Pieter Möller nuutDeur Pieter Möller

Ek het die afgelope tyd ernstig gewonder oor ’n paar mense in die lewe wat dinge vir ons by die werksplek, in ons omgewing of ons land soms moeilik maak. Só moeilik dat ons selfs in sekere gevalle ’n gevoel van weersin in hulle kan ontwikkel! En dan word ons terselfdertyd vermaan om ons vyande lief te hê en hulle te vergewe …

Ek kan aan ’n paar ouens dink wat die kwik effens laat styg en dit vir my moeilik maak om goed en gaaf teenoor hulle te voel. Ons moet egter maar goed praat oor ons vyande, want dis seker die regte ding om te doen.

Hulle sê as jy goedpraat oor jou vyande, groei jy op drie maniere:

  • Jy ontlont jou opponent se aanvalle op jou of jou medemens.
  • Jy verbeter jou eie vermoëns om hard te werk om in vrede met ander te leef, want dit verg min inspanning of intelligensie om te kritiseer, maar om iets goeds te vind om oor jou vyande te sê, verg nogal ’n bietjie moeite en inspanning.
  • En derdens versterk jy jou eie karakter en leer jy terselfdertyd om bo goedkoop kritiek uit te styg.

Geleentheid om te groei

So eintlik bied jou vyand se kritiek aan jou die geleentheid om te groei en gerespekteer te word. Ai, maar dis sommige dae maar moeilik. As sekere ouens se gesigte op die TV verskyn, is ek dikwels lus om soos die omies van die verre verlede die blik teer en kussingsloop vol vere uit te haal.

’n Vriendelike gesig op die skerm maak darem maar ’n groot verskil. ’n Glimlag is aansteeklik, of dit nou op die TV, oor die radio of telefoon, of teenoor jou medemens is. Dit is hoekom hulle sê die persoon wat die skakelbord of ontvangs van ’n onderneming hanteer, bepaal die sukses van daardie onderneming.

Jare gelede by ’n sekere geneesheer se praktyk, het die dames by die ontvangs my na sterk pille gedryf. Want alles was moeite. En die ellendes en klaagliedere waarmee hulle heeldag gekonfronteer is, het weer uiting gevind teen die tyd dat ek voor in die ry was. Ek was teen daardie tyd sieker as voorheen. Daarteenoor het ek weer in sommige gevalle talle onnodige goed gekoop van ’n vriendelike, glimlaggende verkoopspersoon.

Die mooiste glimlag …

Ek loop onlangs ’n klasmaat raak van baie dekades gelede – met die mooiste glimlag, Dis nogal vreemd om net ’n paar jaar saam op die skoolbanke deur te bring en dan na soveel jare weer iemand raak te loop met ’n paar duisend verlore kilometers se reis deur die wêreld tussenin. ’n Mens wonder waar om te begin. En dan, die glimlag!

Ek het nou maar eenmaal ’n swakheid vir ’n mooi glimlag. En ’n liefdevolle drukkie is in ’n sterk tweede plek. Daardie dag praat ek en my verlore vriendin land en sand. Die gesprekke wissel van skoolhoofde met vreemde aptyte en koshuisbrakke wat chauffeurs huur vir rondry in die dorp, tot ons skool se eie Patricia Lewis, wat meer seuns na netbalwedstryde gelok het as 1995 se Wêreldbeker-finaal. En dit het alles met ’n pragtige glimlag begin.

Glimlag oor die lewe

Ek gaan vandag met ’n glimlag tegemoet. Ek is op pad na my bankbestuurder toe en ek gaan hom met ’n glimlag meedeel dat ek nie van plan is om die paar miljoen rand skuld binnekort te vereffen nie. Daarna wil ek vinnig die laaste twee maande se swartsakke met ’n glimlag voor die bestuurder van die munisipaliteit se deur gaan aflaai.

Ek wil ook ’n draai maak by die plaaslike verkeersdepartement om al die agterstallige boetes en toekomstige lisensievorms met ’n glimlag aan hulle terug te gee, nadat ek met ’n glimlag voor die 2km-ry ingedruk het.

 Die lewe is ’n lied. Solank jy glimlag …

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY