Monday, October 14, 2024

Mpumalanga praat saam oor uitdagings

Estimated reading time: 6 minutes

In die landbougemeenskap kan produsente nie op ’n eiland leef nie – hande vat en saamstaan is die enigste uitweg om suksesvol te boer. Dit was die boodskap wat soos ’n goue draad deur AgriMP se kongres op 23 Mei geloop het. Die tema was “Saam gevestig vir volhoubare groei” (Rooted together – growing forever).

In sy verslag tydens die kongres het die uittredende president, Tommy Ferreira die uitdagings wat die boere in Mpumalanga moet hanteer, bespreek.

Hy sê die afgelope jaar het die ideale seisoen op die hoëveld stelselmatig vanaf die middel Januarie verander na ’n gemiddelde en ondergemiddelde seisoen. Vir sommige van die produsente het dit selfs in ’n nagmerrie verander.

Hy het ook sy misnoeë uitgespreek oor die owerheid wat dit vir produsente moeilik maak om volhoubaar te boer.

“Op grondvlak ervaar produsente verskeie struikelblokke in terme van onbillike wetgewing en regulasies wat nie noodwendig bydra tot ’n gunstige omgewing om te belê nie. AgriMP poog dus om die beste moontlike opsies binne hierdie moeilike omgewing aan lede uit te wys,” het hy gesê.

Tydens die kongres is die nuwe bestuur vir die volgende termyn verkies. Lion du Plessis is aangewys om die leisels by Tommy oor te neem met Moorrees du Toit as vise-president, Laeveld en Francois Maartins as vise-president, Hoëveld. Die volgende verteenwoordigers is verkies: Barend van Rensburg (Laeveld), Wilscot Radley (Onderberg), Leon Hiestermann (Hoëveld-Suid), Brent Parrot (Hoëveld-Noord), Janneman Roberts (Bedrywe) en At van Schalkwyk (Korporatiewe lede).

Die Jongboer van die Jaar vir Mpumalanga is ook by die kongres aangewys. Kobus Pieters het vanjaar die kroon ontvang met Tommie Steele in die tweede plek.

Verskeie sprekers het die gaste by die kongres toegespreek en die boere moed ingepraat.

Lees meer oor die Mpumalanga Landbou-kongres hier.

Soek jou vryheid op die regte plek

Wilco Nauman was ’n motiveringspreker wat gepraat het oor God en geld, en sy boodskap was dat produsente rentmeesters is en nie eienaars nie. Daarom is dit beter om jou identiteit in God te soek eerder as in geld, goed en aansien. Hy glo enigeen kan vry wees, solank jy jou vryheid by jou Skepper soek.

Ekonomie lyk wankelmoedig

Wandile Sihlobo het oor ekonomiese realiteite gepraat. Hy sê van 1994 tot 2008 was die jaarlikse ekonomiese groei in Suid-Afrika gemiddeld 3,6%. Vanaf 2009 tot 2023 het dit tot 1,1% geval. Hy wys daarop dat die vertrouensindeks tans baie laag is.

Groei in Suid-Afrika se landbousektor word in ’n groot mate deur uitvoere gestimuleer. Beskerming van markte is egter ’n uitdaging vir talle kommoditeite. Vertragings by Suid-Afrikaanse hawens is ’n faktor waarmee rekening gehou moet word. Dieregesondheid bly een van die groter risiko’s in die sektor.

Wandile is van mening dat transportaktes aan begunstigdes van grondhervorming momentum sal gee aan die produksie op restitusiegrond.

Landbou het goeie leiers nodig

Prof Nick Binedell het oor strategiese leierskap gepraat.

Hy verwys na voorbeelde van lande in Suidoos-Asië, sommige met ingewikkelde koalisies en sommige selfs met militêre regerings wat daarin kon slaag om negatiewe situasies suksesvol te oorkom. Die menslike en sosiale kapitaal van die samelewing is benut om die gety om te keer. Die geheim is wedersydse vertroue en respek vir mekaar. Die huidige gemors waarin Suid-Afrika hom bevind, kan net deur die mense van Suid-Afrika reggestel word, nie deur politici nie.

Vyand nommer een in Suid-Afrika is ’n gebrekkige onderwysstelsel. Daarom beklemtoon hy die waarde van kennis. Hy moedig die kongresgangers aan om seker te maak dat ons wel oor die beste kennis beskik.

Sy raad is om doelwitte op die toekoms en te stel nie op die verlede nie.

Saam sal ons volhoubaar boer

Johann Kotzé het ’n interessante bydrae gelewer. Hy het oor die realiteit van die sektor gepraat. Die wêreldekonomie bepaal toenemend die reëls en dit is dus nie moontlik om in isolasie te boer nie.

Hy sê die landbou het meer verantwoordelikhede as ’n paar dekades gelede. Sedert 1994/96 het die landbouomgewing van ’n gereguleerde omgewing na ’n ongereguleerde omgewing beweeg wat van die boerdery ’n meer komplekse onderneming maak. Hy het ook bygevoeg dat Afrika se voedselsekerheid al hoe meer die verantwoordelikheid van Suid-Afrika word. Verder het klimaatsverandering ’n geweldige invloed op landbou.

Om al hierdie risiko’s te bestuur, is dit nodig om kollektief te beding en te beïnvloed. Hy glo AgriSA se grootste bate is sy landbouverenigings op plaaslike vlak. Dit is dus belangrik dat elke lid homself moet vra wat is sy bydrae tot landbou in SA.

Water en energie word groot probleem

Nicol Jansen het ’n boodskap van die Agri SA-raad aan die boere van Mpumalanga gebring. Hy het uitgewys dat produsente oor bepaalde elemente binne die grense van die plaashek beheer het. Buite die plaashek het die boer egter al hoe meer te doen met elemente en faktore, wat volhoubare produksie beïnvloed, maar waaroor die individu nie beheer het nie. Daardie aanslae buite die plaashek moet kollektief hanteer of teengestaan word. AgriSA, met die provinsiale affiliasies en boereverenigings op grondvlak, is so ’n voertuig vir koördineerde pogings.

Die sekerheid en bekostigbaarheid van energie saam met water is in hierdie stadium van AgriSA se fokuspunte. Soos grond word water toenemend as politieke speelbal gebruik. Daarom is dit belangrik om teen emosionele argumente te waak en op die feite te fokus.

Nicol beklemtoon dat AgriSA aan die lid op grondvlak behoort. AgriSA fokus dus daarop om voldoende kapasiteit te skep om aan lede op grondvlak se behoeftes te voldoen. Dit is nodig om vriende en vennote te identifiseer vir kollektiewe aksies. Identifiseer die regte vennoot vir elke uitdaging, terwyl die hooffokus altyd landbou moet wees.

Vir meer inligting oor die Agri MP Kongres, skakel gerus met Robert Davel by 082 220 9024. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...

Boosting communal sheep production

Estimated reading time: 8 minutes The National Wool Growers’ Association (NWGA) has significantly increased wool...