HomeAgri NewsMededingingsowerhede wil varsproduktemarkte só verbeter

Mededingingsowerhede wil varsproduktemarkte só verbeter

Estimated reading time: 7 minutes

Vervalle munisipale markte, onregverdige saadprysstrukture en markagentkommissie is enkele van die sake wat in die Mededingingskommissie se voorlopige varsproduktemarknavraag-verslag uitgelig is as kwessies wat wedywering in die varsproduktesektor kan kniehalter.

Dié verslag is uitgereik nadat ’n spesiale ondersoekspan Suid-Afrika se plaaslike varsproduktemark 14 maande lank ondersoek het. Dié sektor spog met ’n jaarlikse omset van ongeveer R53 miljard, wat in twee verdeel kan word – R21 miljard se produkte word op die tradisionele munisipale markte verkoop en R32 miljard deur die formele kleinhandelsektor. Dié syfer sluit nie uitvoere, direkte verkope of plaashekverkope in nie.

Hardin Ratshisusu, voorsitter van die varsproduktemark-navraagkomitee, se ondersoek het vyf vrugte- en ses groentesoorte ingesluit. Dit was appels, sitrus (lemoene en sagte sitrus), piesangs, pere, tafeldruiwe, aartappels, uie, wortels, kool, tamaties en spinasie.

Die navraag het alle aspekte van die varsprodukte-waardeketting – van primêre insette tot op klein- en groothandelsvlak – ingesluit. “Die doel hiervan was om enige aspekte of kombinasies van aspekte, wat die mark kan verdraai, te identifiseer,” sê Ratshisusu. Die kommissie het ook gekyk tot hoe ’n mate kleiner en voorheen benadeelde rolspelers aan die onderskeie markte kon deelneem.

Lees meer oor SAKO se nuwe voorsitter hier.

Voorstelle vir vryer mark

Uiteindelik het die kommissie 29 voorstelle gemaak oor aksies wat geneem kan word om die mark vryer te maak. Al lyk sommige voorstelle uiteindelik meer polities as prakties, het bedryfsleiers die Mededingingskommissie se voorlopige verslag oor sy 14-maande lange varsproduktemarknavraag verlede week verwelkom.

“Ek hou veral van die kommissie se voorstel dat die markte onder ’n nasionale sambreel bestuur moet word, maar dit is belangrik dat dit as vennootskap tussen die openbare en private sektor hanteer moet word,” sê Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA. “Dit was ook goed dat die navorsing beaam het dat sommige markte beter as ander bestuur word en dat dít opsigself die mark kan verwring.”

Jacobs het egter kommer uitgespreek oor die feit dat die kommissie voorgestel het dat die Landbouprodukte-agentskapsraad (Apac) leiding moet neem met die inwerkingstelling van talle van die voorstelle. “Ek weet Apac is reeds onder geweldige druk om hul portefeulje effektief te hanteer.” Apac is daarvoor verantwoordelik om alle varsproduk-, uitvoer- en lewendehawe-agente regoor die land te reguleer en die integriteit van daardie beroepe te bevorder.

Francois Knowles, registrateur van Apac, het op sy beurt die ondersoekverslag verwelkom, omdat dié tipe ondersoek sal uitwys indien Apac nie in lyn is met die verskillende behoeftes van die bedryf nie. Dit is ook ’n goeie toets vir Apac se integriteit. Hy wou egter nie verder kommentaar lewer nie, omdat die raad steeds besig was om die verslag te bestudeer. “Ons sal binnekort ’n dokument beskikbaar stel waarin ons kommentaar verwoord sal word.”

Insette

Die produksiemiddel waaroor die kommissie die meeste kommer uitgespreek het was saad. Stark Ayres, die land se grootste voorsiener van tuinbousaad, is versoek om die winsmarge op sy kool, tamatie en spinasiesaad te laat daal, sodat dit in lyn is met die ander saad in sy stal se winsmarges. Die kommissie glo dié hoë winsopslae het produsente direk benadeel.

Verder het die kommissie gevind dat die territoriale klousules in Bayer se verspreidingsooreenkomste ook mededinging kon ondermyn. Die voorstel is dat dié klousules uit kontrakte verwyder moet word. Daar is probleme met toegang tot saadaartappels uitgelig. “Dié probleem hou verband met die vroeë beëindiging van ’n saadvariëteit voor die verstryking van sy planttelersregte om te verseker dat mededingers dit nie ná die verstryking in die hande kan kry nie,” sê Ratshisusu.

Daarom is Simba, ’n onderafdeling van PepsiCo, aangeraai om FL2006 genetiese materiaal aan die Landbounavorsingsraad (LNR) beskikbaar te stel vir bewaring en om te verseker dat dit vir die publiek beskikbaar is. ’n Verdere probleem is egter die LNR se befondsingsprobleme. In sowel die aartappelsaad-kwessie as die LNR se befondsingsprobleme is kwessies wat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) se aandag vereis, volgens die kommissie.

Markagente

Onderlinge verwantskappe bestaan tussen twee van die grootste markagentskappe, RSA Groep en Subtropico, en die JSE-genoteerde beleggingsfirma, African Rainbow Capital. “Dié strukturele verwantskappe het ’n geneigdheid om onderlinge wedywering tussen Subtropico en die RSA Groep te laat vries,” sê Ratshisusu.

Verder was die kommissie ook bekommerd oor die feit dat kleiner produsente hoër kommissies aan markagente moes opdok as gevestigde en groter produsente.

