Estimated reading time: 4 minutes
ZZ2 pas al vir 20 jaar die konsep van natuurboerdery toe. Die konsep voeg soveel waarde tot die boerdery toe, dat die naam “Natuurboerdery” as een van ZZ2 se bepalende handelsmerkontwikkelaars geregistreer is.
Tommie van Zyl, hoof uitvoerende beampte van ZZ2, het tydens die Suider-Afrika Konferensie van die Internasionale Varsprodukte-vereniging (IFPA), wat onlangs by die Century City Konferensie-sentrum in Kaapstad aangebied is, verduidelik hoe ZZ2 rondom 2003 begin het om natuurboerdery te ontwikkel. Hulle het besef dat konvensionele en industriële landbou nie meer volhoubaar was nie.
“Ons het toe al agtergekom dat sekere peste gevolge was van ons ingrypings om ander peste te beheer. Ons optrede het ’n wanbalans veroorsaak en as die wanbalans eers ontstaan, word dit al groter. Die oplossing was om tegnieke in te bring waar buffereffekte ontwikkel word,” het hy gesê.
Lees meer oor die IFPA-kongres.
Die waarde van buffereffekte

Van Zyl het verduidelik dat ‘n mens in die plantvoedingswêreld ‘n goeie voorbeeld van die buffereffek kan sien. As ‘n mens elke element presies vir die plant moet gee, raak die ingryping baie groot, maar as tegnieke gebruik word wat buffereffekte veroorsaak, kan die ingryping verminder.
By plantvoeding kan kompos die buffereffek veroorsaak. “Waar ons met kompos begin werk het, het ons die totale koste in ’n ander rigting begin stuur. Aanvanklik teen ’n hoër koste, maar mettertyd, soos die energie en die energie-invloed op anorganiese bemestingstowwe groter geword het, het die koste afgeneem.”
Die grootste verrassing was egter die buffereffekte wat met kompos behaal is. Dit het al minder nodig geword om in te gryp. Dieselfde word ook by plantbeskerming ondervind waar voordelige insekte in die stryd teen nadelige insekte gebruik word.
“Hoewel baie werk nog gedoen moet word, word groot suksesse reeds behaal en word voordelige insekte gebruik om sekere peste te beheer omdat konvensionele chemiese middels nie meer doeltreffende beheer bied nie,” het Van Zyl gesê.
Mikrobes het groot potensiaal
Van Zyl het vertel dat die mikrobiese wêreld van bakterieë, fungi, protosoa en nematodes groot potensiaal het om buffer-effekte te skep wat in natuurboerdery benut kan word. Mikrobes is op ’n ander vlak. Kennis van die mikrobiese wêreld is nog baie skraal, maar dit neem toe. ZZ2 is reeds besig om die huidige kennis in toepassings te omskep. Al is dit op ’n klein skaal, is die geleentheid geskep om in die toekoms meer van dié tegnieke te gebruik.
“Dit is redelik algemene mikrobes wat ons gebruik, maar daar is ook spesifieke mikrobes wat ingespan word en dit het voordele gehad. Ons maak nou mikrobiese konkoksies wat selfs gevaarlike en duur plae soos nematodes afweer,” het hy gesê.
Natuurboerdery en ekotoerisme
Van Zyl het gesê die konsep van natuurboerdery soos ZZ2 dit nou toepas, kan verder gevat word. Die idee is dat natuurboerdery die natuur naboots en gebruik maak van die natuur se eie metodes om in die boerdery in te gryp. Sodoende word die natuur ‘n bondgenoot en nie ‘n vyand nie. Daarna moet die waarde van ekosisteem-diensbeskryf word.
“Ons in boerdery leef naby die natuur en kan die ontwikkeling van ons boerderye so aanpak dat ons dieselfde voordele ontwikkel en ekosisteemdienste lewer as in bewaargebiede, soos in die wildtuine. Wanneer dit gebeur, praat ons van groot ekotoerisme-geleenthede in die dampkring van primêre landbou. Natuurboerdery is dus ’n wyer wordende konsep wat verder ontwikkel kan word as wat ZZ2 dit reeds ontwikkel het,” het hy gesê.
Nie organiese boerdery nie
Volgens Van Zyl is natuurboerdery nie heeltemal organiese boerdery nie. Organiese boerdery het baie streng reëls. “Ons ervaring was dat, met die gewasse waarmee ons boer, dit baie moeilik was om kop bo water te hou met die tipe van opbrengste wat ons met organiese boerdery behaal het.”
“Daar is sekere lande wat jou groot premies betaal vir organiese produkte, maar in Suid-Afrika is die mark vir organiese produkte te klein. Dit was vir ons nie ekonomies volhoubaar nie.”
Dit beteken egter nie dat die lesse wat geleer is en ontdekkings wat deur die organiese gemeenskap gemaak is, nie waardevol is en gerespekteer behoort te word nie. “Dit is ’n lang reis en ek dink oor ’n baie lang termyn sal die organiese en konvensionele boerderypraktyke nader aan mekaar beweeg,” het hy gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media