Die NamLamb-span moes ongelukkig aan die eerste Lamb Champs Invitational, wat op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria plaasvind, onttrek. Dit volg ná die uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) in Namibië. Die Namibiese span van tien lede is op 18 September amptelik in Windhoek aangekondig en sou kop-aan-kop teen tien Suid-Afrikaanse produsente in die eerste internasionale weergawe van Lamb Champs meeding.
Namibië se Direktoraat Veeartsenydienste het sedertdien sommige van die beperkings wat ná die uitbreking ingestel is, gedeeltelik opgehef. Die uitbreking bly egter tot die Kharas-streek beperk en sekere beperkings op die beweging van diere bly van krag. Gegewe die onsekerheid wat deur die uitbreking veroorsaak is, asook die biosekuriteitsoorwegings rondom die beweging van vee en diereprodukte, het NamLamb en Lamb Champs ooreengekom dat die Namibiese span aan vanjaar se kompetisie sal onttrek.
Francois Rossouw, stigter van Lamb Champs en HUB van Saai, sê die onttrekking is teleurstellend, veral ná die entoesiasme wat tydens die NamLamb-bekendstelling geheers het. “Ons het minder as twee weke gelede in Windhoek gestaan en tien Namibiese produsente voorgestel wat gereed was om Suid-Afrika aan te vat. Niemand wou hê hul reis moes só eindig nie. Dieregesondheid en biosekuriteit moet egter eerste kom en ons ondersteun die verantwoordelike besluit wat deur die NamLamb-span geneem is ten volle.”
Die Invitational gaan voort
Die Lamb Champs Invitational sal op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel voortgaan, met ’n aangepaste kompetisieformaat wat in die komende week aangekondig sal word. Rossouw sê dat die terugslag die bestaansreg van die Invitational eerder versterk as verswak het. “Dit was nog altyd die bedoeling dat die Invitational veel groter as ’n eenmalige Suid-Afrika-teen-Namibië-kompetisie moet word. Ons bou ’n internasionale platform rondom die produsent, sy produk en die verbruiker. Namibië se onttrekking verander die spanne wat vanjaar deelneem, maar dit verander nie waarheen ons met die konsep op pad is nie.”
Die Invitational verteenwoordig die volgende fase in die ontwikkeling van Lamb Champs – van ’n reeks streekskompetisies tot ’n kompetisie wat ontwerp is om ’n veel groter gehoor te bereik. Vir die eerste keer sal die Invitational regstreeks oor verskeie media- en verspreidingsvennote uitgesaai word, met die potensiaal om gesamentlik meer as 1,5 miljoen kykers te bereik. Dit verander die omvang van die blootstelling wat die deelname aan Lamb Champs aan ’n produsent kan bied.
“ ’n Produsent wat aan een van ons streekskompetisies deelneem, het tradisioneel die geleentheid gehad om sy produk op die dag aan ’n paar duisend mense bekend te stel. Die Invitational gee ons die vermoë om dieselfde produsent, sy plaas, ras en produk aan ’n gehoor, wat potensieel in die honderdduisende gemeet kan word, bekend te stel,” sê Rossouw. “Daardie blootstelling maak saak. Landbou het platforms nodig waar verbruikers die mense kan ontmoet wat werklik hul kos produseer. Die produsent behoort nie iewers tussen die plaashek en die winkelrak te verdwyn nie.”
Van kompetisie tot internasionale platform
Die Invitational word ontwikkel as ’n vermaakgedrewe landboukompetisie waarin die produsente en hul produkte steeds die hoofrolspelers is. In plaas daarvan om slegs op toeskouers by die geleentheid staat te maak, is die nuwe formaat ontwerp vir sowel ’n gehoor by die geleentheid, as kykers wat dit aanlyn volg.
Rossouw glo dit sal die formaat toenemend relevant maak vir produsente, landbouhandelsmerke en verbruikers. “As ons wil hê landbou moet meer mense se aandag trek, kan ons nie verwag dat verbruikers altyd na ons toe moet kom nie. Landbou moet ook gaan waar die gehoor is. Lamb Champs neem iets ongelooflik eenvoudig – produsente wat meeding om te bepaal wie die lekkerste lamsvleis produseer – en gebruik dit om verbruikers bekend te stel aan verskeie skaaprasse, boerderystreke, produksiestelsels en, die belangrikste van alles, die mense agter hul kos.”
Die internasionale komponent sal daarom sentraal tot die toekoms van die Invitational bly. Namibië bly deel van die langtermyn visie, terwyl spanne uit twee bykomende lande beplan word om in 2027 by die kompetisie aan te sluit. Dit sal die Invitational verder as die oorspronklike formaat tussen twee lande uitbrei.
“Ons het begin met die idee van twee lande en 20 produsente. Wat ons nou bou, het die potensiaal om ’n jaarlikse internasionale vertoonvenster vir skaapprodusente te word. Die werklike fokus is nie bloot om te bepaal wie die lekkerste lamsvleis produseer nie. Dit is om ’n platform te skep wat waardevol genoeg is dat produsente uit verskillende lande daarin wil meeding, verbruikers daarna wil kyk en landbou-ondernemings daarmee geassosieer wil word.”
Hou die pers dop
Besonderhede oor die aangepaste 2026-kompetisieformaat, deelnemende produsente en die program sal gedurende die komende week aangekondig word. Die Lamb Champs Invitational vind op 31 Oktober 2026 by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria plaas. Vir meer inligting, kontak Francois Rossouw by 082 575 5484 of francois@saai.org, Ine Bester kan ook gekontak word by 082 613 0805 of ine@saai.org. – Mediavrysteling, Lamb Champs