meet
Louis van Rensburg, Jaco van Rensburg, Robbie Meintjes en HG Human tydens die laaste toetsing van hul ramme vir die Noord-Kaap Veldramprojek in die Prieska-omgewing. voordat die diere afgerond word vir ’n veiling.

Ramkopers het al dikwels ’n bloutjie geloop as hulle ’n baie mooi en goed vetgevoerde ram aanskaf, maar wat nie oor eienskappe soos aanpasbaarheid, groeivermoë en vrugbaarheid beskik nie, in plaas van een wat oor goeie BLUP-syfers beskik.

Een van die stigterslede van die Noord-Kaap Veldramprojek, oom Robbie Meintjes, vertel dat Dorpertelers reeds in 1959 ervaar het dat sekere eienskappe nie met die blote oog gesien kan word nie en dat die beste manier om dit te bepaal, is deur dit te meet.

Hy sê hulle het in daardie jare ’n klub gestig met telers wat dieselfde doelwit voor oë gehad het, naamlik om goed aangepaste, funksioneel doeltreffende ramme wat op die veld grootgeword het, op ’n wetenskaplike wyse te selekteer en aan produsente beskikbaar te stel.

Hierdie klub het saam met Agri Hay, die Boerbokklub en die Swartkop Persietelers in 1985 die Noord-Kaap Veldramprojek gestig, met die eerste veiling in 1986. Dit was die begin van die Noord-Kaap Veldramprojek.

’n Fyn balans

Die huidige voorsitter, Louis van Rensburg van Prieska, sê daar is ’n baie fyn balans in skaapboerdery en kopers kan nie meer bekostig om oorvet ramme te koop wat hul loopvermoë en goeie libido verloor het nie. “Heelwat meer inligting moet oor elke ram beskikbaar gestel word. Dit moet op ’n wetenskaplike wyse vanaf SA Stamboek verkry word én dit moet onderskryf kan word deur die rasgenootskap.

“Heelwat boere is reeds lid van die projek omdat hulle funksioneel doeltreffende ramme vir die kopers, hetsy stoet of kommersieel, wil aanbied.

“Met die Noord-Kaap Veldramprojek skryf elke teler ’n aantal van sy ramme in, wat die volgende jaar verkoop gaan word. Die diere word almal na dieselfde plaas geneem vir ’n tydperk van agt maande, waar hulle aan ekstensiewe toestande onderwerp word. Op dié manier word onaangepaste diere geïdentifiseer en uitgeskot.

“Die proses waardeur die ramme moet gaan om uiteindelik onder die top diere in die groep te wees wat vir kopers op ’n veiling aangebied word, is nie maklik nie. Hulle word elke maand geweeg en gemeet en ten minste drie keer deur ’n rasinspekteur deurgekyk vir enige defekte,” vertel hy.

Toets vir aanpasbaarheid

Louis sê dit is slegs in erge droogtetoestande waar die ramme ekstra lek kry, maar die ideaal is om die diere net op die veld groot te maak. Hy sê op dié manier word die ram se groeivermoë ook getoets, want diere wat nie aanpasbaar is nie, se groeivermoë is ook gewoonlik nie na wense nie. –Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting oor die Veldramprojek skakel Louis van Rensburg by 082 772 2594, Robbie Meintjes by 082 824 8464 of besoek die webtuiste www.veldramme.co.za.

Veldbultoetsing vir veldaangepastheid

Die Volksrust Grasvelderbulklub: ’n Suksesverhaal

Oos-Vrystaat Veldbulklub vier 30 jaar

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY