Dis die jong geslag wat hierdie land, en die landbousektor in die besonder, vorentoe gaan neem. Hulle het ’n visie vir die land wat nie verstrengel is in die politiek nie, maar gebou is op ’n gesamentlike strewe na sukses.

Lees hier van ‘n uithaler Charolais-boer.

Aan die woord is Nelius Ferreira, Vrystaat Landbou se jongboer van die jaar vir 2018. Hy boer saam met sy pa en twee broers in die Eeram-kontrei buite Harrismith. Die boerdery bestaan uit ’n saaiboerdery, aartappels, appels en beeste, waaronder die bekende Ferrero Bonsmara-stoet.

Hoewel hy in die Vrystaat grootgeword het, het hy sy hoërskoolloopbaan by Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria voltooi en sy graad in elektroniese ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna het hy in 2004 plaas toe gekom om ’n groeiende boerdery saam met sy pa, Kiewiet, en sy ouer broer, Theo, te bestuur.

Vooruitsigte in boerdery

In daardie stadium, onthou Nelius, was die landbou as loopbaan nie baie aanloklik nie en min jongmense het belanggestel om terug te kom plaas toe. Netto winste was baie klein en vooruitsigte nie baie rooskleurig nie. Dis eers ná 2008 dat ’n paar dinge gelyktydig daartoe begin bydra het dat boerdery as beroep weer statuur begin kry het.

“Aan die een kant was daar die wêreldwye resessie in 2008 en aan die ander kant swart ekonomiese bemagtiging, wat werksgeleenthede in die stad beperk het. Dit was egter ook in dié tyd dat veral saaiboerdery sterk momentum gekry en goeie opbrengste gerealiseer het as gevolg van nuwe kultivars en nuwe tegnieke. Aan die veekant het ons ’n groot verbetering in medisyne en lekaanvullings gesien. Die vraag na diere het terselfdertyd ook verhoog en pryse het ’n drastiese sprong gemaak.”

Nelius vertel dat hy spesifieke mikpunte gehad het toe hy plaas toe gekom het. “Ek het op die veefaktor gekonsentreer, terwyl my broer Theo die saaiboerdery op hom geneem het. En ek wou ons Bonsmara-stoet versterk tot waar ons jaarliks gesogte produksieveilings kon hou.

“Om dit reg te kry, was dit duidelik dat ons uitstekende genetika moes bekom. Die gevolg was dat ons bulle noukeurig geselekteer en gaan koop het, en ons nie deur pryse laat afskrik het nie. So het ons in 2004 ’n seun van AG98-338 gekoop en die hoogste prys op die veiling vir hom betaal. Maar omdat hy in ons strategie ingepas het, kon ons dit regverdig. Hierdie bul het ’n redelike impak op ons kudde gehad.”

Uitstekende bulle

Hulle het volgehou om uitstekende bulle te koop en die resultaat was dat hulle sowat drie jaar later bulle op veilings begin beskikbaar stel het, waarvoor hulle baie goeie pryse gekry het. In 2009 het hulle die duurste bul op die nasionale veiling aangebied.

Hy het tydens hul eerste produksieveiling in 2009 vir homself die mikpunt gestel om oor tien jaar (2019) een van die beste kuddes in die land te hê.

“Ons het die afgelope tien jaar beslis redelike vordering gemaak en ek is trots op ons beeste. My ambisie bly steeds warm brand om eendag een van die beste kuddes in die land te hê. En ek wil nie net Bonsmara-bulle aan Bonsmara-telers verkoop nie. Ek wil bulle aan beesboere verkoop omdat hulle weet my bulle gaan ’n verskil in hul kuddes en aan hul agtersakke maak.”

Uitbreidings in appelboerdery

Die Ferreiras het besluit om meer grond te koop as die geleentheid hom voordoen. Daarmee saam het hulle die appelboerdery drasties begin uitbrei. Nelius was juis onlangs in Frankryk om na appelpakmasjiene te gaan kyk, met die oog daarop om hul eie pakskuur op te rig.

Afgesien van sy duidelik-geformuleerde ambisie vir hul Bonsmara-stoet, het Nelius tot onlangs ook ’n aktiewe rol in die georganiseerde landbou gespeel. Hy het onlangs as Vrystaatse voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) uitgetree en daarmee vir ’n wyle sy deelname aan georganiseerde sake op die agtergrond geskuif.

