Estimated reading time: 4 minutes
Chris du Toit (79), ’n formidabele mens, ’n ware anker en steunpilaar vir georganiseerde landbou. ’n Leier met ’n sagte hart en ’n oor wat luister. Dit is hoe leiers in georganiseerde landbou Chris du Toit, ’n gewese voorsitter van Agri Wes-Kaap, Agri SA, en ook die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika (Agbiz), beskryf. Du Toit is op 20 Augustus oorlede.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê sy visie, wysheid, en vasberadenheid het diep spore gelaat, nie net in die strukture van georganiseerde landbou nie, maar ook in die harte van almal wat bevoorreg was om saam met hom te werk. Hy het die koers help hou in tye van uitdagings, en die weg gebaan vir vooruitgang en samewerking in tye van groei, sê Strydom. “Ons onthou hom as ’n man van integriteit, iemand wat sy lewe aan die bevordering van landbou en die ondersteuning van sy medeboere toegewy het. Sy nalatenskap leef voort in die sterk fondamente waarop georganiseerde landbou vandag steeds rus,” sê Strydom.
Du Toit is in 1946 gebore, hy het in die Paarl grootgeword en landbou studeer aan die Universiteit Stellenbosch. In 1969 het hy saam met sy pa op die plaas Paarl-Vallei begin boer.
Voorsitter van Agri SA en Agbiz
Hy het dadelik deel van georganiseerde landbou geword. Van 1970 af was hy tesourier, sekretaris. en ondervoorsitter van die Paarlse Boerevereniging. In 1979 is hy tot voorsitter van die Paarlse Boerevereniging verkies en in 1981 as bestuurslid van Agri Wes-Kaap.

Du Toit is in 1984 tot visevoorsitter en in 1990 as voorsitter van Agri Wes-Kaap verkies. In 1993 is hy tot vise-voorsitter van Agri SA verkies en van 1995 tot die jaar 2000 was hy voorsitter van Agri SA.
Du Toit was ook die enigste persoon wat voorsitter van Agri SA en die Landboubesigheidskamer (nou Agbiz) was. Hy het van 2002 tot 2006 as voorsitter van Agbiz gedien.
Du Toit wat tot met sy afsterwe deel van georganiseerde landbou en het op die raad van Agri Wes-Kaap gedien waar hy gereeld waardevolle insette gelewer het, sê Strydom. Hy was ook erevoorsitter van Agri Wes-Kaap, Agri SA, en Agbiz.
Termyn vol uitdagings
Sy termyn as voorsitter van Agri SA was vol uitdagings omdat dit net na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 was. As voorsitter van Agri SA het hy ’n groot rol gespeel om gesonde verhoudinge tussen die landbousektor en die nuwe regering te handhaaf. Dit kon hy doen deur ’n goeie vertrouensverhouding tussen hom en president Nelson Mandela te handhaaf, met gereelde kommunikasie tussen hulle.
In dié tyd was Du Toit ook lid van die president se Werkgroep oor Ekonomiese Aangeleenthede. Hy het die amp het van 1995 af vir 12 jaar beklee. Hy het ook van 1995 tot 2000 die landbousektor in die National Economic Development and Labour Advisory Council (Nedlac) verteenwoordig en gedien op die uitvoerende komitee van Business Unity South Africa.
Sy voetspore lê wyd
Buiten sy pad in die georganiseerde landbou het hy ook die landbou op vele ander terreine gedien. Hy was onder meer ’n direkteur en ondervoorsitter van Kaap Agri, ’n direkteur en voorsitter van die Boland Wynkelder, ’n direkteur van die KWV, ’n direkteur van Land Bank Versekering (LBV), voorsitter van die Paarl Nasionale Wynskou Vereniging, ’n lid van die Landbounavorsingsraad (LNR), en het die landbousektor van 1987 vir agt jaar in die Nasionale Mannekragkommissie verteenwoordig.
Du Toit het in 2021 ’n spesiale toekenning as Landbouskrywers SA se Landboupersoonlikheid van die Jaar ontvang vir sy volgehoue bydrae tot die breë landbousektor oor jare. Du Toit laat sy vrou Frouwien, ’n seun en drie dogters agter. – Hugo Lochner, Plaas Media