Met betrekking tot markagente is die volgende aanbevelings gemaak:

  • DALRRD moet wetgewing aanpas om binne drie jaar die maksimum kommissies van markagente te reguleer. Verder moet buite die kommissie-struktuur oor die koste van vervoer, berging en verpakking onderhandel word.
  • Produsente moet verder deur Apac en die varsproduktemarkte verwittig word oor hul reg om met agente te onderhandel vir laer kommissietariewe.
  • Verder moet African Rainbow Capital sy aandele óf in die RSA Groep óf in Subtropico verkoop. Dié aandele kan slegs aan ’n maatskappy verkoop word wat óf in geheel deur voorheen benadeelde persone besit óf bestuur word.
  • Om te keer dat bedenklike praktyke – soos die bespreking van voorraad, agente wat self koopkaarte besit, verhandeling van voorraad buite markure en kredietverkope – voortduur, moet Apac ’n kode van beste praktyke ontwikkel en toepas.
  • Die kommissie glo verder dat die samestelling van Apac se raad tot moontlike konflik kan lei, omdat dit uit varsproduktemark-rolspelers bestaan. “Dit kan dit vir die registrateur van Apac moeilik maak om sy/haar verpligtinge na te kom as markagente gedissiplineer moet word, omdat hy/sy weer aan die raad verslag moet lewer.” Die kommissie het aanbeveel dat DALRRD die raad se samestelling moes heroorweeg.

Nasionale varsproduktemarkte (groothandel)

Die vervalle toestande by nasionale varsproduktemarkte, verskillende operasionele reëls, konsentrasie van markagentskappe en die lae toetreding van klein en voorheen benadeelde produsente en markagente was die hoofpunte van kommer vir die kommissie in dié deel van die navraag.

Die kommissie beveel aan dat:

  • Munisipaliteite en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) gesamentlik markte se bestuursmodelle moet hersien.
  • Markte ruimer vir kapitale belegging in infrastruktuur moet begroot – waar moontlik moet ’n groter deel van die munisipale begroting aan markte toegeken word.  
  • Varsproduktemarkte moet teikens stel sodat die jaarlikse verkope van kleinskaalse en voorheen benadeelde produsente sal verhoog. Dié teikens moet jaarliks met minstens 10% toeneem.
  • Munisipaliteite moet binne drie jaar hul bywette harmoniseer met betrekking tot handelsure, die oordrag van risiko van boer na verkoper, markagentreëls, die gebruik van koelberging en rypwordingsfasiliteite, geskilbeslegting en appèlprosesse en reëls rondom botsende belange.
  • Varsproduktemarkte moet ’n program instel vir die bekendstelling van nuwe voorheen benadeelde markagente (waar daar geen is nie) en om te verseker dat die histories benadeelde agente toegang tot hoogs verhandelde produkte (aartappels, uie, tamaties, en piesangs) by alle varsproduktemarkte het.
  • Groot, gevestigde produsente is aangemoedig om ’n program in te stel om te verseker dat voorheen benadeelde markagente aan hulle bekendgestel word en te verseker dat dié agente toegang tot hoogs verhandelde produkte by alle markte kry.
  • Apac is aangeraai om ’n meetbare ontwikkelingsprogram vir voorheen benadeelde produsente en verkopers te ontwikkel.
  • Dominante markagente volgens produklyn of algehele markaandeel per groot varsproduktemark moet bestuursooreenkomste met klein tot medium ondernemings of voorheen benadeelde markagente aangaan vir vaardigheidsoordrag asook opleiding oor die bestuur van die varsproduktemarkagentskapbesigheid. Die dominante agente, wat in die verslag genoem is, is die RSA Groep, Subtropico, Grow Group, Dapper en Prinsloo en Venter Markagente.
  • DALRRD moet die Wet op Landbouprodukstandaarde, 1990 (Wet 119 van 1990) binne drie jaar wysig om Apac se magte só uit te brei dat dit markagentskappe se voorheen benadeelde eienaarskap en -deelname kan reguleer. Dié regulering moet in lyn wees met die reeds gevestigde AgriSEB-raamwerk.

Kleinhandelpryse

Kleinhandelsprysvorming is nie deursigtig genoeg nie, omdat verbruikers nie maklik die pryse tussen alle kleinhandelaars kan vergelyk nie. “Die rede hiervoor is dat pryse nie per kilogram aangebied word nie, maar per eenheid.” Die kommissie wil dit graag verander hê.

Die hoë winsopslae, wat kleinhandelaars dikwels vir lang tye aaneen volhou, was ook kommerwekkend. “Hoë winsopslae kan ’n goeie aanduider van ’n tekort aan kompetisie in ’n mark wees,” sê Ratshisusu. Dié kwessie word tans in groter diepte ondersoek.

Sedert die kommissie se kleinhandelsmark-navraag kon geen nuwe toetreders die vier groot kleinhandelaars voldoende in inkopiesentrums uitdaag nie. Die tekort aan klein en voorheen benadeelde produsente-integrasie in die verskillende kleinhandelwaardekettings was ook ’n bron van kommer.

Die volledige verslag kan besigtig word by https://www.compcom.co.za/fresh-produce-market-inquiry/ en rolspelers word uitgenooi om tot 16 Julie 2024 op die voorlopige verslag kommentaar te lewer. – Koos du Pisanie en Susan Marais, Plaas Media

Must Read

94ste NWKV-kongres: Suid-Afrikaanse wolprodusente in die voorste produksielinie

Estimated reading time: 6 minutes Vanjaar se 94ste Nasionale Wolkwekersvereniging-kongres het gefokus op volhoubare wolproduksie en ’n indrukwekkende lys van belangrike sake wat regstreeks betrekking...