“Een van die waardevolle lesse wat ek geleer het, was dat beplanning uiters belangrik is, maar dat dit nie al is nie. Ná die beplanning moet gewerk word om die planne tot uitvoer te bring. Ek en Theo sê gereeld vir mekaar dat die dinge wat ons nou doen, ’n uitwerking op ons besigheid moet hê wanneer ons kinders se kinders oor 50 jaar daaraan begin dink of hulle by die familiebesigheid wil aansluit of nie.”

’n Spesifieke visie

Hy sê van sy sterk punte is om ’n spesifieke visie te kan ontwikkel, goed te beplan om aan daardie visie lewe te gee en om ook goed te organiseer om die mense om hom met hom saam te neem. Hy probeer op hierdie goeie eienskappe fokus.

Elke keer as hy in die stad kom, kom hy opnuut onder die indruk van die lewensgehalte wat die omgewing bied waarin hy en sy vrou, Jomarli, hul twee seuns, Cornel (6) en Jean (4), grootmaak. Hy voel geen prys kan daarop geplaas word nie.

“My kinders bereik nou die fase waarin ek ’n rol in hul lewens begin speel, en dis wonderlik. Maar dit verg beplanning. Ek probeer in die week om hulle in die bakkie saam te neem as dit haalbaar is, en naweke is dit ek en hulle. Dan gaan skiet ons met die windbuks of ons gaan vang vis.”

Dis vir hom belangrik om nie saans by die huis te kom en so moeg te wees dat hy nie tyd vir hulle het nie. “My oudste gaan volgende jaar skool toe, en ek het klaar besluit dat ek ’n pa gaan wees wat dáár is. Wanneer dit enigsins moontlik is, sal ek langs die sportveld of in die saal wees waar hy optree. Dit beteken dat ek my dagboek heeltemal anders sal moet organiseer. Dis een van die grootste redes waarom ek voorlopig uit die georganiseerde landbou getree het.”

Georganiseerde landbou

Nelius voel deelname aan die georganiseerde landbou is ’n universele dilemma. Aan die een kant is daar nie juis twyfel daaroor dat nuwe denke en innovasie uit die geledere van die jong geslag gaan kom nie. Maar ongelukkig is die jong geslag se prioriteite op hierdie tydstip juis op hul besighede en gesinne gerig.

“Ek dink daar is ruimte vir ’n dinkskrum van jong boere wat aan die landbouleiers verskillende perspektiewe kan voorstel ter wille van goeie besluitneming. Dit mag nou wel arrogant klink, maar ek sal bereid wees om tyd af te staan om aan so ’n dinkskrum deel te neem.”

Hy het ’n besondere visie vir organisasies wat die landbou in die land bedien. “Ek glo so ’n organisasie moet alle boere in die land verteenwoordig, afgesien van kleur of godsdiens. Lidmaatskap en ledegeld moet verpligtend wees en ledegeld moet gaan aan ’n span professionele kundiges, wie se belangrikste taak is om ons produkte op die wêreldmark te verkoop. Ek sou graag wou sien dat dit suiwer ’n bemarkingsgedrewe organisasie is, maar ek is bevrees ons gaan moeilik van die politiek in hierdie land wegkom.

“So ’n organisasie behoort saam met die regering te werk om beleide en strategieë te formuleer om in die eerste plek voedselsekerheid te verseker, maar in die baie belangrike tweede plek om Suid-Afrika ’n gerekende speler op die wêreldmark te maak. ’n Voorbeeld hiervan is die protokolle vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse genetika. Dit behoort ’n absolute prioriteit te wees om dit in plek te kry! Maar intussen veg ons onder mekaar en ons kom nêrens nie.”

Rooskleurige toekoms

Dis in hierdie konteks dat sy hoop op die jong geslag is. “Die jongmense, my geslag, gaan hierdie sake regmaak. Ons wil vorentoe beweeg en ons wil almal met ons saamneem. Ons wil klaarmaak met die kettings van die verlede en vorentoe kyk.

“Ons wil byvoorbeeld ons appels een vir een met ’n ‘Trots Suid-Afrikaans’-plakkertjie merk en op die rakke in China kry, en ons wil hê die Chinese moet opgewonde daaroor wees omdat hulle weet watter gehalte uit hierdie land kom. Ons wil hê die mense in Shangai of Singapoer moet smaaklik sit en eet aan ’n sappige Bonsmara-biefstuk.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Nelius Ferreira by 082 316 3108.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer