Tuesday, January 13, 2026

Mpumalanga produsente bly hoopvol, máár…

Estimated reading time: 7 minutes

Terwyl verskeie produsente verlede Donderdag tydens Agri Mpumalanga se kongres in Witrivier bevestig het dat Suid-Afrika hul voorkeur-woning bly, sal sokkies op nasionale vlak opgetrek moet word.

Die kongrestema was “Hier om te bly” en produsente is ’n kans gegun om oor voor- en teëspoed te getuig en redes te verskaf oor hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly, eerder as om die land te verlaat.

Die provinsie se topboerevereniging van die jaar is Platrand-boerevereniging. Rutger le Roux, ’n verteenwoordiger van King Price het die toekenning aan Andries Botes, sekretaris van Platrand-boerevereniging oorhandig. Van links is Rutger le Roux, Andries Botes, en Lion du Plessis, herkose voorsitter van Agri Mpumalanga.

Onteieningswet krap

Die Suid-Afrikaanse Onteieningswet van 2024 was een van die grootste kommerpunte. Gert Smith, voorsitter van Witbank-distrikslandbou-unie (DLU), sê nadat die parlement die betrokke wet goedgekeur het, was daar ’n nasionale verkiesing in Mei 2024 waarna ’n regering van nasionale eenheid (RNE) op die been gebring is. “Ten spyte van die verkiesing – waar die meerderheid van Suid-Afrikaners gesê het hulle stem nie saam met die besluite wat geneem word nie – het president Cyril Ramaphosa steeds die wet (in Januarie 2025) onderteken.”

Ramaphosa se gedrag herinner sterk aan die gedrag van gewese Zimbabwiese president Robert Mugabe, sê Smith. “Ons is op presies dieselfde pad as Zimbabwe. Die president (Ramaphosa) hou aan sê daar is ongeregtighede wat reggestel moet word. En dan is die mense wat veronderstel is om tydens openbare debatte aan ons kant te wees, besig om teen ons te praat. Ek doen ’n beroep op (landbou) leiers om báie sterker uit te kom teen hierdie wette. Hulle sal ’n bietjie ander tydens debatte waarin hulle betrokke raak moet optree,” sê Smith.

Deon van Rooyen, voormalige voorsitter van Agri Mpumalanga, het voor die kongres reeds ’n skriftelike vertoë gerig waarin hy versoek het dat die provinsie ’n ernstige versoek aan AgriSA moet rig om wel dié kwessie (onteiening sonder vergoeding) in die hof te gaan aanspreek.

AgriSA het hul swaargewigte na die kongres gestuur. Hier is Jaco Minnaar, president van AgriSA, en Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA. Agter staan Susan Marais, Plaas Media nuusredakteur. (Foto deur Lion du Plessis)

Buitelanders huiwerig vir belegging

Denys Snyman, ’n bestuurslid van Barberton-boerevereniging, sê hy boer vir ’n Australiese maatskappy en het ’n ontnugterende ervaring tydens ’n onlangse strategiese vergadering beleef.

“Soos ek dit sien is daar groot geleenthede om ons plaaslike makadamianeutproduksie te verdubbel en ek het dit so aan my bestuur oorgedra,” vertel Snyman. “Die reaksie was egter dat hulle nie gemaklik was daarmee nie, gegewe al die nuwe (Suid-Afrikaanse) wetgewing wat ingetree het. Gevolglik sal hulle eerder oorsee uitbrei. Dit is iets wat ons baie ernstig moet aanspreek.” Daarom wil Snyman hê dat AgriSA wel in ’n hofgeding oor die kwessie betrokke moet raak.

Ander belê dat dit klap

Michael Peter, uitvoerende direkteur van Forestry South Africa, sê hy was in 30 jaar nog nooit so positief oor die toekoms van Suid-Afrika soos nou nie. Hy glo volstrek dat die RNE die beste vorm van regering vir die land is. Forestry SA se lede onderstreep Peter se woorde met hul beursies. Hy sê oor die afgelope vyf jaar het sy lede rondom R33 miljard in nuwe bosboutoerusting belê en ’n verdere R11 miljard se beleggings is steeds in die pyplyn.

Diegene wat besorg is oor die Amerikaanse president, Dondald Trump, se dreigemente om handelstariewe in te stel moet dit ook in perspektief bejeën, sê Peter. “Minder as 2% van ons handel is in gedrang indien Trump die tariewe sou instel. Daarteenoor staan die BRICS-lande wat sowat 41% van die totale wêreld se BBP uitmaak.”

Hoewel iemand ongemaklik sou kon voel oor dié lande se sosialistiese verlede, moet hulle die hedendaagse situasie in oënskou neem, raai Peter aan. “Nie een van hierdie lande gee meer oor sosialisme om nie. Hulle is nou almal kapitalistiese lande.”

Buiten vir Agri Mpumalanga lede het talle ander rolspelers ook die kongres bygewoon. Van links is Andre Scheepers, voorsitter van die Mpumalanga Sambreelbranbestrydingsvereninging (MUFPA), Linda Grimbeek, HUB van KLCBT (Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism) en Francois Oberholzer, bedryfsdirekteur van Forestry SA.

SA-landbou se planne bly tops

Ryk Pretorius, Mpumalanga se provinsiale verteenwoordiger van Graan SA, sê hy onthou hoe daar tussen 2008 en 2010 groot kommer oor die voortbestaan van die graanbedryf was, veral oor die toename in sojaboon-volumes. Produsente het egter by SuperSport Park byeengekom en ’n plan is gemaak.

