Estimated reading time: 3 minutes
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het vanjaar weer ‘n draai in die Oos-Kaap gemaak om op ‘n meer persoonlike basis met die provinsie se melkprodusente oor melkbedryfsake te gesels. Die span het Tsitsikamma-, Kookhuis-, Oos Londen- en Alexandria-langs gereis, en was vergesel deur onder andere die MPO se hoofuitvoerende beampte, Fanie Ferreira, MPO-hoofekonoom, Bertus van Heerden, en Anri Wolmarans, die MPO Oos-Kaapse streeksbestuurder.
Produsentepryse
Ten spyte van die redelike hoë insetkoste wat die melkbedryf steeds kniehalter, lyk vooruitsigte in die melkbedryf beter danksy ‘n melkprysverhoging van 30 sent wat op 1 Februarie vanjaar ingestel is, gevolg deur ‘n verdere 30 sent prysverhoging op 1 Maart. Daar is ook ‘n winterpremieverhoging van 30 sent wat vanaf 1 April sal geld en produsente se moraal ‘n verdere hupstoot behoort te gee.
“Die prysverhoging bring egter ook nuwe kompleksiteite mee,” sê Van Heerden. “Ons moet seker maak dat die kommunikasie tussen melkprodusente en melkverwerkers van so ‘n aard is, dat beide kante mekaar se behoeftes verstaan.”
Ferreira het melkprodusente op datum gebring met die transformasieproses binne die MPO, wat daarop gemik is om die melkbedryf en -produsente in die Suid-Afrikaanse besigheidsektor, sowel as by die regering en op sosiale platforms te verteenwoordig. Ferreira sê alles wat die MPO doen is gefokus op elke liter melk wat geproduseer kan word, en sodat elke melkprodusent volhoubaar kan produseer. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Anri Wolmarans, MPO-streeksbestuurder in die Oos-Kaap by 064 934 3951 of ec@mpo.co.za. Besoek ook die MPO se webtuiste by www.mpo.co.za.