Estimated reading time: 4 minutes
Dit verg ’n dier wat kan floreer wanneer toestande gunstig is en kondisie kan handhaaf wanneer toestande uitdagend is, sonder om reproduksie en prestasie in te boet.
Volwasse gewig en raamgrootte word lank reeds in die wêreldwye vleisbeesbedryf as die hoofaanwysers vir geteikende fenotipiese prestasie gebruik, en die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf het nie hierdie ingesteldheid vrygespring nie. Dié teorie is egter teenstrydig met die termodinamiese realiteit van die Suid-Afrikaanse omgewing, waar onvoorspelbaarheid beteken dat doeltreffendheid bo grootte seëvier. Dit verg ’n dier wat kan floreer wanneer toestande gunstig is en kondisie kan handhaaf wanneer toestande uitdagend is, sonder om reproduksie en prestasie in te boet.
Met die 2026/27-produksiesiklus wat wink en voorspellings van ‘n super-El Niño in die Suidelike Halfrond laat in 2026, is dit belangrik om ’n alternatiewe benadering tot doeltreffendheid te oorweeg (Wêreld Meteorologiese Organisasie, 2026). Hierdie keerpunt verg ’n kopskuif – van produksiestelsels wat grootte bevoordeel, wat dikwels van addisionele energie-insette afhanklik is, na stelsels wat deur metaboliese doeltreffendheid gedefinieer word.
GxE-interaksies
Navorsing deur Neto et al. (2026) op Nellore-beeste in Brasilië, toon dat voerdoeltreffendheid nie ’n statiese eienskap is nie. Die studie beklemtoon die realiteit van genotipe-per-omgewing (GxE)-interaksies by vleisbeeste. GxE-interaksies dui daarop dat ’n dier se genetiese potensiaal vir produksie afhanklik kan wees van die omgewing waaraan hy blootgestel word. Neto et al. (2026) het verder bevind dat wanneer die temperatuur-humiditeitsindeks (THI) gemaksdrempels oorskry, die metaboliese roetes vir voedingstofverdeling in vleisbeeste verander. Dit bevorder dan dikwels kondisiehandhawing eerder as produktiewe uitset.
Die instandhoudingsenergiebehoefte (MEm) skaleer tot metaboliese liggaamsgewig (BW0,75) wat groter of swaarder diere nie-lineêr penaliseer vir energie. Hierdie diere het ’n hoër ‘metaboliese vloer’, wat groter energiebesteding vir basiese oorlewing verg. Die gevolg is dat hierdie beeste se energiereserwes gedurende tydperke van beperkte weidingsbeskikbaarheid vinniger uitgeput raak as ander s’n en slegs vir oorlewing gebruik word. Die gevolg is dat daar min tot geen energie vir verdere produksie oor is nie. (Johnson, 2012; Cabezas-Garcia et al., 2021).
Voerdoeltreffendheid moet dus geprioritiseer word, eerder as om slegs raamgrootte of gewig te oorweeg. Seleksie vir voerdoeltreffende fenotipes beteken seleksie van diere met groter mitochondriale doeltreffendheid en energiebewaring op sellulêre vlak: dus ’n dier met ’n laer basiese metaboliese instandhoudingsbehoefte. Produsente kan die sogenaamde metaboliese vloer van hul kuddes verlaag deur hierdie seleksiemaatstaf met ’n matige volwasse liggaamsgewig (450 tot 500kg) te integreer. Dit verbeter reproduktiewe sukses onder uitdagende toestande soos droogtes en/of strawwe hitte.
Blyvermoë: ’n Genomiese bate
‘Blyvermoë’ word omskryf as die moontlikheid dat ’n koei tot op ’n spesifieke ouderdom in die kudde sal aanbly en jaarliks ’n kalf sal produseer. Dit is ’n komplekse eienskap waarvoor moeilik geselekteer word, omdat dit gewoonlik ’n lae oorerflikheid toon, ’n geslagsbeperkte eienskap is en eers later in ’n koei se lewe gemeet kan word.
Silva et al. (2024) het egter by meer as een kalwing spesifieke kandidaatgene geïdentifiseer wat met funksionele langslewendheid geassosieer word. Dit dui daarop dat sekere genetiese faktore regdeur die koei se reproduktiewe lewe ’n rol speel in die uitdrukking van die eienskap, en nie eers op ’n spesifieke ouderdom of ná ’n aantal kalwers nie. Die studie toon dat bly- of houvermoë vatbaar is vir genomiese seleksie op ‘n jonger ouderdom, wat korter generasie-intervalle en versnelde genetiese vordering moontlik maak (Silva et al., 2024).
Verder bied die verlenging van ’n koei se blyvermoë ’n dubbele voordeel: Die hulpbron-intensiewe versontwikkelingsfase word oor ’n langer reproduktiewe lewe terugbetaal en die koolstofvoetspoor per kg karkasgewig word verlaag (Mokolobate, 2015). Die langtermyn gesondheid van Suid-Afrikaanse veld hang af van ’n holistiese benadering wat beeste se biologiese vereistes in lyn bring met die spesifieke drakrag en seisoenale skommelinge.
Deur seleksie vir beter houvermoë met aanpasbare weidingsbestuur te integreer, kan produsente die persentasie onproduktiewe kuddevervangings verminder, en sodoende weidingsdruk verlaag. Hierdie optimalisering maak voorsiening vir doeltreffender veldherstel en veerkragtigheid, sonder om langtermyn winsgewendheid per hektaar in te boet. Trouens, dit word dikwels selfs verbeter.
Veerkragtige stelsels
Die teel van veerkragtige, klimaatslim beeste optimiseer in wese die biologiese stelsels. Wanneer produsente vir ’n matige volwasse gewig, voerdoeltreffendheid en langer houvermoë selekteer – terwyl diere se energiebehoeftes met aanpasbare weidingsbestuur in lyn gebring word – skep hulle ’n stabiele, winsgewende model. Dit stel die boerdery in staat om die voorspelde wisselvalligheid van die naderende produksieseisoen en die uitdagings wat daarop volg, aan te durf.
Hou egter twee belangrike reëls in gedagte: Vermy enkel-eienskap seleksie en bly bedag op moontlike ongunstige korrelasies tussen eienskappe. – Charné van Zyl, Simbra SA
Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos na charne@simbra.org
