Estimated reading time: 2 minutes
Vetplante en die kleurryke blommeprag is die juwele van die Namakwaland wat wêreldwyd besing word.
Ongelukkig het die gebied se vetplante ook ’n smokkel-item geraak en die inwoners en polisie het hul hande vol met diegene wat onwettig die vetplantjies uithaal. Die mark vir hierdie unieke plante van die Namakwaland lê in die Oosterse lande.

Berto Archer, voorsitter van Namakwaland Landbouvereniging, sê in die Oosterse lande het die mense nie die voordele van groot tuine soos in Suid-Afrika (SA) nie en moet hulle klein Zen-tuintjies gebruik. Vir baie is die unieke vetplantjies uit Namakwaland ’n statussimbool om in dié Zen-tuintjies te plant. Op die oorsese markte verdien so ’n klein vetplantjie groot bedrae geld.
Die plantjies is maklik om te plant, dit groei stadig, behou vir ’n lang tyd hul vorms en kan in ’n klein tuintjie ’n sieraad wees.
Archer sê uit vorige gevalle waar misdadigers in hegtenis geneem is, is gevind dat daar sindikate is wat agter die misdaad is. Hy noem ook dat daar ’n groot werkloosheidsprobleem in Namakwaland is en betrokke misdadigers dikwels mense is wat werkloos is en kontant betaal word vir die misdaad. Daarom is dit maklik om ’n handlanger te kry wat die vuilwerk doen.

Volgens hom kom die probleem al ’n tyd lank en was daar aanvanklik ’n planteenheid in die polisie om dié probleme aan te spreek, maar die eenheid is ontbind en by die veediefstaleenheid gevoeg.
Persone wat besorg is oor die misdaad het egter besluit om hande te vat en verskeie rolspelers soos die veediefstaleenheid, Sanparke, natuurbewaring en georganiseerde landbou gaan in die toekoms saamstaan om die juwele van Namakwaland te beskerm. – Koos du Pisanie, AgriOrbit