Estimated reading time: 3 minutes
Graan SA en ALFA Expo het onlangs bevestig dat NAMPO ALFA op NAMPO Park steeds voortgaan vanaf 29 September tot 1 Oktober 2022.
Minister Thoko Didiza van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se aankondiging rakende die verbod op die vervoer van beeste ná die bek-en-klou-uitbrekings het egter tot gevolg dat minder beeste waarskynlik deel van die ekspo sal uitmaak. As lewendehawe-ekspo is die fokus op alle lewendehawe wat onder andere skape, bokke, varke en perde insluit, sowel as honde en pluimvee – wat in die stadium nie deur die verbod geraak word nie. Die jag- en buitelewe-komponent word uit die aard van die saak ook glad nie beïnvloed nie, en die organiseerders is opgewonde oor die eerste aanbieding van NAMPO ALFA.
Lees meer oor die BKB Merino Classic hier.
As verantwoordelike rolspelers in die lewendehawebedryf sal die organiseerders aan alle reëls en regulasies soos deur die minister uiteengesit, voldoen. Alle biosekuriteitsmaatreëls is reeds in plek en sal net nóg meer nougeset toegepas word om die risiko so goed as moontlik te bestuur. Hierdie protokolle is reeds suksesvol tydens die Bloemskou en NAMPO toegepas. Die organiseerders werk ook saam met leiers in die bedryf en staatsinstellings in hierdie verband.
Beesgetalle beperk
Tans vind NAMPO ALFA buite die verbodtydperk van 21 dae plaas. Nogtans het die organiseerders verantwoordelik besluit om beesgetalle so ver as moontlik te beperk en slegs projekte te akkommodeer waar risiko’s doeltreffend bestuur kan word, deur middel van protokolle in samewerking met veeartse.
Gelukkig leen die aard van die ekspo en onderskeie projekte hul daartoe om goeie bestuur toe te pas. Die projekte wat wel groter risiko’s inlaat en moeiliker bestuur word, word afgestel en aanlyn voortgesit. Daar kan dus nou meer nougeset gefokus word op die toepassing van die protokolle op hierdie projekte en kan ook dien as ’n platform om die doeltreffende toepassing van biosekuriteitsprotokolle ten toon te stel.
Die kleinveeprogram gaan soos beplan voort. Dit sluit deelname van meeste kleinveerasse in Suid-Afrika wat deelneem aan ’n verskeidenheid kleinveeprojekte in. Dieselfde geld ook vir die vark-, pluimvee- en perde-programme. Hier sal die protokolle steeds nagekom word, in oorlegging met kundiges en veeartse.
Lees meer oor interrasbeoordeling hier.
Indien daar verdere aankondigings rakende regulasies sou wees, sal die situasie herevalueer word en besluite dienooreenkomstig aangepas word. Dit is egter deurgaans ons erns om ons rol verantwoordelik na te kom in die lig van die huidige bek-en-klou-seer-situasie.
“Ons is baie opgewonde om die nuwe NAMPO ALFA-ekspo aan te bied en daar gaan vir almal iets wees om na uit te sien. Daar is ’n groot verskeidenheid van hoë-gehalte jag- en buitelewe-uitstallers. Hinterland het gehelp om ’n skietbaan te bou, waar praktiese demonstrasies kan plaasvind gedurende die skou, met selfs die moontlikheid van kompetisies,” sê dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: NAMPO, bemarking- en navorsingskoördinering.
“Besoekers kan ook oor die 4×4-baan ry en ’n gevoel van die voertuie in veldtoestande kry. Die doel van die ekspo is bowenal om aan elke besoeker ’n praktiese ervaring te bied. ’n Hoogtepunt is laastens die nasionale veldwedren, waar talle bekende renjaers in aksie gesien kan word,” het Strydom afgesluit. – Persverklaring, Graan SA