Estimated reading time: 5 minutes

Pogings word opnuut aangewend om Suid-Afrika (SA) se handels- en logistieke omgewing in pas te kry met internasionale norme, wat daarop gemik is om die wyse waarop sake gedoen word, te vergemaklik.

Dié poging word deur Business Unity South Africa (BUSA) en ander belanghebbendes aangewend, wat nou angstig wag op terugvoer vanaf die Departement van Vervoer en Openbare Werke. Dit kom nadat ’n versoek aan minister Fikile Mbalula gerig is om wetgewing te hersien waarin die maksimum toelaatbare hoogte van voertuie, waarop verskepingshouers vervoer word, gespesifiseer word, maar die gebruik van hoëkubus-verskepingshouers vir padvervoer verbied word.

Die uitvoerende hoof van Agbiz, Theo Boshoff, sê hulle staan bankvas agter BUSA wat nou poog dat dié jarelange kwessie dringend aangespreek word. Mbalula is versoek om die regulasies te hersien sodat die gebruik van hoëkubus-verskepingshouers op openbare paaie wettig is. Sodoende sal onsekerheid oor beleid uit die weg geruim word. Dringende optrede in dié verband is noodsaaklik omdat die gebruik van dié hoëkubus-houers ’n internasionale norm is en omdat dit voordele vir die landboubedryf inhou.

Die wetgewing

Boshoff verduidelik dat Artikel 224 (b) van die Regulasies tot die Wet op Nasionale Padverkeer, 1996 (Wet 93 van 1996) nie na hoëkubus-houers verwys nie, maar slegs na die maksimum toelaatbare hoogte vir standaard verskepingshouers op voertuie (vragmotors met sleepwaens) vir openbare padvervoer. “Weens die uitdagings is daar tien jaar gelede ’n moratorium geplaas op die uitvoering van die regulasie, maar dit is tegnies gesproke onwettig om dié hoëkubus-houers op openbare paaie te vervoer.”

Volgens BUSA is die saamgestelde hoogte van ʼn voertuig wat die hoëkubus-houers vervoer tans 4,8m, wat dit dus 300mm bó die wettige limiet maak. Boshoff sê die werklike probleem kom neer op die hoogte van ’n standaard vragmotor met ʼn standaard sleepwa waarop dié vraghouers vervoer word, wat hoër is as die maksimum toelaatbare hoogte.

Instelling van ’n moratorium

Boshoff sê ’n belangrike aspek vir die landboubedryf is die feit dat dié hoëkubus-houers verkoelingsgeriewe het en waardevol is vir die uitvoer van varsprodukte soos vrugte. Hoëkubus-houers word ook vir die vervoer van algemene droë goedere gebruik, maar koelhouers (reefer containers) met verkoelingsgeriewe daarin is noodsaaklik vir die landboubedryf. Hy verduidelik dat vrugte in vragmotors met verkoelingsgeriewe na gemeenskaplike pakhuise vervoer word. By pakhuise word dit verpak en verkoel, en in gekoelde, hoëkubushouers gepak waarna dit op paaie na hawens vervoer word. Daarvandaan word dit per skip na buitelandse invoerders uitgevoer.

Dit is hier waar die groot uitdaging lê. Dié kwessie is bykans ’n dekade gelede onder die departement se aandag gebring. Hy meen Artikel 224 (b) is tot op hede nog nie geïmplementeer nie, weens die betekenisvolle uitdaging wat dit vir Suid-Afrika se internasionale handel inhou. Die direkteur-generaal het destyds besluit om ’n moratorium in plek te stel waarin daar onderneem is dat die Artikel in die betrokke wetgewing nie ingestel sal word nie.

Boshoff sê uit ’n tegniese oogpunt is dit dus onwettig om die hoë-kubus-verkoelingshouers op openbare paaie te vervoer ingevolge wetgewing, maar die houers word tans op Suid-Afrikaanse paaie vervoer weens die moratorium. Dít is egter nie die tipe regsekerheid en beleid wat betrokkenes nodig het nie. Die gebruik van dié houers op openbare paaie is gegrond op die aanname dat die departement nie die regulasie in die wet gaan implementeer nie. Boshoff meen as dit die geval is, moet die wet gewysig of aangepas word sodat die gebruik van dié houers wettig is.

Die internasionale norm

Boshoff sê daarmee saam is die gebruik van die hoëkubus-houers met padvervoer ʼn internasionale standaard. Die eenheidskoste om dit te vervoer is nie noodwendig veel meer nie, terwyl dit tegnologies meer gevorderd is, en daar meer produkte per eenheid vervoer kan word.

Suid-Afrika kan nie onafhanklik sy eie planne beraam in terme van dié hoëkubus-houers nie omdat die gebruik daarvan internasionaal die standaard word, juis omdat meer produkte daarin vervoer kan word teen relatief dieselfde vervoerkoste, maar met ʼn hoër massa-inhoud. Dit sal ook nie slim wees om verkoelingsgeriewe in kleiner verskepingshouers te plaas nie. “Sit dit eerder in groter houers sodat die koste makliker versprei kan word.”

Boshoff meen die uitvoerbedryf van veral vrugte wat verkoel moet word, kan in die proses negatief geraak word. Internasionale skepe laai dié houers op wat die res van die wêreld vereis en as daar aangedring word op ander tipe verskepingshouers weens die plaaslike regulasies oor padvervoer, gaan dit in ’n ‘logistieke nagmerrie’ ontaard.

Onduidelike antwoorde

Boshoff sê gesprekke rondom dié kwessie is al jare met die regering en die Nasionale Padagentskap (Sanral) aan die gang. “Ons glo Sanral is bekommerd oor die impak van dié houers op hul infrastruktuur, maar min detail is beskikbaar en daar is onduidelikheid oor die werklike aard van die impak.”

Lae brue wat oor snelweë gebou is, kan nie ’n probleem in Suid-Afrika wees nie, want daar is busse wat hoër is as ’n vragmotor met ’n sleepwa met ʼn hoëkubus-houer daarop. “Dit is baie moeilik om met ’n alternatief na vore te kom as ’n mens nie ’n duidelike aanduiding het oor wat die uitdagings met betrekking tot dié houers is nie,” sê Boshoff. “Die kostes van alternatiewe opsies moet ook in ag geneem word. Infrastruktuur by pakhuise en ander bergingsgeriewe is met ’n sekere laaihoogte in gedagte gebou. Indien dit vereis word dat sleepwaens ’n ander hoogte moet wees, sal al die infrastruktuur teen aansienlike kostes aangepas moet word. “

Bosoff sê juis daarom moet ʼn sinvolle oplossing, wat die werklike risiko’s aanspreek sonder om onnodige kostes aan te gaan, gevind word.

Vir meer inligting kontak Theo Boshoff by 012 807 6686 of theo@agbiz.co.zaChristal-Lize Muller, AgriOrbit

wegholveldbrande