‘n Kragtige geskenk vir landbou-barmhartiges

Estimated reading time: 5 minutes

‘n Merweville nougatfabriek, Karoo Blessings, wat hulp aan droogtegeteisterde distriksboere verleen, het sélf onlangs hulp in die vorm van ‘n R175 000 sonkragstelsel ontvang. Dié stelsel is in April deur die landbouhulpskema, die Agri Relief Foundation (ARF), geskenk.

Lees hierdie persverklaring in Engels.

“Wat ‘n blessing! En só onverdiend en onverwags. Ons was eintlik net besig om kliënte in kennis te stel dat ons bestellings as gevolg van beurtkrag laat gaan wees,” vertel Marian Esterhuizen, mede-eienaar van die nougat-besigheid, Karoo Blessings.

Beurtkrag het dié fabriek herhaaldelik laat stilstaan, omdat nougat glad nie gemaak kan word indien daar enigsins vog in die lug is nie. Merweville is eintlik ideaal vir nougat, omdat dit so droog is. Tog is ‘n ontvogtiger (dehumidifier) deurgaans in die fabriek aangeskakel om te verseker dat die nougat in droë omstandighede gemaak word. “Sodra ons masjiene gereed is om te begin produseer, dan tref beurtkrag en alles kom tot ‘n stilstand.”

Klein besigheid met ‘n groot hart

“Die groot rede waarom die ARF aangebied het om Karoo Blessings met die sonkragstelsel te help, is omdat R30 van elke Boere Blessings-boksie netso aan droogtegeteisterde boere geskenk word,” sê Esterhuizen. “Hierdie is ‘n langtermyn, volhoubare projek.”

Marian en haar vennoot, Suzaan Theron, het in 2020 die boereboksprojek van stapel gestuur, nadat Merweville se boere reeds sewe jaar onder droogte gebuk gegaan het. “Ons is twee natuurlike gewers, maar die droogte het ons ‘gee’ kom steel. Só het ons die boereboks-projek begin. Dit het ons ‘n geleentheid gegee om weer te kón gee, sonder dat dit ons iets gekos het.”

Die vriendinne het besluit om die nood binne hulle Merweville-kerk se grense te bepaal, omdat hulle ‘n manier moes kry om te bepaal wie hulle sou kon help en wie nie. “Daar was 70 boere in die kontrei en ons het met almal in kontak getree.”

Uiteindelik het 50 uit die 70 boere hulp aanvaar. Die oorblywende 20 was óf besigheidsmanne (leefstylboere) óf afgetredenes wat op hul pensioengeld kon oorleef. Tog het tien van dié ook gevra om hulp te ontvang in die vorm van veevoer en -medikasie.

“Dit was ‘n groot aanduiding van hoe groot die nood was, want hierdie is trotse mense. Om teenoor ‘n medeboer se vrou te erken dat jy hulp benodig, is nie maklik nie. Dit wys net dat daar regtig geen ander uitweg was nie,” sê Marian.

Lees meer oor sonkrag in die Karoo.

Ons ken self hierdie swaar

Marian en Suzaan is beide met produsente getroud en ervaar dus eerstehands die invloed van die droogte op boerderye. Tewens, Marian se man, Joubert, het self ondersteuning in die vorm van veevoer vanuit die droogtehulpfonds ontvang.

“Die regering het ramphulp gestuur en daarvoor is ons dankbaar. Dit het beteken dat baie boere nie hul grond hoef te verkoop nie. Ongelukkig was dit nie voldoende nie. Tog het ons mense opgestaan en vir ons gesorg, en daarvoor is ‘n mens dankbaar.”

Marian sê dit maak ‘n ongelooflike verskil in ‘n mens se gemoed om te besef dat iemand aan jou gedink het toe hulle ietsie geskenk het.

