Estimated reading time: 3 minutes
Hoogstaande Bonsmara bulle en vroulike diere is vanjaar weer op die immer gewilde Mielieboere Bonsmaras se jaarlikse produksieveiling aangebied en het soos soetkoek verkoop. Dít ondanks uitdagende ekonomiese toestande wat tans in die beesbedryf heers.
Mielieboere Bonsmaras bestaan uit ‘n tradisieryke uitsonderlike groep telers, naamlik Laurence Allem (Allem Brothers), Jerome Gossayn (Gossayn Brothers) en Eduard Roux (Pietleria Bonsmaras), wat al diep spore in die bedryf getrap het.
Die aanbod van diere op hul 35ste produksieveiling, wat onlangs op die plaas Hopefield naby Viljoenskroon, aangebied is, het uit 40 bulle en 250 vroulike diere (dragtige koeie en verse, koeie met kalwers en oop verse) bestaan.
Daar was ook verskeie gaskopers. Allem sê hulle is tevrede met die eindresultaat van die veiling en hy glo hulle het te midde van markskommelinge, dalende vleispryse en taai ekonomiese toestande in die geheel, steeds goed gevaar. Hy sê hulle is dankbaar dat al die stoetbulle wat aangebied is, asook die meeste kommersiële vroulike diere, teen ‘redelike goeie pryse’ verkoop is. Die gemiddelde prys vir stoetbulle was R66 089.
Lees meer oor die opkomende Bonsmara SA Rooi Ras-geleentheid.
Bul-verkope by die produksieveiling
Daarmee saam het twee Bonsmara-bulle (ABB 200028 en ABB 200040), van die Allem Brothers, die hoogste prys van R100 000 elk op die veiling behaal. Andries van der Merwe van die Andries van der Merwe Boerdery tussen Ventersdorp en Coligny was die koper van die spogbul ABB 200028, terwyl Chris Jansen van Rensburg van Lolo Boerdery by Bothaville die bul ABB 200040 gekoop het.
Allem sê hy het verwag dat albei hierdie bulle goed op die veiling gaan vaar weens hul goeie teelwaardes. Albei die bulle het dieselfde pa (LAR 15 282) wat al ‘n hele aantal sterk bulle opgelewer het. In terme van teelwaardes staan die bulle se speenkalf-, groei- en karkaswaardes uit. “Die fenotipe van die bulle is uitstekend en die teelwaardes pas mooi by die bulle aan,” meen hy. Volgens Allem kon die prys van albei bulle hoër gewees het, maar onder omstandighede is hy tevrede daarmee en albei kopers het goeie waarde vir hul geld gekry.
Gemiddelde pryse vir vroulike diere
Die gemiddelde prys vir kommersiële koeie met kalwers, waarvan altesaam 47 verkoop is, was R25 962. Die hoogste prys wat behaal is, was R28 500 per koei met ‘n kalf. Die verkoper was Freddy Mac Donald van Mac Farms en die koper was Cassie Coetzee van Koster.
Altesaam 86 kommersiële dragtige koeie is teen ‘n gemiddelde prys van R20 101 verkoop. Die hoogste prys vir ‘n dragtige koei van Allem Brothers was R27 000. Die koper was Christo Odendaal van Iris Boerdery. Altesaam 38 kommersiële dragtige verse is teen ‘n gemiddeld van R18 065 verkoop. Die hoogste prys wat behaal is, was R20 250 per vers. Die verkoper was Eduard Roux en die koper was die Boet Roux Trust. Kommersiële oop verse is teen ‘n gemiddeld van R16 879 verkoop. Altesaam 27 verse is verkoop en die hoogste prys per vers was R17 000.
André Kock & Seun (Limpopo) het die veiling in samewerking met Meerkat Online Auctions aangebied. Die afslaer was Mike Killassy. Mielieboere Bonsmaras se tweede Bonsmara produksieveiling vir die jaar vind op 10 Augustus op die plaas Hopefield by Viljoenskroon plaas.
Vir meer inligting kontak Laurence Allem by 083 259 2818, Jerome Gossayn by 082 900 3094 of Eduard Roux by 082 332 6030. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit