Estimated reading time: 4 minutes
Annelize Crosby, Agbiz se hoof van regsintelligensie vind dit ironies dat die Onteieningswet, 2024 (Wet 13 van 2024) en voorgestelde wetgewing wat betrekking het op billike toegang tot grond sowel as wysigings aan die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) en die Wet op Gelyke Indiensneming, 1998 (Wet 55 van 1998), Suid-Afrika tref terwyl die land binne die regering van nasionale eenheid (RNE) is.
“Die meeste daarvan is reeds deur die prosesse gevoer en deur die parlement aanvaar voor die RNE ingekom het,” het Crosby tydens die Sandveld-aartappelkwekersorganisasie (Sako) se onlangse jaarvergadering in die NG Kerksaal in Lambertsbaai gesê. “Ek dink dit gaan vorentoe heelwat moeiliker word om radikale wetgewing deur die parlement gevoer te kry. Bloot omdat die samestelling van die parlement en die regering nou anders lyk. Net so kan die buitelandse beleid en die dinamika wat in die buiteland gebeur, ’n impak hê op wat in ons land gebeur maar dit is nie maklik om dit te voorspel nie.”
Eiendomsreg bring vooruitgang
Volgens Crosby bly eiendomsreg belangrik omdat dit ’n hoeksteen van Suid-Afrika se kapitalistiese stelsel en demokrasie is en ’n belangrike rol in ekonomiese ontwikkeling en beleggingsvertroue speel. Internasionale navorsing het gewys daar is ’n direkte verband tussen hoe goed eiendomsreg in ’n bepaalde land beskerm word en wat die per capita-inkomste in daardie land is. “As jy wil hê al jou mense, ryk en arm, moet beter daaraan toe wees in terme van hul hoeveelheid besteebare inkomste, dan moet jy die hoogste moontlike mate van beskerming aan eiendomsreg verleen. Eiendomsreg speel in enige land ’n kritieke rol in ekonomiese groei,” het sy gesê.
Wet op Regverdige Toegang tot Grond moet fyn dopgehou word
Crosby het gesê daar was in die verlede baie radikale voorstelle wat eiendomsreg in gedrang kon bring, maar gelukkig het baie min daarvan ’n werklikheid geword. Die wetgewing wat nou potensieel ’n negatiewe impak kan hê en mooi deur die landbou dopgehou moet word, is een wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Mzwanele Nyhontso, onlangs nog net genoem het tydens sy voorleggings aan die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake. Dit is beoogde wetgewing rakende billike toegang tot grond.
Sy is bekommerd dat daar in dié beoogde wetgewing onteieningsbevoegdhede vir herverdelingsdoeleindes ingeskryf kan word. Op hierdie stadium is daar nog nie wetgewing wat onteiening vir herverdeling magtig nie. Daar is wetgewing wat onteiening magtig vir restitusie en vir besitregdoeleindes, soos die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) oftewel Esta, en die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders), 1996 (Wet 3 van 1996).
“Die beoogde wet op die regverdige toegang tot grond gaan ’n herverdelingswet wees, daarom sal ’n mens baie mooi moet kyk vir watter tipe van herverdeling onteieningsmagte alles toegeken kan word. Daar is nog nie ’n konsep van die wet nie, maar ons weet dit is oppad,” het Crosby gesê.
Onteieningswet gee nie nuwe onteieningsbevoegdhede
Volgens Crosby is die Onteieningwet nog nie in werking nie, hoewel dit geteken is. Sy sê sy staan daarby dat dit ’n prosedurele wetgewing is. “Die wet gee nie nuwe onteieningsbevoegdhede aan enigiemand nie. Die onteieningsbevoegdhede, met ander woorde die mag om te kan onteien vir ’n spesifieke doel, sit al lankal in ’n klomp stukke ander wetgewing. Dit is nie iets nuut nie.”
Plaaslike owerhede, die paaie-owerhede en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) kon nog altyd onteien vir sekere doeleindes. Al wat verander is dat almal nou die prosedure wat in die nuwe wet voorgeskryf word, moet volg. Hierdie prosedure is heelwat moeiliker vir die staat en die onteieningsgesag as die prosedure in die 1975-wet. As jy na die proses kyk, gaan dit nou moeiliker wees om te onteien, want daar is meer stappe wat gevolg moet word, het Crosby gesê.
Gevare van die Onteieningswet
Dit wil nie sê daar is nie gevare nie. Die gevare lê in die definisie van onteiening wat te eng is en die nul-vergoedingklousule omdat dit ’n deur ooplaat dat die Wet ook vir ander doeleindes gebruik kan word as dít wat in die Wet gelys word.
”Landbou-organisasies moet hier proaktief optree om seker te maak boere word ondersteun as hul grond onteien word, en die boer en die staat in dispuut is oor die prys wat die staat aanbied. Die boer moet dan hof toe gaan, dit is die enigste uitweg. Dit is goed dat die hof beslis, maar dit kos geld. Hierdie litigasie moet op ’n manier befonds word en daar sal toetssake gemaak moet word rondom die litigasie, het Crosby gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