“Die bedryf se antwoord was om groter perskapasiteit te skep. En vandag sit ons in die posisie waar ons steeds ’n gesonde graan- en oliesaadbedryf het,” sê Pretorius. “Ons moenie Suid-Afrikaanse landbou onderskat nie.”

Produsente het van heinde en verre gekom om die kongres by te woon. Hier is Koos Louwrens, wat tussen Standerton en Leslie boer, Jan Boshoff, ‘n Delmas-produsent, en Gideon Anderson, ’n Middelburg-produsent.

Maar daar is maatskaplike verval

Coenie Dafel, ’n Amersfoort-produsent, sê die verlies aan familieboerderye is uiters kommerwekkend omdat nuwe grondeienaars nie noodwendig vir hul direkte gemeenskap omgee nie. “Ons is besig om aan ons gemeenskapsstrukture te torring, omdat die verlies aan familieboere na die breë gemeenskap uitkring. Die ou wat by jou koop gee byvoorbeeld nie noodwendig om vir die kerk nie. Ons moet bewus wees van dié situasie.”

Traumanetwerk wil help

Dr Tinus van Staden, ’n Pretoriaanse leraar en hoof van die TraumaNetwerk, het gesels oor hulp wat dié organisasie aan produsente en hul gesinne wil bied om hul geestesgesondheid te verbeter.

Nadat dr Van Staden self in 2020 uitbranding beleef het, het hy besef dat hy op groter skaal by ander se trauma betrokke moet raak. Vandag is die TraumaNetwerk ’n stewige netwerk waar verskeie organisasies – die NG Kerk, Gereformeerde Kerke, Afrikaanse Protestantse Kerk, Afriforum se Trauma-eenheid, TIRA-SA, en CPSC – deel geword van die nuwe inisiatief. Landbou-organisasies sluit TLU SA, AgriSA, en SAAI in.

Daar is egter ’n tekort aan traumaberaders op die platteland en dr Van Staden het belangstellendes uitgenooi om met hom kontak te maak.

Dieregesondheid krap                                         

Jan Boshoff, lid van die Hoëveldrif-boerevereniging, sê Agri Mpumalanga en AgriSA mag glad nie swart ekonomiese bemagtiging op enige vlak steun nie omdat dit tot ekonomiese onderdrukking lei. Die situasie by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) was die rede vir sy opmerking. “OBP het twee groot masjiene wat die enstof kan vervaardig, maar hul lewensduur is op ’n einde en R500 miljoen het net verdwyn.”

Tans voer Suid-Afrika entstof vanuit Botswana in, terwyl daar plaaslik die kapasiteit binne die privaatsektor bestaan om bek-en-klouseer (BEK)-entsof te vervaardig. “BEK het wel nou tot ’n breekpunt gekom en ek glo hier kom groot verandering, maar dis tyd dat ons moet ophou om onderling te baklei en begin om met die vyand te baklei,” sê Boshoff . Hy het bygevoeg dat Agri Mpumalanga nou lank genoeg geduldig was en dat dit nou tyd is om ongeruimdhede “met mag en mening” te ontbloot.

Besoedeling krap

Snyman, sê nóg ’n probleem wat AgriSA sal moet aanspreek, is die toestand van Suid-Afrikaanse rivierstelsels. Hoewel mynbou steeds ’n geweldige probleem regdeur Mpumalanga bly, is die hoë vlakke van Escherichia coli in die riviere selfs meer kommerwekkend. “Nou en dan word munisipale waterinfrastruktuur reggemaak, maar daar is baie informele nedersettings waar die infrastruktuur gebrekkig bly.”

Snyman sê die feit dat hy die probleem uitwys moet egter nie gesien word as negatiwiteit of dat hy uit die land wil wegtrek nie. “Ek bly trots Suid-Afrikaans en sal graag hier ’n nalatenskap wil opbou.”

Smith sê op die Hoëveld is dit ook frustrerend om te sien hoe mynbougrond teen ’n koste van R30 miljoen gerehabiliteer word, net sodat ’n nuwe stuk grond langsaan sonder permitte gemyn word. “Die RNE moet sorg dat hierdie tipe probleme reggestel word.” Smith sê die staat kan nie net aandring dat produsente waterlisensies moet betaal en dan terugsit sonder om sy grondwetlike plig na te kom deur die hulpbron te bestuur nie. – Susan Marais, Plaas Media

Vir navrae kan lesers dr Tinus van Staden kontak by www.traumanetwerk.co.za.

Must read

Klimaatbestande voedselproduksie is waar wins en die planeet ontmoet

Estimated reading time: 6 minutes Die VN se klimaatsveranderingskonferensie (COP30), het die belangrike rol van landbou in die stryd teen klimaatsverandering beklemtoon. Dit raak al...

Katoen-verwysingsprys: Week van 5 tot 9 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....

RSG Landbou: 13 Januarie 2026 – geborg deur BKB

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor Suid-Afrika se appelkoosbedryf, Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk werp lig op kalwer vrektes...

LandbouRadio: 13 Januarie 2026

In Dinsdag, 13 Januarie se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Thalia Brameld, tegniese adviseur en bemarker by SA Stamboek, gesels oor die Logix...

Eastern Cape farmers help secure conservation

Estimated reading time: 4 minutes Across the Eastern Cape, groups of landholders manage their natural resources collectively, rather than individually at farm level. Wildlife, water,...