Estimated reading time: 3 minutes
Die R1 miljoen wat verlede Saterdag vir ʼn uitmuntende Brahmanbul, Sleeping Giant WIL 15-63, betaal is, klink na ʼn groot bedrag geld, maar dit is eintlik ʼn baie goeie belegging, sê Paul Duarte, die verkoper van die bul en eienaar van die Duarte Brahman-stoetery.
Hy praat uit ondervinding, want toe hy in 2016, R800 000 vir die bul, Sir Christoff 12-314 van Llewellyn Labuschagne se R10-stoetery betaal het, het almal gedink hy is mal. Maar die semen alleen wat hy van Sir Christoff 12-314 verkoop het, het al vir ʼn inkomste van R1,5 miljoen gesorg.
Marius de Beer, die nuwe eienaar van Sleeping Giant, sê hy dink nie hy het baie vir die bul betaal nie. Dit is ʼn bul van ʼn bul wat meer werd is as die koopprys. Hy pas besonder goed in by die bloedlyne van die vroulike diere in sy kudde van sowat 40 koeie.
Hy het vroeër met beeste geboer, ʼn voerkraal gehad en toe na wild oorgeskakel. Nou het hy weer lus om met beeste te boer en die Brahman is sy gunstelingbeesras. ʼn Jaar gelede het sy Keerom Brahmanstoetery ʼn vastrapplek net duskant Dwaalboom gekry.
Hy het nie net na die bul gekyk nie, maar ook na die vroulike diere wat hy al geteel het. Dit is ʼn uitstekende gebalanseerde bul. Hy het ál die koeie in sy kudde met die hand uitgesoek. Met dié bul wat uitstekende vroulike diere teel, verwag hy dat hy oor vier tot vyf jaar werklik uitstaan-vroulike diere aan die bedryf sal kan bied.
Lees meer oor die wenresep met Brahmanbeeste hier.
Paul sê alles het met die bul Sir Christoff 12-314 begin, wat uitsonderlike nageslag in sy kudde geteel het. Toe Sleeping Giant as jongbul deur Willie Becker se Netdibest-stoetery op ʼn veiling aangebied is, het Paul gesien dat dié Brahmanbul dieselfde pa en oupa as die bul Sir Christoff 12-314 het. Dit het hom die geleentheid gegee om dié twee bulle om die beurt op die ander se nageslag te gebruik.
Hy glo dat as ʼn teler sy kudde geneties vinniger wil laat vorder, kan hy nie bekostig om ʼn minderwaardige bul te gebruik nie. Geneties meerderwaardige bulle is gewoonlik duur, maar dit is een van die beste beleggings wat ʼn beesboer kan maak. Dit is oor en oor in sy eie kudde bewys.
Die bulle waarvoor hy volgens almal ‘te duur’ betaal het, was vir hom nog net winsgewende beleggings. In sy geval het tien jongbulle van Sir Christoff meer as R1 miljoen opgelewer. Net drie uitstaande dragtige verse uit gesogte bloedlyne kan op ʼn veiling vir ʼn bul van R1 miljoen betaal.
Daar is weliswaar nog ʼn goeie vraag na bulle wat waarskynlik bygedra het tot die goeie pryse wat op die veiling betaal is.
Die Brahmanbul is op die gesamentlike produksieveiling van Duarte Cattle and Game Breeders, Weltevreden River Ranch en Bos Blanco Beefmasters en Brahmans aangebied. Altesaam nege stoetbulle is teen ʼn gemiddelde prys van R167 000 verkoop, ses dragtige stoetkoeie het gemiddeld R94 000 gekos met ʼn hoogste prys van R200 000; nege dragtige stoetkoeie met ʼn kalf aan die sy is vir gemiddeld R116 000 verkoop met ʼn hoogste prys van R180 000, 27 dragtige verse is vir gemiddeld R73 000 verkoop met die duurste vers wat R180 000 gekos het, en vier ongedekte verse is teen gemiddeld R49 000 verkoop, met ʼn hoogste prys van R55 000.
Die veiling is deur André Kock en Seun van Bela-Bela aangebied. – Andries Gouws, Plaas Media