Kwekerye kan ’n groot tekort aan onderstamme vir veral perskes en nektariens ondervind. Dit sal beteken dat kwekerye waarskynlik nie alle bestellings vir 2018-aanplantings sal kan nakom nie, sê Burgert van Dyk van Sapo, die Suid-Afrikaanse plantverbeteringsorganisasie op Stellenbosch,

Steenvrugprodusente word versoek om dringend met kwekerye te skakel om vas te stel wat die situasie met betrekking tot hul eie bestellings is en waar moontlik alternatiewe te oorweeg.

Daar is verskeie redes vir die huidige tekort aan onderstamme. Dit sluit in ’n swak bewortelingspersentasie van klonale onderstamme, ’n hoë vraag na amandelbome en ’n tekort aan Kakamas-pitte uit Sapo se moederblokbronne. Daarbenewens het operasionele probleme, tesame met droogte-strestoestande en watertekorte, tot die tekort bygedra.

Die uitbreiding van nuwe moederblokke word tans deur Sapo ondersoek om pitbronne vir 2019-aanplantings verder aan te vul. Verder word die invoer van weefselkultuur-onderstamme om die 2018-bronne aan te vul, oorweeg.

Hortgro sal die situasie deurlopend monitor en in noue samewerking met Sapo verseker dat die minimum ontwrigting vir 2018 ondervind word en verseker dat produsente en kwekerye ingelig bly. – Hortgro

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY