Michael
Michael Bradfield

Dr Michael John Bradfield, internasionaal bekende genetikus, veekundige en ’n leier in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, is op 6 Januarie in Pretoria aan kanker oorlede. Sy visie was om genetiese werktuie oordeelkundig in te span om beesvleis in ʼn produk van hoë waarde te omskep en so die bedryf winsgewender te maak.

Hy is op 11 September 1965 in die Oos-Kaap gebore en het op Jamestown grootgeword, waar hy vroeg al geleer het om ʼn geleentheid in elke uitdaging te sien. Dié positiewe gesindheid het hom in staat gestel om ʼn lewe van sy eie uit te kerf en ʼn nalatenskap te skep. Sy kennis en vermoë om die moeilikste begrippe verstaanbaar oor te dra, was merkwaardig.

’n Ryk nalatenskap vir die rooivleisbedryf

Die Aldam-vleisbeesskool is waarskynlik die bekendste van die talle suksesse wat hy vermag het. Daar kon produsente van regoor die land na die wêreld se voorste kenners kom luister oor tendense in hul bedryf en hoe hulle dit plaaslik kan toepas.

Minder mense is waarskynlik bewus van die waardevolle werk wat hy agter die skerms gedoen het om die owerheid en bedryfsleiers te beïnvloed om groter waarde aan wetenskaplike hulpmiddels te heg, en dit omsigtig te gebruik om die bedryf gesond en positief te laat groei, tot voordeel van produsente en die land as geheel.

Hoewel Michael se werk wêreldwyd bekend is, was dit veral in Afrika waar hy sy roeping gesien het en waar hy verskeie projekte, onder meer in samewerking met die Wêreldbank, onderneem en bestuur het om die veebedryf op die vasteland te bevorder. Daarvoor het hy een van Afrika se hoogste toekennings in die veebedryf ontvang.

Hy was ʼn lid van die genomiese taakspan en medeskrywer van ʼn verslag wat R120 miljoen van die lewendehawebedryf en die Tegnologie en Innovasie-agentskap bewerkstellig het om navorsing vir die bedryf te doen. Om ʼn doeltreffende naspeurbaarheidstelsel vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf te vestig, was een van sy groot drome.

Kundigheid in plaaslike suksesse vir die bedryf omskep

Michael het aan Queens-kollege in Queenstown gematrikuleer, sy honneursgraad in dierekunde aan die Universiteit van die Vrystaat, sy meestersgraad in diere-genetika en -teling aan die Universiteit van Edinburgh en sy doktorsgraad in diere-genetika aan die Universiteit van New England in Australië behaal, waar hy ook ʼn tyd lank navorsing gedoen het.

Terug in Suid-Afrika was hy as ʼn senior navorser by die Landbounavorsingsraad werksaam en in 2001 het hy Agricultural Business South Africa gestig, waardeur hy die Breedplan-stelsel plaaslik gevestig het. Hy was ook die uitvoerende hoof van die Lewendehawe-registrerende Federasie.

Hieruit het die Aldam-vleisbeesskool voortgevloei, wat hy jaarliks gereël en aangebied het, en wat waarskynlik as die grootste landbougeleentheid van sy soort ter wêreld ontwikkel het. Die Namibiese en Zimbabwiese vleisbeesskole het hul ontstaan ook aan sy inisiatief te danke. Ten tye van sy dood was hy die hoof uitvoerende beampte van die Wagyu-beestelersgenootskap.

Bydrae tot die gemeenskap deur sport

Michael het ook sy gemeenskap gedien en die Irene-tennisklub is onder sy voorsitterskap tot ʼn spogkompleks ontwikkel, waar die Davisbeker-toernooie in Suid-Afrika aangebied word. Hy het verskeie belowende, swart skoliere deur die skool gehelp en verseker dat hulle beurse vir verdere studies of sportontwikkeling ontvang.

ʼn Klompie jaar gelede het hy ʼn nieroorplanting gehad, en ook dié uitdaging het hy in ʼn geleentheid omskep om sy land in fietsry en tennis op die wêreldspele vir atlete met orgaanoorplantings te verteenwoordig.

Hy word deur sy vrou, Elmarie, sy dogter Robin en sy seun David oorleef. – Andries Gouws, AgriOrbit

Dr Michael Bradfield was ook ‘n groot vriend van die media. Hier is van die artikels en ander onderhoude waar hy met Plaas Media gesels het:

https://agriorbit.com/die-rol-van-genetika-in-winsgewende-veeteelt/