Monday, December 8, 2025

Massas water stuit nie NAMPO 2025

Estimated reading time: 5 minutes

Besoekers aan Graan SA (GSA) se 57ste aanbieding van die immergewilde NAMPO-oesdag, wat vanjaar van 13 tot 16 Mei op Nampopark buite Bothaville plaasvind, kan steeds uitsien na ’n propvol program. Dít ten spyte van swaar reën wat vroeër die week in die gebied uitgesak het.

Reën het veroorsaak dat massas water op Nampopark self en in omliggende gebiede opgedam het, wat aansienlike ontwrigting meegebring het. Volgens dr Dirk Strydom, bestuurder van bemarking en navorsing by Graan SA, is die Nampo-oesdag jaarliks ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse landboukalender en vanjaar gaan geen uitsondering wees nie.

Plaaslike sowel as internasionale besoekers kan steeds ’n indrukwekkende uitstalling van die nuutste tegnologie en produkte deur meer as 900 uitstallers, verwag.

Oorkombare uitdagings

Volgens dr Strydom is daar ná die deurdringende reënval geen skade aan vaste strukture op Nampopark nie. Daar is egter massas water wat in sekere dele van die terrein opgedam het, wat die toeganklikheid tot dié gedeeltes bemoeilik sonder dat verdere skade aanrig word. Hy verduidelik dat die massas water wel ’n impak op die voorbereidingswerk het, veral vir uitstallers wat hul groter strukture moet oprig. Dit skep ’n uitdaging vir dié wat reeds vroeg met die opslaan van tydelike strukture wil begin.

Gelukkig is die water besig om te dreineer, en daar is steeds oorgenoeg tyd vir uitstallers om hul voorbereiding af te handel. Dr Strydom sê hulle hoop nou op ’n paar sonnige dae om die situasie vinnig te verbeter. Hy meen dit is ietwat van ’n terugslag, maar GSA is vasbeslote en goed voorbereid om hierdie grootste en mees invloedryke landbouskou in die suidelike halfrond suksesvol aan te bied, met die fokus op die plaaslike toepassing van wêreldklas-uitnemendheid.

Viltrac-Viljoenskroon, wat ook landboutoerusting herstel, kon toerusting na veiliger areas verskuif. (FOTO: Dries du Preez)

Omliggende toestande 

Intussen is die R30 by die Viljoenskroon-afdraai onder water. Die R59 tussen Bothaville en Viljoenskroon is heeltemal onder water by Viljoenskroon se industriële gebied by die voerkrale, en dié pad asook die pad in die rigting van die lisensiekantore is verspoel.

Die R59 net ná die silo’s by Viljoenskroon is ook onbegaanbaar vir voertuie, en motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes deur Viljoenskroon self te gebruik om hierdie gedeelte van die pad te vermy. Die R721 (Vredevort/Kroonstad-pad) is ook onder water. Die R30 vanaf Bothaville, sowel as die roete vanaf Orkney na Nampopark, bly egter oop en toeganklik.

Die Viljoenskroon-gebied onder water.

Oorstromings

Cobus van Coller, ’n boer in die Viljoenskroon-distrik en voormalige voorsitter van Graan SA se NAMPO-komitee, sê die distrik het binne 48 uur tussen 70 en 120mm reën ontvang. Dit terwyl die grond reeds versadig was vanweë vorige reënbuie. Volgens hom het die gebied gemiddeld 270mm reën in April ontvang, en van Januarie tot nou staan die totale gemete reënval reeds op sowat 850mm. Hy verduidelik dat water begin opdam het en kon nog nie na van die vorige reëns weggesyfer het nie. Dit het daartoe gelei dat landerye met gevestigde graangewasse oorstroom het.

Hoewel die woongebied in die dorp self nie in gevaar is nie, is daar sake-ondernemings in die industriële gebied wat onder water is. Dries du Preez, eienaar van Viltrac-Viljoenskroon, ’n Case-handelaar wat onder meer landboutoerusting herstel, sê hulle is steeds besig om groot hoeveelhede water in en om hul geboue te dreineer. Geen van hul kliënte se landboutoerusting is beskadig nie, aangesien dit betyds na veiligheid geneem is, maar baie water in die geboue bly ’n groot kopseer.

Water stroom geboue binne by Viltrac-Viljoenskroon. (FOTO: Dries du Preez)

Japie Grobler, voormalige voorsitter van Graan SA en ’n boer langs Nampopark, sê die reënvalsyfers in dié gebied verskil nie veel van dié in die Viljoenskroon-omgewing nie. Hy sê ook die aanhoudende, deurdringende reënval vanjaar het daartoe gelei dat die grond  versadig is. Dreineringstelsels is vol, en landerye met oeste daarop is sopnat. Volgens hom lê daar uitdagende tye vir boere voor, maar ’n paar dae se sonskyn kan hopelik weer hoop bring.

Landerye in die Viljoenskroon-gebied is sopnat.

NAMPO: “Globale landbou, plaaslik”

Dr Strydom sê vanjaar se NAMPO-oesdag gaan beslis die nuutste wêreldwye landbou-innovasies ten toon stel wat alles vir Suid-Afrikaanse omstandighede binne ’n unieke plaaslike konteks aangepas is. Die tema van hierdie vlagskipgeleentheid is: “Globale landbou, plaaslik”, wat die klem plaas op hoe Suid-Afrikaanse produsente internasionale kennis, netwerke, en innovasie kan benut om plaaslike landbou te versterk.

Dit bied ’n tydige en relevante perspektief vir produsente om hul rol binne ’n vinnig veranderende wêreldlandbou-ekonomie te herbedink en herposisioneer. Daarmee saam skep die uitruil van idees, tegnologie en beste praktyke oor grense heen unieke geleenthede vir produsente om hul veerkragtigheid, mededingendheid, en volhoubaarheid te verhoog. Suid-Afrikaanse boere vorm deel van ’n wêreldwye kennisnetwerk, van klimaatslimpraktyke tot presisielandbou, maar bly steeds diep gewortel in hul plaaslike gemeenskappe en grond.

Kaartjies vir NAMPO 2025 is reeds aanlyn op Opentickets se webtuiste beskikbaar. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 1 tot 5 Desember

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

RSG Landbou: 8 Desember 2025 – geborg deur BKB

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor haarwurm en ons gesels met Rensgrow Beefmaster oor hulle boerdery. Haarwurm Het jy geweet, haarwurm is...

LandbouRadio: 8 Desember 2025

In Maandag, 8 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Prof Michiel Scholtz, spesialisnavorser by die Landbounavorsingsraad, praat oor die klimaatslim beesvleiswerkswinkel wat...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas Trywell in Carnarvon, was die naaswenner van die Noord-Kaapse Jongboer...