Vandag ontvang slegs 32 boere in die Merweville-distrik steeds ondersteuning vanaf Karoo Blessings. “Die ander 18 kry steeds swaar, maar dit gaan deesdae beter en hulle kan nou terugstaan, sodat hul medeboere meer ondersteuning kan ontvang. Maar, dit gaan baie reënjare neem om ‘n dekade se droogte te breek. Ons gaan dalk nooit weer kan opmaak wat ons verloor het nie.”

Genade kom egter in talle vorme, sê sy. “Soms skenk die Here reën, maar op ander tye stuur Hy nougat of ‘n geskenkboks of iets anders.”

Die sonkrag-geskenk

En soms kom seën in die vorm van ‘n sonkragstelsel, wat deur die ARF geskenk word. Die ARF is juis gestig om boere by te staan in rampspoedige tye. Landbou-risiko’s sluit natuurrampe, ongunstige produksie- en marktoestande, ongewenste politieke klimaat en misdaad in.

Hoewel daar talle versekeringsplanne en ander meganismes bestaan om risiko te bestuur, is dit nie moontlik of prakties om alle risiko’s wat die hedendaagse Suid-Afrikaanse boer in die gesig staar, proaktief te bestuur nie. Dis hier waar die ARF, ‘n nie-winsgewende instansie, inkom om landbouprodusente in tye van nood by te staan. Die ARF poog om te finansieel en op ander maniere te help tydens rampspoedige tye.

Die huidige direksie van die ARF bestaan uit dr Frikkie Maré, akademiese hoof van die Departement van Landbou Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, Ernst Janovsky, ‘n afgetrede landbou-ekonoom en voormalige hoof van Absa Agribesigheid, Johan van den Berg, landbou-metereoloog met meer as 36 jaar ervaring, en Anton Niemann, voormalige algemene bestuurder van smeermiddels by Shell.

Toe die direksie besluit het om die skenking aan Karoo Blessings toe te staan, was die grootste beweegrede die feit dat hierdie klein besigheid soveel verligting aan soveel boere bring. Dit het net sin gemaak om hulle deure oop te hou en die masjiene aan die gang te hou, sodat hulle kan aanhou om hulle wonderlike werk te verrig. – persverklaring, Agri Relief Foundation (ARF)

Meer inligting:

Agri Relief Foundation: Besoek www.agriref.co.za of epos info@agriref.co.za.

Karoo Blessings: 083 659 4684, epos karoo.blessings@gmail.com of besoek Karoo Blessings | Merwewille op Facebook.

Lutz Nell, besturende direkteur van Agribonus: 082 565 4865

Frik van der Westhuizen, HUB van MyBonus: 082 490 6274

Must read

BKB Merino Ope vertoon die room van SA Merino’s

Estimated reading time: 2 minutes Die BKB Merino Ope wat deur Nampo Kaap op Bredasdorp aangebied is, het 13 Merino-telers gelok wat met uitstekende diere teen mekaar meegeding het. Die teler wat die meeste...

Katoen-verwysingsprys: Week van 25 tot 29 September 2023

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

EDE Farming 2023 Boeredag: Bulkrag, die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 3 minutes Op 30 Augustus vanjaar het EDE Frieslands, ’n vertakking van Ede Farming, hulle jaarlikse boeredag aangebied onder die tema ‘Bulkrag, die sleutel tot sukses’. Michiel Heyns, ’n Jersey-boer vanuit die...
Fluctuations in fertiliser prices impact on food inflation.

Inclusive regional value chains can create opportunities

The 17th Annual Competition Law, Economics, and Policy Conference hosted by the Competition Commission in conjunction with the Competition Tribunal recently brought together role-players in Johannesburg to share insights on the current state of...

RSG Landbou: 3 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

‘n Angoraprodusent van die Willowmore-omgewing, Fred Colborne, het vroeër vanjaar ‘n wêreldrekordprys vir ‘n baal kleinbokkiehaar behaal. Ons gesels met hom in Dinsdag se aflewering van RSG Landbou en hoor wat sy ondersteuners van...