Mpumalanga Landbou-kongres – hoe lyk die pad vorentoe?

Estimated reading time: 3 minutes

Die 2023 Mpumalanga Landbou (MPL)-kongres het onlangs by die Badplaas Forever Resort plaasgevind. Lion du Plessis, MPL-voorsitter, het die kongres geopen en die belangrikheid van georganiseerde landbou as die lewensaar vir Suid-Afrika beklemtoon. “Die bedryf staar verskeie uitdagings in die gesig en die kongres fokus op moontlike oplossings.”

Volgens gasspreker, dr Christo van der Rheede van Agri SA, is die regering se staatsideologie tot niemand se voordeel nie. Dit beïnvloed handelsooreenkomste, politieke gemak, finansiële stabiliteit en Suid-Afrika se gryslys-status. Van der Rheede het ook na die addisionele druk op landbou weens die energiekrisis-ramptoestand verwys.

Lees meer oor GWK en VKB se samesmelting.

Ekonomiese herlewing van die Suid-Afrikaanse platteland

Johann Weber van Zahara & Co het die huidige stand van sake in die platteland bespreek. Zahara & Co bied ondersteuning aan munisipaliteite om hul verpligtinge na te kom. “Daar is tans geen volhoubare munisipale- of provinsiale projekte vir ekonomiese ontwikkeling in die platteland nie. Ekonomiese ontwikkeling is belangrik want die tempo van verstedeliking druk die platteland dood.” Weber het ook genoem dat ’n gunstige omgewing vir belegging geskep moet word.

Landelike veiligheid bly belangrik

Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Beveiliging, en Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid en provinsiale sake by Agri SA, het oor landelike veiligheid gesels.

“Veiligheid in die landbougemeenskap bly ’n belangrike onderwerp wat ’n suksesvolle oplossing moet kry sedert die voormalige Suid-Afrikaanse Weermagkommando’s opgeskort is,” sê Van der Westhuijzen. Hy het bygevoeg dat veiligheid bestuur kan word deur na die drie kante van die misdaaddriehoek te kyk en jouself ’n minder aanloklike teiken te maak.

Visser het die waarde van boereverenigings in terme van veiligheid beklemtoon, asook meer inligting oor Agri Securitas en hoe die fonds landbougemeenskappe help, verskaf.

Lees meer oor veiligheid op plase.

Waarde van suksesvolle vennootskappe

Die volhoubaarheid van die landbousektor maak staat op suksesvolle vennootskappe, het Lennox Plaatjies van Partners In Agri Land Solutions (PALS) gesê. PALS is in 2015 as ’n privaatsektor-inisiatief tussen boere en die plaaslike gemeenskappe geloods. Meer kommersiële boere moet opkomende boere help, het Plaatjies gesê. Daar moet ook na unieke oplossings vir elke situasie gekyk word. Plaatjies het bygevoeg dat grondhervorming tot dusver misluk het.

Goeie werk word beloon

Die 2022-2023 Bosveld-trofee is tydens die kongres aan die Volksrust Boerevereniging oorhandig. Die toekenning gaan jaarliks aan die boerevereniging wat die beste presteer het in die provinsie, asook die meeste vermag het in terme van samewerking in die vereniging.

Daar is ook aan Mpumalanga Landbou die geleentheid gebied om hul komitee-verkiesing te hou na afloop van die kongres. Na die nominasies en verkiesing lyk die jaar se komitee soos volg:

  • President: Tommy Ferreira.
  • Vise-president (Onderberg/Laeveld): Moorrees du Toit.
  • Vise-president (Hoëveld): Lion du Plessis.
  • Komiteelid: At van Schalkwyk.
  • Nuwe komiteelid: Janneman Roberts, bedrywe. – Phillip Crafford, AgriOrbit

Popular stories