tot 90 twee- en viertandramme vir die jaarlikse produksieveiling oorbly. Voor die veiling keur drie onafhanklike inspekteurs elke ram weer individueel. Sleutelkriteria is wolgehalte, hoeveelheid, liggaamsbou en strukturele korrektheid. Net die beste ramme kwalifiseer vir die veilingsaanbod.

Louis se ooie word as een groep bestuur totdat hul teelpotensiaal bepaal is. Topooie word in die stoet behou en só bou hy voortdurend aan sy teelkudde, met die fokus op genetiese verbetering. Topooie wat hy nie self in sy kudde aanwend nie, word as dragtige ooie op die veiling verkoop. Hulle is in groot aanvraag omdat hulle van stoetlyne afkomstig is.

Geen stoetdier word voor 12 maande verkoop nie; hulle moet eers ten volle ontwikkel en geëvalueer word. Die Nello-produksieveiling vind sedert 2001 plaas en is ’n hoogtepunt op die Dohne Merino-kalender. Hul 24ste veiling het op 24 Julie vanjaar op die plaas Ofra by Brandfort plaasgevind. Louis sê hul veiling maak nie op uitskieters staat nie. Sy streng seleksieproses verseker ’n konsekwente, bogemiddelde groep ramme wat vertroue by kopers kweek en hulle jaarliks laat terugkeer.

Data-gedrewe besluitneming

Louis maak sedert die begin van die jaar van BKB se DSS-stelsel (Decision Support System) gebruik vir data-analise om sy teel- en bestuursbesluite te optimaliseer. Lammers in lamhokkies word met ’n oorplaatjie gemerk en saam met die ooie met ’n QR-kode geskandeer. Dit maak onmiddellike herkomsbepaling moontlik.

Die data word na ’n sentrale inligtingsbasis gestuur wat die beste ooie identifiseer – veral dié wat gereeld tweelinge produseer, en goeie speengewigte en hoë wolgehalte handhaaf. Dit vergemaklik die klas van ooie en stel hulle in staat om hul topproduserende ooie te behou en die swakste 10%, waarvan die nageslag nié aan prestasieverwagtinge voldoen nie, uit te skot.

Uitsonderlike genetika

In 2019 het Louis en drie ander telers saam ’n ram, JW 17 619, by Jurie Wessels gekoop. Een van sy seuns, LW 19 315, het later vir ’n volle jaar boaan die Dohne Merino se sogenaamde Elite Sire-lys vir Suid-Afrika verskyn. Die ram het veral in die Wes-Kaap uitgestaan vir sy fynwol en sterk bouvorm, eienskappe wat daar hoog geag word. Hoewel hy geneties van topgehalte was, is die ram later verkoop omdat sy wol te fyn vir Vrystaatse toestande was.

Weens Nello Dohne Merino se puik genetika en streng seleksiebeleid, is hulle in 2013, 2015 en 2019 as streekswenners (Streek 5) in die Dohne-Merino-telersgenootskap se Bobaastelerkompetisie gekroon. Tydens die 34ste BKB nasionale wolveiling (2021/22-seisoen), waartydens 9 700 bale aangebied is, was twee van Nello se bale sesde en negende op die top-tien lys van hoogste prysverkopers. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Louis Nel by 082 824 1163 of stuur ‘n e-pos na nellolw@vodamail.co.za

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 49 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...