Estimated reading time: 4 minutes
’n Innoverende rekenaarprogram is ontwikkel om kalwers vir voerkrale volgens hul groeipotensiaal te selekteer. Deur hulle in groepe te plaas, word die voer doeltreffender in vleis omgeskakel. Dit bied aan produsente die kans om premies vir goeie gehalte kalwers te verdien en verhoog voerkrale se winsgewendheid.
Dr Andy Hentzen van Agri Farmacy SA, en ’n spesialisveearts by die Universiteit van Pretoria, het uitgebreide navorsing gedoen en bevind dat die praktyk om speenkalwers volgens geslag en voorkoms te groepeer, nie altyd ‘n finansiële voordeel inhou nie. Studies toon dat kalwers wat fisies soortgelyk is, nie noodwendig identies presteer op dieselfde dieet nie, aangesien groei deur genetiese merkers beïnvloed word.
Dit het hom laat wonder: Watter kenmerke het ’n kalf wat suksesvol in ’n voerkraal kan groei? Daarom het hy besluit om ’n metode te ontwikkel om sulke kalwers te identifiseer, verkieslik deur hul duidelik sigbare eienskappe.
Tydens die navorsingsprojek is kalwers, wat wissel van uitstekende tot swak groeiers, met drie uiteenlopende rantsoene gevoer. Die bevinding was dat die beter groeiers uitgeblink het met die standaardrantsoen wat meeste voerkrale as basis gebruik, terwyl die swakkeres nie so goed gevaar het nie.
Lees meer oor die splinternuwe beesvoerkraal-ekspo hier.
’n ‘Warm’ rantsoen is nie altyd beter nie
Wanneer kalwers ’n rantsoen met ’n hoë energievlak (bekend as ‘n ‘warm’ rantsoen) ontvang, is dit die beter groeiers wat die beste reageer, terwyl swakker groeiers nie baie goed reageer nie. Dit beklemtoon die behoefte aan verskillende rantsoene vir verskillende groeigroepe.
Daarteenoor toon kalwers wat nie so goed groei nie, ’n beter reaksie op ’n rantsoen met minder energie en meer vesel. Dit dui daarop dat ’n mens nie die prestasie van swakker groeiers kan verbeter deur net die rantsoen aan te pas nie. Die kalwers wat goed groei, het egter die vermoë om selfs beter te presteer op ’n ‘warm’ rantsoen.
Die voerinname tussen die verskillende produksiegroepe het opmerklik gewissel. Die goeie groeiers het binne 17 dae in die voerkraal, meer as 2,5% van hul liggaamsgewig gevreet. Met die standaardrantsoen was die inname redelik konstant, maar die kalwers wat swakker presteer het, het aansienlik meer van die swak rantsoen as die ander twee groepe gevreet.
Dr Hentzen beklemtoon dat die voeding van ’n goeie groeier met ’n swak rantsoen nie raadsaam is nie. ’n Gemiddelde groeier produseer gewoonlik ’n karkas wat 10% ligter is op ’n swak rantsoen in vergelyking met ’n gemiddelde rantsoen. Verder kan ’n swak groeier se karkas tot 15kg ligter weeg as dié van ’n gemiddelde groeier wanneer albei met ’n gemiddelde rantsoen gevoer word.
‘n Rekenaarprogram om kalwers te identifiseer
Met hierdie inligting wou hy ‘n manier vind om die kalwers met die beste groeipotensiaal op grond van hul voorkoms te identifiseer. Hy het verskeie fisiese eienskappe geïdentifiseer wat dui op ’n kalf se vermoë om goed te groei in ‘n voerkraal. Uiteindelik het hy meer as 150 spesifieke punte uitgelig. Hy kon mettertyd met sowat 88% akkuraatheid voorspel watter kalwers op grond van hul voorkoms, die beste in die voerkraal sal presteer.
Dr Hentzen het besef dat hy ’n gebruikersvriendelike rekenaarmodel moes skep wat doeltreffend, vinnig en maklik in die praktyk gebruik kon word om sy stelsel vir produsente en voerkraalkopers toeganklik te maak.
Daarom het hy begin deur ʼn driedimensionele beeld van die kalf met behulp van kameras op die rekenaar te laai. Die rekenaar is dan geprogrammeer om elke punt te meet, analiseer en evalueer op grond van die belangrikheid daarvan in die bepaling van die kalf se groeipotensiaal.
Dit sluit onder meer skeletontwikkeling (beenstruktuur), spiergroei en bouvorm in. Om sukses in die voerkraal te verseker, is dit noodsaaklik om te identifiseer watter kalwers – hetsy goeie, gemiddelde, of swak groeiers – die meeste tot die winsgewendheid van die hele groep bydra. Dit is ‘n sleutelfaktor in die optimalisering van produksie en wins.
Betaal die regte prys
Hierdie benadering stel speenkalfkopers in staat om ’n ingeligte besluit te neem oor die prys wat hulle bereid is om te betaal vir kalwers met ‘n hoë groeipotensiaal, en om ‘n regverdige prys vir die kalwers met minder potensiaal te bepaal. Benewens die koopprys van kalwers, is die prys van voer gewoonlik die grootste uitgawe om kalwers markgereed te maak. Met ʼn goeie aanduiding van hoeveel groei van elke kalf kan verwag kan word en wat die voer gaan kos, raak die som al hoe makliker.
Deur ’n hoë-gehalte rantsoen aan sterk groeiers te voer en ’n meer bekostigbare een aan die minder produktiewe kalwers, kan elke kalf bydra tot die onderneming se algehele wins. Dr Hentzen meen kalwers met ’n laer groeipotensiaal kan ideaal gesproke vir ‘n maksimum van 90 dae gevoer moet word voordat hulle verkoop word, aangesien die koste van verdere groei nie opweeg teen die waarde van die vleis nie.
Hy glo dat hierdie benadering en die implementering daarvan in die beesvleisbedryf, belangrik is vir produsente wat volhoubaar en winsgewend wil boer. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak dr Andy Hentzen by 082 372 0307, of stuur ’n e-pos na andy@agrifarmacysa.co.za of info@agrifarmacysa.co.za.